top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


DIE KANAÄNITIESE VROU (2)

(Mark. 7:24-30)


JESUS, DIE BOUER VAN GENADEPAAIE!


Matt. 15:23-24 – “Maar Jesus het haar niks geantwoord nie. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: ‘Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.’ Jesus antwoord: ‘Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.”


Vergelyk ook Matt. 10:5-6 – Jesus het die twaalf dissipels uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee: ‘Moenie met ‘n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in ‘n dorp van die Samaritane ingaan nie. Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe.”


Jesus en Sy dissipels bevind hulle in die gebied van die Feniciese stede Tirus en Sidon, ook bekend as Kanaän, die heidense vyande van God se volk. ‘n Vrou van hierdie gebied het gehoor Jesus is daar en gaan dadelik na Hom en stort haar nood voor Hom uit dat haar “dogter in die mag van ‘n duiwel is en dit sleg gaan met haar.” Die heidense vrou wat Jesus se Joodse afkoms erken deur Hom “Seun van Dawid” te noem, se geloof staan in kontras met die Joodse godsdienstige leiers se skynheiligheid.


Jesus se reaksie om haar hulpgeroep, blyk vir ons dat dit op ’n afwysing neerkom. Dit is baie vreemd, en om sake nog te vererger, is Sy dissipels duidelik geïrriteerd met haar gesoebat en vra hulle Hom om ontslae te raak van haar, om haar “weg te stuur, want sy hou aan met skreeu agter hulle.” Húlle gaan beslis nie met haar praat nie. ‘n Vrou het destyds geen aansien gehad nie en was benede hulle stand, buitendien is sy ‘n vreemde vrou in ‘n heidense land.


Die versoek van die vrou word nie van die hand gewys nie, en Jesus stuur haar nie weg soos Sy dissipels versoek het nie. Dit was Joodse gebruik om liefs nie met ’n vrou ’n gesprek te begin nie, maar wat doen Jesus? Hy draai na haar toe en praat met haar, Hy antwoord haar. ’n Joodse man práát met ’n Kanaänitiese vrou! Ongehoord! Dis tog ’n verkragting van die oorgelewerde gebruike van die Joodse tradisie.


Maar wát sê Jesus vir haar? “(Jammer vir jou), Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.” Hy laat haar verstaan dat Sy eerste roeping is om vir Israel, die uitverkore volk, die vervulling van die beloftes van die Verbondsgod te wees. Jesus se bediening word nie bepaal deur oorwegings soos om nie aan die Fariseërs aanstoot te gee, of om ’n lastige vrou eenvoudig ter wille te wees nie. Hy wil fokus op dit waarvoor Hy gestuur is, op sy Godgegewe roeping na Israel se verlore skape wat verlore is vanweë hulle blinde leiers. Maar, Jesus erken ook haar geloof!


Iemand het gesê dat die onstuitbare vertroue van hierdie vrou in Jesus, gesorg het dat sy reggekry het wat min ander haar ooit kon nadoen. Sy het ál die gebruike van haar dag oorboord gegooi deur Jesus, wat ‘n Israeliet was, se hulp te gaan vra. En Jesus, miskien kon dit vir Hom ’n versoeking wees om in hierdie heidense omgewing te bly waar Hy welkom was, terwyl Hy geweet het dat die Jode uiteindelik in Jerusalem, die setel van hulle godsdiens, Hom tereg gaan stel? Hoe moes dit hulle nie skok om te besef dat Jesus in hierdie heidense omgewing welkom was maar ...? Maar, Sy Godgegewe roeping het gevra dat Hy nie vir die skande van die kruis sou terugdeins nie!


Jesus is die bouer van genade-paaie. Waar daar nie ‘n pad is nie, maak Hy een. Hier praat Hy as volwaardige mens wat nie gevrywaar is van die moegheid en probleme wat deel is van mensheid, of godsdienstige tradisies nie, met ‘n heidense vrou! Hy beleef nie hierdie vrou se nood, as ‘n las nie. Net so kyk Jesus verby menslike belange of beperkings, en sien mý en jóú raak – vir Jesus is ons as persoon en ons verhouding met Hom, belangrik. Gewoonlik sou hierdie vrou ‘n man verbouereerd vermy het, maar hier ontdek sy die warmte van Jesus se simpatie en ten einde laaste ontmoet sy Iemand wat verstaan, Iemand wat versperrings tussen Jood en heiden afbreek, en Hy praat met- en luister na haar! Hier is die begin van die algemeenheid van die Evangelie – God se liefde vir die wêreld – in aksie deur Jesus Christus! God se liefde vir jou en my!


Dit moet ons lewe en die lewe van diegene om ons heen laat nuut word en opbloei. ‘n Ander mens se las moet vir ons die geleentheid skep om Jesus se gesindheid te openbaar. Want ‘n lewe vervul met die Gees plaas ons nie op ‘n ander vlak van bestaan nie; nee, dit neem ons terug na die gewone lewe van huwelik en gesin, van kollegas en medemense, van winkels toe gaan en kerk toe gaan – en dit maak daardie gewone lewe ongewoon mooi! Jesus Christus is die nuwe versamelpunt van die ware aanbidding van die Vader. Die Gees bring alle ware gelowiges by Hóm bymekaar. Wie Jesus ken, ken God; wie Jesus het, het God!


“God het ons lief net soos ons is, maar Hy het ons te lief om ons só te laat bly” (Leighton Ford).


Gebed: Here, leer my om iets van U karakter te vertoon. Maak my liefdevol teenoor my naaste, naby en ver, selfs aan hulle wat ek moeilik vind om te verdra en ook aan hulle wat mý irriterend vind. Gee dat ons werklik vir mekaar sal omgee, om U liefde vir die wêreld soos deur Jesus vertoon is, te kan doen. Maak my ‘n instrument van U liefde, U wat nie net liefhet nie, maar wat liefde IS! Verander my behoeftes en nood in blydskap en aanbidding. Ek kom net soos ek is in my swakheid as sondaar en pleit dat U my sal heelmaak. Skenk my vrede en gemoedsrus en laat my toe om U te prys in aanbidding en lofprysing. Dankie dat U Leidsman is in my lewe. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page