Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


DIE KANAÄNITIESE VROU (3)

(Mark. 7:24-30)


’N KRUMMELTJIE GENADE UIT GOD SE VOLHEID!


Matt. 15:25-27 – “Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: ‘Here, help my!’ Hy sê vir haar: ‘Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.’ ‘Dit is waar, Here,’ sê sy, ‘maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”


Jesus se reguit antwoord dat “Hy net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur is,” laat haar nie handdoek ingooi nie. Sy val op haar knieë voor Jesus neer en begin Hom smeek met ‘n enkele noodkreet: “Here, help my!” Sy roep nou nie meer nie. Die nood van haar kind dryf haar en sy spreek Jesus weer as Here aan, maar sy vra hier vir haarself hulp, en nie spesifiek vir haar dogter nie. Só groot is die nood van ’n ware ma. Haar dogter het haar moontlik tot raserny en wanhoop gedryf met die dinge wat ‘n duiwelbesetene doen, en dit lyk asof Jesus onsimpatiek teenoor haar staan!


Hoe kon Jesus tog hierdie naamlose vrou se hoop so verpletter? Hoeveel moed moes dit nie vir haar gekos het om alle moontlike sosiale en godsdienstige grense van die manswêreld van daardie tyd, deur alle “versperrings” te breek en tot hier te kom nie? Sy het alle wette verbreek deur net op straat te verskyn én met ‘n vreemde man op straat te praat, en dit nogal nie met sommer énige man nie. Dit was Jesus van Nasaret, ‘n Israeliet wat alle ánder volke as onrein beskou het omdat hulle geglo het dat alle ander volke nie die ware God aanbid nie.


Jesus antwoord haar afwysend, maar nie ontmoedigend nie: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.” Hy gebruik die Joodse spreekwyse waarvolgens die Jode, “die kinders van God” en die heidene, metafories “die honde” genoem word. Die verkleinwoord “hondjies” versag Sy uitspraak, ‘n uitspraak van deernis en liefde. Maar hoe kón Jesus haar tog so misverstaan? Sy pleit om genesing vir haar kind, en Jesus praat oor brood en oor honde! En erger nog sê Hy in haar gesig sy is nie werd om die brood van die kinders te deel nie!


Bemoedig deur die wyse waarop Jesus haar geantwoord het, maak die vrou gebruik van dieselfde beeldspraak en gee eers vir Jesus gelyk, om dan ewe spitsvondig te gryp na die krummels: “Dis waar, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.” Dis asof sy wil sê: “Juis, ek hét geen reg bo die kinders (van Israel) nie, maar die tafel van die kinders is so oorvloedig voorsien en waar brood is, is daar krummels wat sal voed. Die krummels wat U aanbied, sal vir my dogtertjie genoeg wees.” Dus, al sou Jesus haar versoek toestaan, sou Israel geen skade ly nie; Hy bly tog in die eerste plek Helper van Israel, sy smeek maar net as ‘n afhanklike hondjie wat op Sý guns aangewys is.


Soos hierdie vrou moet ons bereid wees om met volharding, ons voet by die deur van God se genade in te druk, selfs wanneer dit lyk asof die hemelse deure gesluit is. Sy het nie met Jesus gestry oor wie sy is nie – as Jesus haar ‘n hondjie noem, noem sy haarself ook so; as God vir Israel kies as Sy kinders en sy ‘n hondjie is wat krummels kan kry, dan is dit ook maar reg. Sy maak nêrens aanspraak dat sy beter verdien nie. Tog was sy vasberade en moontlik gedink dat God se genade só oorvloedig is, dat daar vir haar ook is, al is dit min, is dit genoeg! Al word sy aangesien as ‘n hond, is sy immers God se hond, onder God se tafel, besig om die krummels van genade, bietjie vir bietjie, krummeltjie vir krummeltjie, in afhanklikheid te aanvaar.


Wanneer ek en jy met God versoen is, word ons een met Hom. God is só goed dat Hy nooit aan ons Sy krummels sal weier nie. “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb. 4:16). As ons gedurig en vol vertroue die teenwoordigheid van die Gees van Christus in ons lewe herbevestig, sal ons swakhede begin kwyn totdat ons die lewende Christus uiteindelik ontdek in ons lewe. Ons moet net bereid wees om voor Jesus in afhanklikheid te kniel om Sy hulp te soek en Sy leiding af te smeek, dan kan ons met vrymoedigheid al ons bekommernisse voor Hom neerlê, en in geloof aanvaar dat Hy op Sý manier en Sý tyd, daarop sal antwoord en ons seën. “Geseënd is ek en jy wat weet hoe afhanklik ons van God is, want aan ons behoort die koninkryk van God” (Matt. 5:3).


“Al die eienskappe van God is gelyk in hulle wonderbare grootheid, maar sy genade, wat aan moedswillige sondaars vergifnis gun en hulle telkens ‘n tweede kans gee, skyn sekerlik nóg helderder as al die ander” (Miguel de Cervantes).


Gebed: Ons Vader van grenslose genade, ek kniel in diepe afhanklikheid voor U en jubel: “Genade onbegryplik groot het U aan my bewys!” Dankie dat U my liefhet, dat die tafel van U kinders só oorvloedig voorsien is, dat selfs net die krummels van U genade vir my genoeg sal wees. Deur U genade leef ek, beweeg ek en is ek. Dankie dat U tyd maak vir elkeen wat dit met U waag. Ek loof en dank U daarvoor. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: [email protected]

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.