top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


WAT ‘N MENS ONREIN MAAK (1).

(Mark. 7:14-23).


DINK VOOR JY PRAAT!


Matt. 15:10-11 – “Toe het Jesus die menigte nader geroep en vir hulle gesê: ‘Julle moet nou luister en mooi verstaan! Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie, maar wat by die mond uitkom, dit maak ‘n mens onrein.”


Vergelyk ook Rom. 3:13-14 – “Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.”


Jesus het Sy gesprek met die godsdiensleiers afgesluit en wend Hom nou na die menigte. Hy roep die skare mense nader, deel van die volk wat sterk onder die invloed staan van hulle godsdienstige leiers, mense wat swaar dra aan al die voorskrifte wat die Fariseërs en skrifgeleerdes as gebooie van God voorhou. Die godsdiensleiers het die gesprek begin met die aanklag dat die dissipels met vuil hande eet en só onrein word. Ná die dwaling wat die leiers geopenbaar het, het dit noodsaaklik geword om aan die skare opbouende onderrig te gee aangaande die innerlike reinheid van die hart wat by God aanvaarbaar is.


Jesus verduidelik dan aan die skare dat reinheid iets aan die binnekant van ’n mens is, nie iets aan die buitekant nie. Dit is nie kos wat met ongewaste hande geëet word wat onrein maak nie, “maar wat by die mond uitkom wat ‘n mens onrein maak.”


Die mens is “baie goed geskep” (Gen. 1:17), wonderlik, slim en feitlik in staat om enigiets te kan beheer maar “ons struikel almal in baie opsigte” (Jak. 3:2). Die gevaarlikste slaggat en dilemma wat meeste mense het, is om te “struikel in wat hy sê” (Jak. 3:2b). Die struikeling van dit wat ons sê, kan maklik weg geredeneer word as ‘n “menslike swakheid. Dit is tog nie só erg nie, dit gebeur met almal!” Inteendeel, dit is véél erger, want God het ons nie só geskep nie. God maak nie foute nie, Hy het ons geskep as Sy verteenwoordiger, Sy beeld, ons is geheilig vir Sy diens. Hy het alle gelowiges in Christus afgesonder as Sy kinders (Joh. 1:12b). Ons is nie beter as ander nie maar dikwels verrinneweer dit “wat by ons mond uitkom”, nie net ons eie lewe nie, maar ook ander mense s’n.


Paulus gaan verder en skilder die sonde van die goddelose mensheid deur die groot kwaad wat “by die mond uitkom”, dis soos ‘n wildedier met sy geopende bek wat op sy prooi afkom en só die haat van mens teenoor mens openbaar. Sy keel is soos ‘n “oop graf en sy woorde is van vervloeking en bitterheid so giftig soos slange.”


Kahlil Gibran het gesê dat “woorde tydloos is en jy moet hulle uitspreek met die volle wete dat, eenmaal gebruik, hulle nooit weer vergaan of verdwyn nie.” Woorde kan gevaarlik wees, as dit eers by jou mond uit is, kan jy hulle nie weer herroep nie. Maar, sonder woorde is kommunikasie ondenkbaar, feitlik onmoontlik! Sonder woorde kan ons tog nie ons drome verwoord nie, of vir diegene naby ons hart, van ons liefde verseker nie, ons vreugde en hartseer met mekaar deel nie. Woorde is kosbaar, veral God se woorde wat uit sy Woord straal – woorde van Sy liefdesversekering, woorde van die wonder van Sy evangelie, woorde van verduideliking om as sondaarmense by ons Heilige Vader te kan uitkom.


Maar woorde kan ook mense seermaak. Kwaadspreking of skinder word reeds vanaf die vroegste tye aangespreek: “Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here” (Lev. 19:16). Die Here wil juis deur die wet ons daaraan herinner dat ons naasteliefde moet betoon en nie valse getuienis teenoor ons naaste lewer nie. Ek en jy moet versigtig wees met ons uitsprake. Ons moenie ons groot monde gebruik om ander klein te maak nie. (“Die woord mag nie ‘n wapen word nie. Laat God woon in jou woord, en jou woord sal lig, liefde en lewe wees” (Phil Bosmans).


Hy wat wil “regter speel oor sy naaste” om die sogenaamde waarheid van ander aan die lig te bring, moet besef dat die “Lig van die Lewe” anders voorskryf. Kom ons beheer die “verkeerde wat by die mond uitkom”, daardie bekende “ek wil nou nie skinder nie, maar ...,” of dalk “ek wil nou nie kritiek lewer nie, maar ...” en dan die mees populêre: “Moenie dit oorvertel nie, maar het jy gehoor ...?” Al sou die aanmatigende oordra van die brokkie “nuus” feite wees of selfs bewys kan word, is die ander persoon nie daar om hom- of haarself te verdedig nie, buitendien, “almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen, selfs nie een nie” (Rom. 3:12).


Kom ons gebruik die woorde “wat by die mond uitkom,” eerder as voorbidding vir mekaar. Kom ons wend ‘n daadwerklike poging aan dat ons mondsondes nie die lewenseenheid versteur en die karakter van die Christelike lewe aantas nie. Kom ons gebruik ons woorde “wat by die mond uitkom,” as beitels om die koninkryk van God mooi uit te bou. Kom ons spreek tot mense en oor mense, soos wat God dit graag sou wou hoor! Buitendien, “waar die hart van vol is, loop die mond van oor” (Matt. 12:34). Deur die woord wat ek en jy spreek, maak ons onsself aan ander bekend. Dit is tog onaanvaarbaar dat dieselfde mond terselfdertyd God kan loof en elkeen wat Hy na Sy beeld geskep het, kan verkleineer.


“Kwaadpraters is roofdiere wat nie eens wag tot hul slagoffers dood is voor hulle hul verskeur nie” (George Meredith)


Gebed: Hemel Vader, ek is so geneig om U ander skepsels te oordeel. Ek wil so graag mense se sondes namens hulle bely, maar ongelukkig dit nie by U doen nie maar eerder dit aan ander oorvertel en dan soms nog met smaak ook. Here, ek moet bely, my woorde tref ander meer kere skerp in die maag as sagweg in die hart. Ek plaas vandag my mond in U hande. Verander my woorde in goeie medisyne vir elkeen binne hoorafstand daarvan. Gee dat my woorde vir ander meer sal leer van U liefde vir hulle. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page