Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


DIE KANAÄNITIESE VROU (1)

(Mark. 7:24-30)


HOU AAN ROEP, MOENIE TOU OPGOOI NIE!


Matt. 15:21-22 – “Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. ’n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: ‘Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van ‘n duiwel, en dit gaan sleg.”


Vergelyk ook Jes. 40:29 – “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie.”


Na die voorafgaande konflik met die Joodse godsdiensleiers oor reinheid en onreinheid, verlaat Jesus en Sy dissipels Joodse gebied en vertrek na die heidense gebied van die Feniciese stede Tirus en Sidon, ongeveer 50 tot 80 kilometer noordwes van Galilea aan die Middellandse See. Jesus verlaat Galilea vir ’n tyd van afsondering na hierdie gebied, wat in die volksmond ook bekend gestaan het as Kanaän, waarskynlik om hom voor te berei om met die dissipels oor sy lyding en naderende dood te praat. Hy sou beslis nie deur ‘n skare Jode in ‘n onreine heidense gebied gevolg word nie, want in die Joodse wêreld was die gebruik om hulle verskil met heidene, ook met rein en onrein terme uit te druk.


Wie sou kon dink dat Jesus as Joodse Rabbi na ‘n onreine gebied sou gaan! Maar, om verborge te bly, was vir die Lig van die wêreld onmoontlik. ’n Heidense vrou het van Hom gehoor. Haar dogtertjie verkeer in die mag van ’n onreine gees. Nou kom die moeder en val huldigend en smekend voor die voete van Jesus. Sy is ’n Griekse vrou, ’n Feniciër uit die provinsie Sirië, (Mark. 7:26), ’n nakomeling van die nasies wat onder die banvloek van God staan (Deut. 7:1vv.). Sy twyfel nie aan Jesus se mag om haar dogtertjie te verlos nie, maar sou Hy as Jood, gesien van haar afkoms en nasionaliteit, daartoe die reg hê? Sedert Israel Kanaän “verower” het, was dié twee volksgroepe aartsvyande. Vir die Jode was die Kanaäniete godsdienstig onrein – en daarom uitgesluit van die beloftes en seën van God se verbond met Israel!


Hierdie heidense vrou versteur eintlik Jesus se gang toe sy “onverwags by Hom aankom” en haarself aankondig deur aanhoudend te roep, te skreeu en te pleit: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van ’n duiwel, en dit gaan sleg.” Dis opmerklik dat hierdie heidense vrou vir Jesus drie maal “Here” noem, en boonop die erkende Messias-titel, “Seun van Dawid” gebruik, terwyl Sy eie mense in Nasaret (Matt. 13:53-58) en die Joodse godsdiensleiers, Hom misken! Tussen die heidene gebruik hierdie vrou die taal van ‘n gelowige! Sy was eenvoudig magteloos oor haar kind se siekte. Maar, sy weier om passief en hulpeloos te berus – al moet sy as heidense Griekse vrou, die uiters ongewone ding doen om ’n Joodse man om hulp te vra. Vir haar as tipiese ma, is daar net té veel op die spel!


Het jy al die gevoel gekry dat God jou nie hoor nie of dat jy Hom miskien steur? Ondanks al die beloftes van die Here dat Hy wel na ons luister en veral dat die Here sê ons gelowiges se gebede het ʼn kragtige uitwerking, kry ons steeds die gevoel dat ons gebede soms net woorde in die wind is of woorde “teen die plafon.” As mens kan ons dan so moedeloos word dat jy naderhand vir jouself sê: “Ag, dit help nie eers meer om te bid nie.”


Jesus beklemtoon dat ‘n dissipel van Hom ‘n volhardende gebedslewe moet handhaaf. Hierdie onontbeerlike kommunikasie met God is ‘n erkenning van ons afhanklikheid van God. Ons sal genade van die Here ontvang, al gebeur dit soms dat dit vir ons voel of die Here dit lankal vir ons moes gegee het. Hierdie vrou het aangehou roep. Ons uitverkorenes kan nog meer aanhou bid. Hierdie vrou was ʼn vreemdeling vir Jesus en was op geen manier aan mekaar verbind nie. Daarenteen is Jesus nie ʼn vreemdeling vir ons nie en ons ook nie vir Hom nie.


Op grond van Sy offer aan die kruis vir ons, is God ons hemelse Vader en op grond van God se liefde, is ons Sy uitverkore kinders. Hierdie vrou het nie eers die waarborg gehad dat sy sou kry wat sy vra nie. Ons, aan die ander kant, het ʼn belofte uit die mond van Jesus self. Hy sê: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word” (Matt. 7:7). Wanneer ons na God toe kom in gebed, kom ons na ‘n Vader toe wat vir ons wag.


“God is altyd by jou en met jou. Moet dan nie huiwer om met Hom ‘n gesprek te voer nie” (Lawrence).


Gebed: Here, dankie dat ek nie vir aardse gemak en plesier sommer gou-gou by die hemel kan aanklop nie. Dankie dat ek kan vra, kan klop, kan soek en U luister. Dankie dat ek my hart in U troonkamer kan oopmaak en te weet U is daar. Dankie Heilige Gees dat U die vertroue in my opwek sodat ek gelowig kan bly bid en aan te hou bid, sonder om moedeloos te raak, en ek weet U luister nie net nie, U gee ook volgens U wil en op U tyd – die regte tyd. Ek moet net nooit tou opgooi nie, want “U gee die vermoeides krag, U versterk dié wat nie meer kan nie.” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: [email protected]

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.