Gedagte vir Vandag

Donderdag, 10 Junie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (105)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vyfde toespraak: Ellende-aankondigings teen die skrifgeleerdes en Fariseërs (6)

(Matt. 23:1-36)


Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs (6)

(Mark. 12:38-39; Luk. 11:43-46; 20:45-46)


Hoogmoed pas nie by ‘n Christen nie!


Matt. 23:11-12 – “Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. Wie hoogmoedig is, sal verneder word; en wie nederig is, sal verhoog word.”


Vergelyk ook Spr. 6:16-19 –Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het: oë wat straal van hoogmoed, 'n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, 'n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers.”


Hoogmoed is die toppunt van God se lys van dinge wat Hy haat, wat Hy eintlik deur harde woorde verafsku: “Ek haat hoogmoed en hovaardigheid” (Spr. 8:13); “Die Here het ‘n afsku aan ‘n verwaande mens” (Spr. 16:5); “Julle moet nie in hoogmoed bly praat nie, moenie aanmatigende dinge sê nie” (1 Sam. 2:3); “Op hoogmoed volg ondergang , op selfverheffing volg die val” (Spr. 16:18); “Die Here breek die hoogmoedige se huis af” (Spr. 15:25). Dit is dan eintlik geen verrassing nie as Salomo vir ons in ons vergelykende teksvers hoogmoed heel bo op Sy lys plaas: “Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het: oë wat straal van hoogmoed ...” Ons het regtig geen rede om hoogmoedig of arrogant te wees nie. Rede tot dankbaarheid is al wat ons wel kan hê, dankbaarheid vir alles wat God aan ons, onverdiend gegee het.


God wat alles van ons weet, verafsku hoogmoed want Hy weet dat hierdie sonde, die mens laat ly aan vergeetagtigheid en daarom ons waarsku: “Wanneer jou goud en silwer al hoe meer word, raak jy so hoogmoedig dat jy van God vergeet” (Deut. 8:13-14). Hoogmoed laat ons koppe swel en ons breine krimp! Klink dit onlogies? Inteendeel, voorspoed en aardse besittings skuif God uit tot op die kantlyn – sukses skep by menigte mense die indruk dat hulle sélf alles kan vermag, sélf oorleef, sélf tot alles in staat is – dat ons nie God nodig het nie. Dan vergeet ons dat God ons ook uit niks geskep het; dat ons van stof gemaak is; dat ons van sonde en eintlik, van onsself gered is; dat ons almal sondaars is en almal voor God gelyk is; dat ek en jy, “ons dan nie bo die ander takke verhef nie of verbeel ons is iets nie: dit is nie ons wat die wortel dra nie, die wortel dra ons” (Rom. 11:18).


Mense is skuldig aan hoogmoed wanneer hulle so seker is van hulle eie vermoëns dat hulle feitlik geen respek vir God of hulle medemens toon nie. Hulle wêreld draai om hulle eie egos. Wat eintlik nodig is, is om weer by die voet van die kruis te gaan staan en te besef dat Hy wat die Almagtige is, wat alles geskep het, het gekies om eerder vir ons te sterf as om sonder ons te leef! As ons dan wil roem of hoogmoedig wees, kom ons roem saam met Paulus: “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld” (Gal. 6:14).


Die probleem egter van hierdie selfverheffing, is dat mens vinnig net soos die wêreld word, lyk en praat – ‘n wêreld wat mens só insuig en verswelg dat jy later sonder God begin leef. Die wêreldvreugdes sluk jou onbewustelik in dat jy jouself nie meer in die spieël kan erken nie. Met ons menslike swakheid van hoogmoedigheid en selfsugtige belange, staan ons skuldig voor God met GROOT sondes en is dit maklik om te sê: “Die duiwel het my so gemaak.” Die waarheid is egter, ons het dit toegelaat!


Met die genade van God kan ons ‘n suksesvolle aksie loods teen die invloed van die duiwel sodat Hy van ons sal wegvlug. Om hierdie bose kringloop van onder andere, selfsug en hoogmoed, met die duiwel te verbreek, gee Jakobus ‘n besliste en uitnemende instruksie: “Onderwerp julle dan aan God” (Jak. 4:7). Kom tot inkeer – kies die heilspad want die blydskap en genot van die wêreld eindig in droefheid – ons toekoms by God word op die spel geplaas. Selfvernedering voor God deur skulderkenning en ’n besef van afhanklikheid, is die mens se verpligting.


Jesus wil graag welkom wees in ons lewe. Hy klop en wag dat ons oopmaak en Hom innooi. Hy forseer Homself nie af op enigiemand nie, dis my en jou eie keuse of ons nie te hoogmoedig en selfverheffend is om Sy stem te wil hoor en Hom nie innooi nie. As ons egter Sy stem hoor en die deur oopmaak, sal Hy saam met ons ‘n feesmaal hou (Op. 3:20). God se reaksie hierop is oorweldigend. Hy buig telkens af na ons toe – “As ons tot God nader, sal Hy tot ons nader” (Jak. 4:8). Hy verneder of verwyt ons nie, maar “Hy verhoog ons” (Jak. 4:10) as Sy kind. Hy maak ons nuut! Dáároor kan ons weer uitbundige lewensvreugde ervaar sonder om hoogmoedig te wees. Ware grootheid lê juis in nederige diens aan mekaar.


“Solank hoogmoed in ‘n mens se hart woon, kan jy God nie sien nie” (C.S. Lewis).


Gebed: Here, wanneer ek vasklou aan my vernaamheid en my ego só groot raak dat ek God nie meer raaksien nie, wys my deur my geestesoog, hoe U besig is om U dissipels se voete te was. Dankie Jesus dat alles in my verander wanneer U deur u Gees my lewe betree. U bring nie net ‘n paar kosmetiese veranderinge in my lewe in nie, U verander my behoorlik – ‘n splinternuwe hart en ‘n kop wat anders dink en optree teenoor God en my naaste. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon