top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 11 Mei 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (83)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (29)

(Matt. 21:1–22:46)


Die gelykenis van die bruilof (6)

(Luk. 14:15-24)

Speel met ons vingers in ons name van God se fondasie!


Matt. 22:13-14 – “Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ ‘Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”


Vergelyk ook 1 Tim. 1:9 – Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.”


Wat vertel hierdie teks ons oor die uitverkiesing? Die uitverkiesing werk volgens ons gelykenis soos hierdie uitnodiging na 'n bruilofsfees. Alle mense word genooi, “slegtes en goeies” (v. 10). Sodat ek en jy nie dink ons om een of ander rede in onsself voor ander, by God staan omdat ons oulik is nie. Ons teks lees alle mense word deur God geroep. Sommige neem die uitnodiging aan en ander weier dit of ignoreer dit. In die aanvaarding van die uitnodiging word ons uitverkiesing eers werklik.

Soms voel dit vir my of niks in die wêreld meer vas is nie. Elke persoon wat agter ’n mikrofoon staan, dink hy of sy het die antwoord. Glo net dit. Doen net dit. Hoop net dit. Dan sal alles weer reg loop. Of dit nou geloofsake of landsake of finansiële sake is, die somme maak nie altyd sin nie. Dan raak ek onrustig en slaap nie lekker nie. Die vrae is meer as die antwoorde. Soms ontstel dit my só dat ek visieloos rondstrompel met ’n swart wolk wat oor my hang. Ek wonder of dit soms met jou ook gebeur?


Wanneer ek my in sulke omstandighede betrap, weet ek dat ek my na God se Woord moet haas. Dan besef ek gou dat ek toegelaat het dat die wêreld se omstandighede my wese binnegedring het en dat ek toegelaat het dat dit my kop onderstebo laat hang. Indien dinge in ons lewe begin skeef loop, soos van tyd tot tyd met ons almal gebeur, is dit maklik om onsself aan wanhoop oor te gee en te dink dat die lewe ‘n ongelyke stryd geraak het en dat dit onmoontlik lyk om aan oorwinning te dink. Daar was ‘n dag toe alles totaal verlore gelyk het toe Jesus Christus gekruisig is, toe die Een wat as Verlosser beskou was, op ‘n brutale manier soos ‘n misdadiger gebreek is en gesterf het. Maar toe tree God in en omskep die skynbare nederlaag van Goeie Vrydag, in ‘n triomfantelike oorwinning van Opstandingsondag!


Ons lewende God van die Bybel is nie emosieloos nie. Hy is heeltemal anders as die mens wat opvlieënd, selfgerig, magsbehep en wraaklustig is. God is liefde – God hét ons lief! Hy word wel bedroef en kwaad maar Hy bly altyd dieselfde in Sy genadebetoon en heiligheid. God se trou teenoor Sy “kinders” verander nooit, dit staan onwankelbaar en onveranderlik vas. Dit is ons mense wat verhard, bedwelmd raak, blind en doof raak vir die evangelie. Sulke mense wíl God se genadewerk nie verstaan nie en raak só betrokke met dinge waarin hulleself glo, dat hulle God se genade nie meer kán verstaan nie.


Wat wel anders is van God, is Sy werkwyse. God laat die mens toe om sy eie keuses te maak en uit te oefen. Jy sien, die wêreld en baie van sy mense klap ons soms só hard dat ons mismoedig in die hoekie wil gaan wegkruip sonder om enige lig vir die toekoms raak te sien. Hoe dan gemaak? Saam met Paulus triomfeer ons: “Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: ‘Die Here ken dié wat aan Hom behoort …” (2 Tim. 2:19).


God weet van my. God ken my. Ek is God se kind. Niemand kan dit van my wegneem nie. Selfs nie ekself nie. Maak nie saak wat in die wêreld aangaan nie. Ek bly God se eiendom. God se fondasie staan vas. Daar staan geskrywe dat God my ken. Ek en jy wat ja gesê het op God se roepstem, ons name is in die fondasie gegraveer en niks en niemand kan dit daar uitkrap nie. Die winde van die wêreld kan ons maar woes rondruk. Ons lewensbootjie kan heen en weer ruk en dit kan vir ons voel of die einde naby is. Tog is ons geanker aan ’n soliede fondasie waarvan ons nooit, maar nooit losgeruk kan word nie.


God sal nie Sy eiendom los vir die wolwe nie. Jy sien, God se liefde vir ons is eenvoudig te groot. Gedurende die slegste omstandighede, kan ek en jy ons hande oor die fondament wat God gelê het laat gly, sodat ons vingers in die slootjies van ons name speel. Dan sal ons weer hoop kry. Dan sal ons weer vas glo. Nie in ons eie kragte en eie kennis en eie planne nie, maar aan die wete dat ons name in God se fondament gegraveer is en dat Hy nie sal toelaat dat “enige mag of krag ons ooit uit Sy hand ruk nie” (Joh. 10:28).


God ken my en jou en sal ons altyd beskerm! Niemand sal ons “hande en voete vasbind en in die diepste duisternis daarbuite uitgooi nie.” As refleksie op die liefdeswerk van Jesus Christus, moet ons as Sy gesante, in ons toewyding soek na God se lof as diens ná die erediens; God se lof soek as lewe in die gebed ná die kerkgebede; God se lof soek as lied in praktyk ná die lied in die kerk; God in ons alledaagse bestaan soek. Dit is dáár waar ons Hom sal vind! Ons moet dit egter nie vir onsself hou nie, maar vanuit die oorvloed van genade in ons eie lewe, gaan deel met ander: “Aangesien (ons) alles in oorvloed het, geloof, die gawe om (ons) woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer, en ons liefde vir (ander), wees dan in liefdeswerk oorvloedig” (2 Kor. 8:7).


“Dit kos ontsettend baie moed om sake in God se hande te laat; om ons volkome in Sy hand oor te gee – ons lewe, ons hoop, ons planne; om te volg waar Hy ons lei; om Sy wil ons s’n te maak. Daarteenoor kos dit slegs dwaasheid om die pad alleen te wil loop” (Betsey Kline).


Gebed: Ons Vader, dankie dat U trou teenoor my as U kind nooit verander nie, dit staan onwankelbaar en onveranderlik vas. Dit is ons mense wat verhard, bedwelmend raak, blind en doof raak vir die evangelie. Sommige van ons wíl U genadewerk nie verstaan nie en raak só betrokke met dinge waarin hulleself glo, dat hulle U genade nie meer kán verstaan nie. Laat U koninkryk kom ook in hulle verwarde lewe; ‘n Koninkryk in slegte tye wanneer chaos, wanorde en die donkerte hulle wil oorval; ‘n Koninkryk wat die huidige korrupte wêreld, moord, verkragting, mensehandel, hongersnood, werkloosheid, swak ekonomiese toestande en al die ander satanbeheerde dinge, verpletter. Dankie dat ek aan U, ons Vader kan vashou en hard kan uitroep: Laat U koninkryk kom “sodat U alles en in almal is” (Kol. 3:11). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page