top of page

Gedagte vir Vandag

14 Okt 2020

Koos Espach


Sesaria-Filippi waar die Jordaan rivier ontspring

JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN. (Matt. 13:54–16:20)

DIE BELYDENIS VAN PETRUS (2)

(Mark. 8:27-30; Luk. 9:18-21)

JESUS CHRISTUS IS HERE!

Matt. 16:15 – “Maar julle,’ het Hy gevra, ‘wie, sê julle, is Ek?”

Die dissipels het tot dusver maklik op Jesus se vraag kon antwoord, maar dan maak Hy hulle direk betrokke, en stel Hy hulle self voor die persoonlike vraag: “Wie, sê julle, is Ek?” Al het hulle nou al bykans drie jaar Hom gevolg, was dit vir Jesus belangrik dat hulle met oortuiging hierdie vraag be-antwoord, maar die vraag kan nie ontwyk word nie. Wie is Jesus? Dit is eintlik nie ‘n maklike vraag om te antwoord soos baie mense dink nie. En om ons nou lekker deurmekaar te maak en nog meer laat wonder wie Jesus nou eintlik is, is daar naas die Bybel, vandag te veel uitbeeldings, beskrywings in boeke, films, kunswerke en selfs preke.

Wie, sê ek en jy, is Jesus? Met hierdie vraag van Jesus, begin ons geestelike geskiedenis en bereik dit terselfdertyd, ‘n hoogtepunt! Is Jesus werklik, te midde van die vele voorstellings van Hom, God se finale openbaarder, die Messias, die Verlosser van sondes, vir ons? Vir Jesus is ons hoorsê-kennis van Hom nie genoeg nie, Hy vra persoonlike rekenskap. Eintlik klink Jesus se vraag vreemd, want net soos Sy dissipels al ‘n paar jaar saam met Hom geleef het, is ons gelowiges al eeue besig met Hom. Dit is ‘n vraag waaroor ons nie uitgepraat kan raak nie.

Wanneer ons Jesus se eervolle Naam bely, is dit meer as net ‘n gediggie of resitasie wat ek uit my kop ken en voor ander opsê, of Sondae saam met mede-gelowiges in die kerkgebou bely – dis ‘n belydenis wat uit my hart moet kom. Geloof in Jesus Christus is nie leë papierwoorde nie, maar woorde wat deur ‘n leefwyse gerugsteun moet word want dis gerig aan ‘n lewende Here!

Die kern van ons geloof is so eenvoudig: “Daar is immers net een God, en daar is een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het” (1 Tim. 2:5-6). Dit is die beste nuus wat ons sondaar-mense ooit kan hoor. Op ons eie kan ons eenvoudig nie van die las van sonde ontslae raak nie. Sonde het gemaak dat ons nie by God kan uitkom nie. Sonde veroorsaak dat ons eintlik die heeltyd wegbeur van God af.

Ja, sonde het ’n vallei so wyd en diep kom grawe dat ons nooit by God kan uitkom nie. Daar is niks, maar niks wat die mens kan doen om by God uit te kom nie. Wanneer ons sonde doen, of dit nou ’n wit leuentjie is of bedrog, of steel of moord of eenvoudig net nie doen wat God wil hê ons moet doen nie, maak dit die vallei net dieper en wyer. ’n Goeie daad of selfs tien of ’n duisend kan nie die vallei tussen ons en God kleiner maak nie. Daar is nie ’n sonde uitveër tot die mens se beskikking nie. Dit is ’n nare storie met ’n nare einde.

Paulus skryf dat “elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken dat Jesus Christus Here is, tot eer van God die Vader” (Fil. 2:10-11). Of ons nou glo of nie, op die laaste dag sal ons moet erken wie Jesus regtig is! Daarom het Jesus ons uit genade, vandag opnuut weer met die vraag gekonfronteer: “Maar julle, wie, sê julle, is Ek?” En daarom kan ek en jy, met volle oortuiging, netsowel nou al erken dat “Jesus Christus Here is.”


Dit maak ‘n ewigheid se verskil, ‘n verskil tussen ewige lewe of ewige dood. As jy dit besef, kan jy mos nie anders as om elke oomblik van die dag oor te loop van dankbaarheid nie. Dan wil, sal, kan, mag, moet ek en jy om elke hoek en draai ’n plekkie soek om ons dankbaarheid te laat grondvat en aan almal rondom ons bely: “Jesus Christus is Here, tot eer van God die Vader!”

“Jesus is vir ons die goeie hand wat op die wonde van Sy mensebroers en -susters kom rus, wat hulle troos, soos ‘n moeder haar kind troos, wat onder die hoof van die sterwendes inskuif om hulle in vrede na die oorkant te begelei” (Helmut Thielicke).

Gebed: Vader, hoe groot is U liefde vir my nie? Hoe klein klink ’n dankie dan nie nou nie? Uit dankbaarheid wil ek van nou af elke oomblik leef. Ek wil orals waar ek gaan, plekkies gaan soek om my dankbaarheid vir U liefde te gaan uitleef. Jesus Christus, ek weet en glo met my hele hart dat U die enigste lewende Here is. Help my om só te leef, dat ander oortuig word deur my belydenis. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page