top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


DIE OORGELEWERDE GEBRUIKE VAN DIE VOORGESLAGTE (2).

(Mark. 7:1-13)


BREEK GOD SE WET OM DIE MENS SE WET TE HANDHAAF?


Matt. 15:3-6 – “Waarom verontagsaam julle self die gebod van God ter wille van julle oorgelewerde gebruike?’ het Jesus geantwoord. ‘God het tog gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ Maar julle bepaal: ‘As iemand vir sy pa of sy ma sê: Die hulp wat u van my sou kon kry, maak ek ‘n offergawe vir God, dan hoef hy nie meer sy plig teenoor sy pa na te kom nie.’ So ontneem julle die woord van God sy gesag ter wille van julle oorgelewerde gebruike.”


Vergelyk ook 1 Tim. 5:4 – “As ‘n weduwee kinders of kleinkinders het, moet die kinders leer om as gelowiges allereers hulle verpligtinge teenoor hulle eie familie na te kom en so hulle ouers en grootouers iets te vergoed. Dit is volgens die wil van God.”


Jesus se antwoord op die Fariseërs en skrifgeleerdes se klag dat Sy “dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte verontagsaam deur nie hande te was voor ete”, is in die vorm van ’n teenvraag. Waarom oortree hulle God se eis in die vyfde gebod van Sy wet dat “jy jou vader en moeder moet eer” (Eks. 20:12; Deut. 5:16), ter wille van hulle eie oorlewering? Om dit verder te onderstreep, stel Jesus dat hulle God se bepaling t.o.v. die wet, ontkrag – “Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word” (Eks. 21:17; Lev. 20:9).


Hulle skuil agter ’n eed se bindende krag om sodoende hulle finansiële verantwoordelikheid teenoor hulle ouers – in die vyfde gebod geïmpliseer – te ontduik. Hulle standpunt is dat wanneer dit wat aan jou ouers verskuldig is, “korban is, dit wil sê: ’n offergawe wat aan God en die tempel toegewy word” (Mark. 7:11), die ouers dan geen voordeel daarvan kan kry nie. Intussen kon die kind nog die vruggebruik daarvan tot sy dood behou, terwyl hy dan nie meer die verskuldigde eer (en onderhoud) aan sy ouers hoef te betoon nie. ‘n Fariseër (en die volk) kon dan ewe vroom vir sy ouers sê dat hy nie vir hulle kon sorg nie, omdat hy al sy besittings “korban” verklaar het deur dit aan die tempel te bemaak. Dit is duidelik dat die sogenaamde godsdiensleiers van die volk, die bepalings van die Woord dalk geken het , maar net kennis geneem het van die liefdesgebod.


Die vyfde gebod: “Eer jou vader en jou moeder”, is die eerste gebod wat handel oor verhoudings tussen mense. Dit is eerste, juis omdat dit die belangrikste is. Dit raak die verhouding wat die heel naaste aan die mens kom, dié tussen kind en ouer. Dit is ook die enigste gebod waaraan daar ‘n positiewe belofte verbind is. Dit is die basis, die fondament! Al die ander gebooie daarna, vloei hieruit voort. Die eerste verhouding waarmee ons hier op aarde te make kry, is die verhouding met ons ouers.


Elke kind het allereers met sy pa en ma te make. Tuis, by pa en ma, begin in die reël, elke lewe. Pa en ma se gesag is die eerste en die mees fundamentele vir alle ander gesagsverhoudings. Dit is van onskatbare waarde vir alle ander gesagsverhoudings. Daar, tuis by pa en ma, leer ’n mens wat respek is en hoe jy daarteenoor moet staan. As jy nie jou ouers eer nie, bring jy die eer van die gesin in gedrang en dit kan lei tot die ondergang of vernietiging van die gesin.


Is daar vandag nog werklik respek vir ons ouers? Sorg kinders nog vir hulle bejaarde ouers? En daarmee word nie bedoel dat jou bejaarde ouers in jou huis moet versorg word nie, maar wel eerder dat ons na ons bejaarde ouers moet omsien op alle terreine, fisies, emosioneel, sosiaal en geestelik. Is God se wet in die 21 ste eeu nog geldig; is “die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte” t.o.v. die vyfde gebod nog van toepassing? Ek dink so, want God bepaal dit in Sy wet: “Eer jou vader en jou moeder”! Miskien is daar baie wat nie met my sal saamstem nie. Maar die God van die Ou Testament is steeds ons God van vandag. Hy is steeds die Een wat selfs in die intieme kring van ons huislike lewe intree om dáár die regte verhouding tussen kinders en ouers aan te dui.


God soek van kinders ‘n gesindheid en houding van respek teenoor hulle ouers. Waarom moet ek my ouers eer? Vanweë hulle ervaring in die lewe, hulle kundigheid, hulle wysheid? En as hulle nie kundig of wys is nie? Wat van die ouers wat moeilik leiding gee en hul kinders nie onder tug kan hou nie? Wat moet ons dan maak met ouers wat minder kennis, wysheid of kundigheid as hul kinders het? Daar is baie kinders wat vandag hulle ouers op allerlei terreine oortref. Wat van ouers wat hulle kinders aanrand, seksueel molesteer, nie opvoed in die tug en vermaning van die Here nie, selfs net moeilike en slegte ervaringe deel van die opvoeding is? Geld die vyfde gebod dan nog?


Die vyfde gebod is algemeen en spreek alle kinders aan, ongeag hoe die ouers is. Ons kan nie “die woord van God se gesag ontneem ter wille van ons eie oorgelewerde gebruike nie.” Om ons ouers te eer hang nie af van hulle kwaliteite nie, hulle is steeds God se aanstelling en Sy instrumente om kinders in die wêreld te bring. Die manier waarop eer en respek aan swak ouers betoon word, sal seker anders wees as in die geval van werklike gelowige ouers. Alle ouers is nie getrou nie en voed hulle kinders nie op in die tug en vermaning van die Here nie. Tog, hulle is steeds geroep tot die amp van ouer. Dit moet ons bly respekteer. Elke ouer het sy posisie van God uit liefde ontvang. Eer hulle ter wille van God. “Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie” (Spr. 23:22).


“Daar is net een manier om jou kinders te leer om in Christus se voetspore te loop en dit is om dit self te doen” (Abraham Lincoln).


Gebed: Ons Vader, dankie dat U gesinne uitgedink en in liefde beplan het. Dit kan soms baie moeilik wees om inhoud aan die vyfde gebod te gee en tog weet ek dat ouers hulle posisie van U ontvang het. Dankie vir ouers wat U ken en ‘n verhouding met U het en my onderrig in U weë. U weet dat ek as kind in ‘n moeilike wêreld grootword, ‘n wêreld wat U nie erken nie. Dankie dat my ouers my van kleins af, die regte godsdienswaardes ingeskerp het. Dankie vir my ouer-geskenke uit U liefdeshand. Maak my ‘n kind op wie my ouers trots, én, waarmee U tevrede sal wees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page