Gedagte vir Vandag

Woensdag, 9 Junie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (104)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vyfde toespraak: Ellende-aankondigings teen die skrifgeleerdes en Fariseërs (5)

(Matt. 23:1-36)


Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs (5)

(Mark. 12:38-39; Luk. 11:43-46; 20:45-46)


Wees tot seën vir ander!


Matt. 23:11-12 – “Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. Wie hoogmoedig is, sal verneder word; en wie nederig is, sal verhoog word.”


Vergelyk ook Luk. 18:9-10 – “Met die oog op mense wat seker was dat hul eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: ‘Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander een ‘n tollenaar ...”


Ons het die afgelope paar dae tot die gevolgtrekking gekom, Christen-wees is ‘n liefdesverhouding. Dit is ‘n “anderse” verhouding as wat die kerkleiers van destyds met die mense gehad het. Wanneer ‘n sondaar gered word, tot bekering kom, kom hy of sy in ‘n liefdesverhouding met die Here te staan. Hy is die Bruidegom en ons, Sy kerk, is Sy bruid (Op. 19). Ons verander omdat Jesus ons oproep tot konkrete en praktiese dade van diens en nederigheid teenoor mekaar (Joh. 13:17). Deur die gesindheid van Jesus Christus in hierdie wêreld te openbaar; deur waardering en lof vir ander te betuig, ook vir ons kerkleiers; deur geloof in ons medemens te hê, vir hulle te bid, te bemoedig, kan ek en jy – in God se wêreld – ‘n ryke seën wees tot eer van Sy Naam. Die seën wat God ons skenk, mag nie tot ons beperk bly nie, “ons moet bereid wees om ander te dien.” Ons weet miskien nie altyd hoe nie, maar God weet!


Ons het geen grond vir selfverheffing oor enigiemand of rede tot hoogmoed nie. Ons besef dit wanneer ons die oorbekende gelykenis van Jesus lees wat twee mense kerk toe bring – ‘n Fariseër en ‘n tollenaar. Ons aanvanklike gedagte is dat ons presies weet waaroor dit gaan – die hoogmoedige Fariseër teenoor die nederige tollenaar. In ons gedagtes het ons dalk ook reeds kant gekies en klaar besluit ons hou nie van die verwaande en hoogmoedige Fariseër nie. Ons het heel moontlik hom ook al klaar veroordeel en die tollenaar as die held verklaar. Om die gedagte-prentjie te voltooi het ons heel moontlik reeds name van kennisse in ons daaglikse omgang, by hierdie twee gevoeg. Dankie tog, ek is nie soos die Fariseër en daardie kennisse nie! Of is ek?


Jesus praat soos baie van ons dink – Hy veroordeel óók die Fariseër. Maar Jesus …, met respek, is dit nie vreemd nie want eintlik is die Fariseër nie so slegte ou nie? Hy aard in baie opsigte na baie van ons en is selfs ‘n voorbeeld vir baie Christene van vandag. Die Fariseërs was die godsdienstige mense van daardie tyd soos ons kerkmense die godsdienstige mense is van ons tyd.


Daarenteen is die tollenaars eintlik onverskillige mense, die wêreldse mense van ons tyd. Die Fariseër was die geestelike man wat nie geskroom het om enige plek die Here aan te roep nie, terwyl die tollenaar die vleeslike man is wat bekend was vir hulle skelmstreke en bedrog wat hulle gepleeg het. Die Fariseërs was meestal rein in hulle lewe en het hulle godsdiens en aanbidding van God met erns beoefen. Die tollenaars was volksverraaiers in diens van die Romeinse regering. Hulle het nie geskroom om hulle eie volksgenote in te loop en te verneuk nie.


Selfs met hulle gebede kan ons hoor dat die Fariseër die gereelde kerkbesoeker is terwyl die tollenaar waarskynlik baie ongereeld in die kerk gekom het – die sogenaamde DDT lidmate van vandag, die Doop, Dood en Trou lidmate. Hulle kom net kerk toe wanneer daar iets op hulle gegooi word – water met die doop, konfetti met die troue en grond met die dood. Die Fariseër het gereeld elke dag ten minste drie keer gebid terwyl ons kan aflei dat die tollenaar net gebid het as hy in nood was. Die Fariseër dank God in sy gebed terwyl die tollenaar net VRA!


Die Fariseër was dus nie so slegte ou nie en behoort ons hom toegee wat hom toekom. Mens wil amper selfs sê, ons sou dalk beter daaraan toe gewees het as ons vandag meer Fariseërs in die kerk gehad het en minder tollenaars. Meer mense wat erns maak met hulle godsdiens, wat ywerig is in hulle godsdiens, wat die Bybel bestudeer en lojaal is in hulle godsdiens. Minder tollenaars wat bloot met leuens en bedrog hulle lewens deurbring, en wat eintlik maar net as die krisis in hulle lewe werklik groot is, aan die Here dink.


Wat is Jesus se punt dan? Waarom het Jesus die uitspraak gemaak dat die tollenaar weggegaan het as iemand wie se saak met God reg is. Die geheim van Jesus se storie lê in die eerste vers daarvan. Daar lees ons: “Met die oog op mense wat seker was dat hul eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel …” Die Fariseër se fout was dat hy homself nie voor God gesien het nie, maar langs die tollenaar, en toe lyk hy skielik baie groot in sy eie oë. Hy dank God eintlik net oor alles wat hy het en die mooi eienskappe wat hy besit. Hy gee homself punte vir sy godsdiens en geloof en in sy oë slaag hy die toets. Volgens sy godsdienstige lysie is al die boksies met selfvertroue, korrek afgemerk en net as ‘n kantlyn aantekening, dank hy God terloops daarvoor.


Is dit nie maar ‘n heenwyser na ons eie situasie nie? Is baie van ons nie soms ook soos hierdie Fariseër nie? Kan ons eerlik ontken dat ons nie al onsself dikwels gemeet het aan die lewe van ander mense nie? En so bepaal ek en jy ons eie waardes – deur te let op die waardeloosheid van ander – o ja, dis net genade. Maar genade verdoof niks – dit vlek oop, dit ontmasker, dit lê bloot al wat ʼn skande en ʼn skaamte is wat ons om die dood nie wil hê ander moet ons storie ken nie, veral nie kerkmense nie. Genade proe die ene kruis, lyk na bloed en ruik na die dood. Dit sit die ligte af op my en jou prestasies, ons trots, ons hoogmoed en fokus in op ons verleentheid. Genade is nie die gemaklike “default” opsie nie, dis nie die maklike uitweg nie, dis nie geloof se gemaksone nie.


Genade sê ons is nie goed genoeg nie, ons het so drooggemaak dat ons nie meer self daar kan uitkom nie. Genade laat ons besef ons sal elders ʼn regmaker moet loop soek. Ek en jy het IEMAND anders naas onsself nodig. Ons gaan moet, net om weer met onsself te kan saamleef, eers op IEMAND anders moet reken. Ek en jy moet weer leer ons is afhanklik, afhanklik en gestroop van ons hoogmoed, aan God se genade wat stukkende mense aanmekaar sit. Ek en jy moet egter eers stukkend wees voor genade soos medisyne voel, voor die regmaker “inskop”, en ons IEMAND anders gevind het – JESUS CHRISTUS, ONS HERE!


“Net die duiwel sien die hoogmoed wat in jou hart groei omdat jy tog só góéd is!” (C.S. Lewis).


Gebed: Hemel Vader, terwyl ek U dank vir U genade dat U my so ‘n modelmens gemaak het, moet ek nie vergeet van my eie misvormdheid, onvergeeflikheid en onversoenlikheid en misgrype in die lewe nie. Weerhou my om my tydelike waardes teenoor ander te meet en eerder dit aan U waardes te koppel – ewigheidswaardes! Laat my onthou Here, dat U my gemaak het om my naaste lief te hê en nie hoogmoedig op hulle neer te sien nie. Laat “dieselfde gesindheid in my wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, wat sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy Homself verneder het deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” (Fil. 2:5-7). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon