top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


WAT ‘N MENS ONREIN MAAK (4).

(Mark. 7:14-23).


DIE WEG NA REINHEID!


Matt. 15:15-20 – “Petrus sê toe vir Hom: ‘Verduidelik tog vir ons die beeldspraak.’ ‘Verstaan ook julle dit nog nie?’ antwoord Jesus. ‘Begryp julle nie dat alles wat by die mond ingaan, na die maag toe gaan en daarna uit die liggaam uitgaan nie? Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dit is die dinge wat die mense onrein maak. Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, valse getuienis, kwaadpratery. Dit is die dinge wat ‘n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak ‘n mens nie onrein nie.”


Vergelyk ook Spr. 4:23 – “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”


Op die bepaalde geval om te eet met ongewaste hande, gaan Jesus nie in nie, maar wel op die beginsel dat God se wet nie deur godsdienstige beskouinge van die mens vervang mag word nie. Petrus verstaan egter steeds nie, waarop Jesus uitbrei op die idee dat reinheid met die hart te make het, nie met dit wat die liggaam uitskei nie. Hy vra namens die dissipels, ’n verduideliking van Jesus se beeldspraak. Jesus gee weer eens Sy verbasing te kenne dat hulle, ten spyte van al die onderrig wat hulle reeds tot dusver ontvang het, nog nie in staat is om Sy gelykenisse te begryp nie.


Daarna verduidelik Jesus dat voedsel alleen die liggaamlike lewe voed en nie die geestelike lewe raak nie. Wat deur middel van gewaste of ongewaste hande by die mond ingaan, volg die natuurlike pad van vertering en uitskeiding. Die voedsel word geëet, maar dit bereik nie die eintlike lewensbron, die hart van die mens nie. En godsdienstige reinheid is juis ’n saak van die hart, die setel van die bewussyn en van alle lewensuitinge. Die hart is die oorsprong van wat uit die mond uitkom, omdat die hart vir die wil, die mens se persoon self staan (Spr. 4:23).


Wanneer die mens ver van God is, kom al die bose dinge uit sy hart na vore. Opvallend is dat al hierdie sondes wat Jesus in ons teks noem, verhoudings tussen mense in die samelewing vernietig. (Vergelyk ook die sondes in Mark. 7:21-23). Hoe ironies dat mense voorgee dat hulle God eer en dien, maar intussen op verskillende maniere menslike verhoudings vernietig en so juis God se gebod oortree. Vir Jesus is ons lewenstyl die vernaamste bewys van die egtheid van ons geloof. Wanneer ek en jy ons harte en gedagtes onder beheer kry en die sondes wat Jesus veral hier noem, teenstaan, is dit vir Hom ‘n bewys dat ons harte in God se oë, op die regte plek is.


Is ons die mens wat God wil hê ons moet wees? Is ons harte op die regte plek? Jakobus gee in sy brief ook raad dat ons van die “sedelike vuilheid en ongeregtigheid wat so welig tier” (Jak. 1:21), moet afstand doen. “Maar hoe doen ek dit Jakobus?” Eenvoudig, sê hy: “Neem die woord ootmoedig aan wat God in jou geplant het, want dié woord kan jou red.” Nie alleen verbreek sodanige dinge ons bande met God nie, maar dit laat ons ook ander mense se reg op die lewe minag. Onrein harte lei na onrein lewens waar sonde, en nie die genade van God, die botoon voer.


As gelowiges moet ek en jy ons nie blind staar om net kennis van die Woord op te doen nie, “ons moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg ons onsself” (Jak 1:22). Om die Woord net te hoor is nie genoeg om ons saak met die Here te bevorder nie. Om Sondag na Sondag te luister na die Woord en dit dan nie toepas in ons daaglikse gang van die lewe nie, baat niks. Die Woord moet nie op die kerkbank agtergelaat word nie maar van die “kerkplek” na die “werkplek” toe geneem word. Om net te hoor en niks daaraan te doen nie, bring ons nie by die volle potensiaal as gelowige en kind van God uit nie. God se Woord raak dan ons monde aan, “en wat by die mond uitkom, kom uit die hart.”


As ek en jy onsself maar net aan Jesus sal oorgee, “die woord ootmoedig aanneem wat God in ons geplant het”, sal ons nooit die verskriklike moontlikhede wat in ons harte skuil, beleef nie. “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld” (Jak. 1:27).


Ons kan dan God se Woord in menswoorde teenoor ons naaste herhaal. God se Woord raak ons ore aan om die noodkrete van die “weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede,” te kan hoor; dit raak ons hande aan wat soms maar toe-erig kan wees om iets te dóén; dit raak ons harte aan om ons “skoon te hou van die besmetting van die wêreld” en van alle dinge wat ons van binne af besoedel en onrein maak; dit laat liefde vir ons naaste ‘n werklikheid word en liefde vir ons naaste, help ons om lief te bly vir God.


Reinheid lê veel dieper as enigiets wat ons natuurlik kan bereik. Wanneer die Heilige Gees in my kom woon, openbaar Hy Jesus Christus in my lewe. Hy verwyder dan al die sondes wat uit ons harte voortspruit en wat ons onrein maak. Die Heilige Gees werk nie met geweld nie, Hy vermaan en berispe. Die ingeplante Woord “groei” binne ons en bewerk dus ‘n lewensverandering. Hierdie “ingeplante woord” moet kans kry om wortel te skiet. Dit is daarom nodig om die grond van ons harte skoon te skoffel sodat “al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid wat so welig tier,” plek kan maak vir ‘n nuwe inplanting in die hart wat ons herskep en “kan red.” Ons is dan gereed om ‘n oorwinnende lewe in Christus te kan leef!


“Min dinge is so leeg soos ‘n godsdiens wat net uit godsdienstige gebare bestaan, sonder ‘n genadige gesindheid teenoor jou naaste” (Ferdinand Deist).


Gebed: Onse Vader, ek wil saam met Paulus ten hemele roep: Dat my liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling (Fil. 1:9). Here, skenk my die insig om ‘n fyn aanvoeling te ontwikkel sodat ek in elke situasie sal kan onderskei tussen ware liefde of ‘n skreiende gebrek aan geestelike waardes en norme. Laat hierdie onderskeiding ‘n onuitblusbare blydskap in my meebring en my vul met U vrede. Daarom dank ek U Here Jesus, dat U aan die kruis ook met al my stukkendheid ‘n plan gemaak het en ek daarom in U vergifnis mag lewe. Werk deur U Gees in my hart, stem en denke dat ek U barmhartigheid sal uitleef en ander deur my sal beleef dat daar ‘n goeie Vader in die hemel is wat omgee vir elke sondaar, al lyk ons sondes nie dieselfde nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page