top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 8 Junie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (103)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se vyfde toespraak: Ellende-aankondigings teen die skrifgeleerdes en Fariseërs (4)

(Matt. 23:1-36)


Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs (4)

(Mark. 12:38-39; Luk. 11:43-46; 20:45-46)

Eer vir ons kerkleiers!


Matt. 23:8-11 – “Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie. Net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus. Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. Wie hoogmoedig is, sal verneder word; en wie nederig is, sal verhoog word.”


Soos ons reeds genoem het, is Jesus besig met Sy vyfde en laaste toespraak en het Hy daarmee begin deur ‘n rits ellende-aankondigings (23:1-36) teen die skrifgeleerdes en Fariseërs te bring. Die gesprek vind plaas in die tempel waar Jesus dit met voorbeelde wat betref kleredrag, ereplekke om te sit en titels van respek, illustreer. Die “gebedsbande” (gebede in dosies aan hulle voorkoppe) is ekstra groot sodat die volk se bewonderende en vererende blik hulle "uitstaande" optredes kon sien en dit hulle altyd belangrik en vroom laat voel het. Gevolglik lê hulle baie klem daarop en rig hulle lewe so in dat die mense hul uitsonderlikheid moet raaksien. Eintlik het hulle ware krag gelê in die onseker bodem van dit wat mense van hulle dink!


Vervolgens waarsku Jesus teen eretitels waarin drie keer ’n negatiewe bevel gevolg word deur ’n positiewe versekering dat daar “net Een werklike Leermeester/Vader/Leier” is en wat afsluit met die waarskuwing dat

dissipels nie “leiers” genoem moet word nie, omdat “die Christus” (die Messias) hulle Een “Leier” is. Hierdie opdrag moet ook nie letterlik en buite verband verstaan word asof sulke terme hoegenaamd nie onder ons gelowiges gebruik mag word nie, aangesien sulke titels tog elders voorkom (Hand. 13:1; 1 Tim. 2:7), ook vir ’n natuurlike en geestelike vader (1 Kor. 4:15).


Die punt hiervan is nie dat daar geen onderskeidingsteken mag wees tussen medegelowiges in die liggaam van Christus nie, maar dat niemand hom- of haarself mag aanstel daaroor nie. Hoekom nie? Want almal van ons is afhanklik van God vir alles. In Jesus se kerk speel eretitels, rangorde en hiërargiese strukture geen rol nie. Tussen ware gelowiges is daar nie leermeesters van hierdie bedenklike aard nie. Daar mag nie vaders en leiers wees wat 'n plek tussen God en sy volk inneem nie. In daardie kring waar Hy die Leier is, moet almal mekaar dien. Jesus het Hom baie sterk uitgespreek teen hierdie soort statusbewustheid onder die godsdiensleiers van Sy dag, want Hy het geweet dat geen geestelike leier een tree nader aan God staan as enige ander gelowige nie. God het nie witbroodjies nie (Rom. 2:11). Al Sy kinders is vir Hom ewe kosbaar.


In die koninkryk van God en in die kerk is ons almal gelyk. Van ons almal word gehoorsaamheid aan die wil van die Here gevra. Natuurlik kan van leiers gevra word om hierin ‘n goeie voorbeeld vir die medebroers en susters te stel. Ons moet egter oppas om nie die fout te maak om te vergeet dat kerkleiers net soos ons almal, feilbare mense is. Ons kan soms onnodig krities en sonder vergifnis wees teenoor leiers en hulle beskinder en beswadder asof ons dan soveel beter daaraan toe is.


My gedagtes gaan nou terug na die “ou dae” toe dominees en pastore “belangrike mense” was. Niemand het dit gewaag om hulle op hulle voorname aan te spreek nie. Selfs dominee se vrou was “mevrou dominee.” Dit behoort eintlik nog dieselfde te wees om eer aan ons geestelike leiers te bewys en vir hulle te bid. Weer eens nie omdat hulle sodanig belangrik is nie, maar om God te dank dat Hy doodgewone mense met hemelse gawes toerus sodat hulle ons lewe geestelik kan verryk. Ag, en om so nou en dan hulle te bedank vir ‘n mooi preek wat jou en my geestelik aangeraak het, is ook nie verkeerd nie. Onthou, hulle is ook net mense en dit is bemoedigend vir hulle ook om te weet hulle is nog op die regte koers.


Daar is ongelukkig baie mense wat geneig is om ons geestelike leiers te kritiseer in plaas van om eerder raak te sien wanneer hulle die regte dinge doen wat tot God se eer strek. Baie mense is vinnig om te kla dat die dominee of pastoor jare laas by hulle aan huis was. Bitter min mense besef die dominee of pastoor se werkslas. Dis moeilik om ‘n hele gemeente se lidmate op hulle hande te dra en nog tussendeur die evangelie ook te verkondig. Buitendien, dominee of pastoor is elke Sondag op die kansel, gaan kuier vir hom of haar daar. Dalk het hy of sy nog ‘n boodskap uit God se Woord vir jou. Dit is tog hulle primêre taak om God se Woord te verkondig en te bid. Dit is waarvoor God sy aardse geestesleiers roep en toerus.


Daarom is dit belangrik dat ek en jy wat geleer het om by die voete van ons groot Leermeester te sit, van beter te weet, veral om eer aan hulle te bewys. Die sekere wete dat Christus Jesus deur die Gees in ons leef, kan ‘n geweldige geestelike omwenteling in ons lewe meebring. Die Gees inspireer ons denke, skep in ons nuwe hoop en entoesiasme en gee sin vir ons lewe. Kom ons aanvaar dan die volle verantwoordelikheid van ons geloof in Jesus Christus, aanvaar die Gees as my en jou Leermeester en tree op volgens Sy voorskrifte, en met Sy hulp, in liefde op teenoor ander, veral ons kerkleiers. Kom ons bid gereeld vir hulle en hou hulle arms hoog. Ons moet opkyk na ons kerkleiers vir leiding en rigting vanuit God se Woord. Die Bron van hierdie liefde is God self, Jesus Christus het dit aan ons gedemonstreer as ons Leier en die Heilige Gees bevestig dit in ons hart.


“Die mens wat werklik liefhet met die liefde van Jesus Christus, skep ‘n paradys op aarde: hy het God in sy binneste, want God is liefde” (Robert de Lammanais).


Gebed: Hemel Vader, dankie dat U my leer dat ware grootheid juis lê in nederige diens aan mekaar. Vul my hart met U liefde vir ons geestelike leiers. Dankie Here dat U juis hulle in staat stel om vir ons gemeentelede en ander tot seën te wees omdat U seën in hulle lewe so oorvloedig is. Laat U gesindheid uit my straal sodat dit tot U eer voortdurend tot hulle weerspieël. Inspireer my denke, skep in my nuwe hoop en entoesiasme en gee sin vir my lewe. Ek bid ook vir elkeen wat op die kantlyn staan van ongeloof en kritiek, dat hulle ook sal besef dat die bloed van Jesus Christus al hierdie voorregte vir ons by God verdien het. Onderwerp elke kritikus aan U liefde om hulle te dring tot wederliefde en oorgawe aan U, ons Leier. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page