top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 12 Mei 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (84)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (30)

(Matt. 21:1–22:46)


Die vraag oor betaal van belasting (1)

(Mark. 12:13-17; Luk. 20:20-26)


Die eis van goeie Christenskap.


Matt. 22:15-17 – “Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met ‘n vraag in ‘n val te lok. Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met ‘n aantal Herodiane om vir Hom te sê: ‘Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”


Die Fariseërs het desperaat geraak met Jesus en wou Hom ten alle koste vastrek. Hulle beraam vervolgens ’n plan wat in die vorm van drie vrae aan Jesus gerig word. Dit volg op hulle vraag van kort tevore oor Jesus se gesagsoptrede en die drie gelykenisse wat Jesus in antwoord daarop gegee het – gelykenis van die twee seuns (Matt. 21:28-32); die boere in die wingerd (21:33-46) en die bruilof (22:1-14). Met die drie gelykenisse het Jesus hulle totaal veroordeel en dit selfs gewaag om heidene met hulle op dieselfde vlak te stel (21:28; 22:14).


Hulle eerste vraag handel oor “belasting aan die keiser.” Die vraag kom met 'n politieke angel. Die Fariseërs en die Herodiane was geswore vyande. Maar hier span hulle gemaklik saam waar Jesus die doelwit is, hulle gemeenskaplike “vyand” is! Die volksleiers gaan met 'n gesamentlike poging Jesus aanval om Hom finaal te breek. Die Fariseërs was teen Herodus gekant omdat hy nie van suiwer Joodse afkoms is nie en volgens die Jode ‘n pion van die Romeine was. Die Herodiane is 'n Joodse politieke party wat aan koning Herodus goedgesind was.


Hulle doen hulle voor asof hulle vir Jesus ‘n hoë bewondering het en Hom nou met opregte vriendskapsbedoelinge nader. Hulle onopregtheid blyk al dadelik as ons dink dat hulle Sy gesag as leraar in twyfel trek, maar Hom nou aanspreek as “Meneer!” Hulle probeer ‘n onskuldige indruk skep en dit klink vir ons selfs dat hulle probeer om heuning om Jesus se mond te smeer: “Ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie.”


Wat hulle van Sy onafhanklikheid en insig in die waarheid en onbevreesdheid sê, is alles waar, maar in hulle mond klink dit na spotterny. Hulle bedoeling is om Jesus aan te spoor tot ’n vrymoedige uitspraak. Die vraag of dit “reg is om aan die keiser belasting te betaal”, is baie slim geformuleer en is bedoel om 'n "ja" te ontlok. Dit sal Hom skuldig maak voor die kerkleiers. Hy sou Sy volk wat kreun onder die Romeinse besettingsmag en wat streef na hulle eie reg en selfbeskikking, verraai en hulle sal Jesus as volksvyand verwerp. Sê Hy "nee", sal die Herodiane Hom gaan verkla van opstand teen die keiser. Dit sou beteken dat Hy in opstand teen die Romeine se wette is en Homself uitlewer aan die gepaardgaande straf.

Die vraag wat gestel word, was vir die destydse Jode aktueel. Die hoofbelasting wat na die onttroning van Archeláus in 6 nC opgelê is, is deur die volk met smeulende protes in die hart verdra omdat dit beskou is as bewys van diensbaarheid aan die Romeine. Onder die Jode was daar egter uiteenlopende menings oor die belasting. Die Selote beskou die betaling daarvan as ’n verloëning van God, die Alleenheerser van Israel; die Fariseërs huldig ’n lydelike verset: God het aan hulle die las opgelê en nou moet hulle wag totdat dit Hom behaag om dit weer op te hef. In teenstelling daarmee verlang die Herodiane besliste eerbiediging van alle bepalinge wat Rome dit goed vind om op te lê. In sulke omstandighede sou die vraag moeilik beantwoord kon word sonder om die een of ander groep aanstoot te gee.


Sou dit nie maklik wees vir ons om in die Bybel te kon naslaan en ‘n duidelike antwoord kon kry op hierdie vraag oor belasting nie? So is dit egter met alle vrae: teoreties klink hulle maklik maar wanneer ons dit in die praktyk stel, sien hulle heeltemal anders daarna uit. In die kerk van die Here gaan dit nie om aansprake, regte en 'n sekere posisie voor of teenoor ander nie. Die koninkryk van God is nie gekant teen aardse ryke nie. Daarom moet ons gelowiges Jesus se voorbeeld volg en ons ook aan aardse gesag onderwerp, al is dit teen ons sin. Christenskap en goeie landsburgerskap gaan hand aan hand. Dit beteken natuurlik nie dat ons politieke leiers blindelings moet volg nie. Solank dit nie van ons verwag word om ons geloof in Jesus Christus, die Seun van God, te verloën nie, want ons is in die eerste plek ‘n Christen, voordat ons ‘n burger van een of ander land is!


“Daar is klein verskille tussen mense, maar daardie klein verskille maak ‘n groot verskil. Die klein verskil is gesindheid. Die groot verskil is of dit positief of negatief is” (Clement Stone).


Gebed: Here Jesus, dankie dat U aarde toe gekom het en aan ons die voorbeeld kom stel het om te dien en nie gedien te word nie. Help my asseblief om in U voetspore te volg. Here, ek is jammer dat ek dikwels nie gehoor gee om myself aan gesag te onderwerp, veral as dit mense is wat U nie erken nie, mense wat hulle gesag misbruik en eerder daarop uit is om hulleself te verryk. Ek bid dat hulle ook die volledige prentjie sal sien, die prentjie van ‘n opgestane en lewende Jesus wat ons kom leer het om te dien. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page