top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 14 Junie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (107)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vyfde toespraak: Ellende-aankondigings teen die skrifgeleerdes en Fariseërs (8)

(Matt. 23:1-36)


Jesus veroordeel huigelary (2)

(Mark. 12:40; Luk. 11:39-42; 20:47)


Om reg te dóén moet jy reg wéés!


Matt. 23:15 – “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy dit word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle self is.”


Vergelyk ook Rom. 2:17-20 – “Jy, jy sê jy is ‘n Jood, jy verlaat jou op die wet van Moses, jy beroem jou daarop dat God jou God is, jy ken sy wil en jy onderskei die dinge waar dit werklik op aankom, omdat jy deur die wet onderrig word. Jy is daarvan oortuig dat jy ‘n gids vir die blindes is, ‘n lig vir dié wat in die duisternis is. ’n leermeester van dié wat onkundig is, ‘n onderwyser van dié wat niks weet nie, omdat die wet vir jou die samevatting is van kennis en waarheid.”


Jesus se tweede ellende-uitspraak het met die sendingywer van die kerkleiers te doen. Die Fariseërs het graag ander mense, veral Grieke en Romeine, tot die Joodse-geloof oorgehaal. In hierdie tyd het sommige van die Grieke en Romeine hulle verskillende gode begin bevraagteken, en in hulle soeke na net een ware en lewende God, “bekeerlinge” in die Joodse-geloof geword. Hulle is ook Proseliete genoem (heidene wat fanatiese aanhangers van die Joodse-geloof geword het.)


Daar word vermoed dat hierdie ‘n bloeitydperk vir die Judaïsme was en sendingwerk aan die orde van die dag was. Dit was egter nie maklik om van iemand, veral ‘n heiden, te verander in ‘n Jood, ‘n proseliet wat die Judaïstiese kultuur en godsdiensgebruike moet aanhang nie. Dit is ver weg van bekering en om ‘n kind van God te word. Om iemand na jou mening en jou manier van wees en dinge doen, oor te haal, is beslis nog nie te sê daardie persoon is dan ‘n gelowige nie.


Die teenstrydigheid van die Fariseërs se pogings, het Jesus daartoe gelei om hulle “huigelaars” te noem. Hulle het voorgegee om die deur vir die proseliete na God se koninkryk oop te sluit, maar intussen het hulle probeer om van hulle Jode te maak. Die eerste eis wat die Fariseërs aan die proseliete gestel het, was om besny te word. Daarna het die eise een na die ander gevolg. In plaas daarvan dat mense bevry en gelei word om in ‘n verhouding met God te leef, word hulle vasgevang in die “sekte” van die Fariseërs se honderde moets, moenies en behoorts. Die Fariseërs was meer gesteld daarop om mense in die regte “kerk” te kry as om hulle na Jesus Christus toe te lei. Ellende wag op hulle omdat hulle ander leer om net soos hulle, én erger te wees.


Die Jode, (afkomstig van Judeër), het sedert hulle terugkeer uit die ballingskap, hulle meerderwaardig teenoor ander nasies, (die heidene), beskou. Vir hulle was die naam “Jood” ‘n erenaam as aanduiding van die hele Israel. In plaas daarvan dat Israel hulle onderskeidenheid van ander volke in diepe nederigheid aanvaar het as onverdiende geskenk van God se genade, het hulle egter daarin ‘n grond gevind vir vleeslike roem en selfverheffing bokant ander – ‘n Godgewe roeping het verander in ‘n stuk menslike trots. Die vroom Jood het selfversekerd gespog dat hulle God “besit” omdat hulle kon steun op die wet, hulle “verlaat het op die wet van Moses.” Maar wanneer dit egter lei tot selfverheffing en nie dat dit enkel uit genade is, en dat dié genade ‘n mens verplig tot ‘n lewenswandel in ooreenstemming met die genade nie, is alles skeef getrek. As hulle dit besef het, sou hulle dit immers in nederige dankbaarheid ontvang het.


Die Fariseërs en skrifgeleerdes was die vromes, die godsdienstiges en die ordentlikes wat só graag volgelinge wou kweek om by hulle “Joodse-geloof” in te skakel, dat hulle vergeet het om seker te maak hulle is nie op ‘n dwaalspoor nie. Hulle het gedink dat hulle sélf kan regkom en gereken dat hulle net die regte medisyne het vir hul sondepyne en het niemand anders nodig om hulle die regte pad te wys na God toe nie. Dit is juis hulle wat Jesus gekruisig het: Vroom en godsdienstige mense met ‘n vaste sisteem van reg en verkeerd, goeie kerkmense. Die probleem egter is dat dit mense is wat nie in ‘n verhouding met God gestaan het nie. Hulle wat ander mense wat nie die wet van God gehad het nie, “bekeerlinge moes maak”, het die eer van God verwerp! In plaas van “om ‘n bekeerling te maak, maak hulle hom twee maal so ryp vir die hel as wat hulle self is.”


Dit is altyd moontlik om deur ons optrede, Christus aan ander te wys. Dit is nie nodig om ‘n bordjie om ons nek te hang wat lees “vroom,” of “godsdienstig” of “voorbeeldig” nie. Wanneer God se eer op die spel is, is daar nie plek vir selfverheffing nie. Ek en jy moet net seker maak God Drie-enig staan in die middelpunt van ons lewe. Dit is dan die tyd om na God se stem te luister. God ken ons immers. Ons hoef ook nie almal te ken nie – Gód ken hulle. Dit is nie nodig om die evangelie aan iemand anders af te dwing nie. Indien hulle dit nie wil aanvaar nie, sal God die nodige rekenskap by húlle eis – God sal oordeel. Ons kan ten volle op God vertrou en minder op onsself en ons vermoëns, staatmaak. Ek en jy moet net die saadjie saai, die Heilige Gees sal natgooi.

“It is always possible to show men Christ; and the weakness of the church lies not in lack of Christian arguments, but in lack of Christian lives.” (William Barclay).


Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, daar is baie keer dinge wat my ontstel en my hartseer maak, veral wanneer mense onbetrokke staan teenoor U. Soms is dit goeie mense wat nie die luukse van U liefde wíl ken nie. Laat ek dan egter nie moeg word om die lig van U vreugde en vrede oor te dra, aan hulle wat aan die skadukant van die wêreld wil lewe, nie. Mag die lig van die liefde waarmee U my oorlaai, oorloop na ander, sodat hulle ook U warmte sal ervaar. Gee dat die stempel van U teenwoordigheid sal agterbly waar ek in U Naam was. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page