top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


JESUS GENEES MENSE IN DIE LANDSTREEK GENNESARET.

(Mark. 6:53-56)


GOD SE PRENTJIE WORD WAAR!


Matt. 14:34-36 – “Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. Net toe die mense van daardie plek agterkom wie Hy is, het hulle boodskappers deur daardie hele omgewing gestuur, en die mense het almal wat ongesteld was, na Hom toe gebring. Hulle het Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.”


Jesus en die dissipels land ná die storm in die landstreek Gennesaret, ’n vrugbare gebied aan die noordwestelike oewer van die see van Galilea en suid van Kapernaum. Met Sy aankoms daar, word Jesus herken en ontstaan daar groot opgewondenheid onder “die mense van daardie plek.” Boodskappers dra die tyding deur die land, en Jesus se pad word afgebaken deur ’n samestroming van lydende, hulpsoekende mense. Van alle kante word siekes na Jesus gebring, en selfs hulle wat net deur die gelowige aanraking van die soom van Sy kleed, word genees. Ai, wat ‘n kontras, as die mense in Nasaret se reaksie maar net dieselfde was, kon hulle dalk ‘n soortgelyke ervaring van Jesus gedeel het (Matt. 13:57-58).


Ons leef vandag in moeilike en gevaarlike tye. Feitlik elke gesprek waarna ons deesdae luister, raak ons al hoe meer bewus dat ons in ‘n unieke tydsgewrig lewe, en die huidige grendeltyd en gepaardgaande virus-pandemie, maak dit nie beter nie. Daagliks hoor ons van mense wat wonder of God wéét van ons en wat met ons gebeur, dat Hy nog vir ons omgee en of Hy iets kan doen aan ons situasie. Is dit moontlik dat ons ook nog opgewonde kan raak wanneer ons hoor van Jesus? As ons die voorreg sou hê om God se prentjie van die wêreld te sien, wonder ek wat sou ons sien?


Wanneer gaan rus en vrede tog oor ons neerdaal? Gaan dit wees wanneer daar ’n nuwe regering aangestel word? Gaan dit wees wanneer elke moordenaar en misdadiger agter tralies sit; wanneer elkeen wat hulle aan korrupsie skuldig maak en gemaak het, oranje oorpakke aan het? Wanneer gaan alles tog ophou? “Ons word gedryf deur ons oorheersers, ons is uitgeput, ons word geen rus gegun nie” (Klaagl. 5:5).


Ek vermoed daar is net een antwoord op al die vrae: Die dag as al die mense die verlossing van Jesus Christus aanvaar het: “As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon” (Heb. 11:6). Dít is God se droom. Dít is God se prentjie vir ons wêreld - dat elke liewe siel by Hom moet uitkom. Dan sal die wêreld oorspoel word met rus en vrede. Maar as ek so om my kyk, is ons wêreld nog ver van dié prentjie af. Kyk maar watter prentjies pop elke nou en dan op jou Facebook muur as jy so scroll, op TV, media, gesprekke: Moord, motorkaping, landskaping, bedrog, diefstal, verkragting, korrupsie, wanadministrasie, ag en wat nog alles. Dit lê die hele wêreld vol. In Suid-Afrika vier dit hoogty!! En die rede hiervoor is dat God se prentjie nog nie ten volle waar geword het nie.


Tot ’n grote mate lyk die wêreld daar buite soos dit lyk omdat onreg seëvier. Ons het heel waarskynlik nie deel daaraan nie (ja, sommige van ons het tog), maar die vraag is eerder: Wat doen ons daaraan? Help ons om dit te keer? Hoe help ons dat God se prentjie deel raak van die wêreld rondom ons? Hoe help ons dat God se prentjie van volkome toewyding aan Hom realiseer? Ek laat sak my kop in skaamte, want ek besef dat ek dikwels só besig is met my eie prentjie, dat ek nie altyd God se prentjie raaksien nie, net nie tyd het daarvoor nie.


Ons moet weer begin om vir mekaar te bid. Ons moet bid vir die regering, vir ons vriende en familie, vir ons kollegas en ons werknemers, vir ons kinders, ons jeug, vir almal moet ons bid dat hulle hul sal oorgee in God se hande. Maar meer nog, ons moet doen. Ons moet Jesus se hande en voete wees waar ons gaan, want mense sien makliker as wat hulle hoor. Wanneer God in aksie is deur ons doen en late, neem God se prentjie vorm aan en sal rus en vrede neerdaal.


Jesus het ‘n nuwe lewe kom bied aan almal wat net wil “agterkom wie Hy is.” Hy bied die krag van geloof aan, ‘n geloof wat staande sal bly selfs teen die Bose, solank elkeen wat soek na geestelike sekerheid, “boodskappers deur daardie hele omgewing stuur, en almal wat ongesteld is, na Hom toe bring.” Saam met ou Paulus voel ons baie dae “in alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie” (2 Kor. 4:8). Kom ons lê ons saak met verwagting aan die Here voor. Die siekes van destyds “het gesond geword net deur aan Jesus se soom van sy klere te raak.”


Des te meer sal ons, wanneer ons tot ons Vader met vertroue nader en ons lewe aan dieselfde Jesus Christus van destyds toewy, ondervind dat die Heilige Gees ons toerus met krag om te lewe in hierdie stukkende wêreld. Om met vertroue in hierdie veeleisende wêreld te kan oorleef, is dit nodig om na God te draai in ons radelose eensaamheid, ons harte oop te maak vir Jesus Christus en die Heilige Gees toelaat om as Vennoot en Metgesel ons te begelei op ons pelgrimsreis. Deur die Gees sal Christus wat die wêreld klaar oorwin het, altyd by ons wees. “God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Heb. 13:5b). “Ek weet op wie ek vertrou” (2 Tim. 1:12), weet jý? Glo jy nog dat Hy die menslik onmoontlike kan doen? Glo en vertrou en kyk hoe word God se prentjie waar!


“Dit is onmoontlik vir ‘n mens om te wanhoop as jy onthou dat jou Helper almagtig en alomteenwoordig is” (Jeremy Taylor).


Gebed: Hemelse vader, U het die antwoord op al my grootste probleme wanneer die lewe ondraaglik raak. Vergewe my asseblief, my oomblikke van vrees en ongehoorsaamheid. Gaan met my deur die vlakte van moedverloor en verhef my deur u Gees, wat my Kragbron is in hierdie verskeurde wêreld. Dankie Jesus dat ek met vertroue op my pelgrimsreis kan vorder met u Gees aan my sy. Dankie ewige Trooster, dat U altyd my troue Metgesel is en altyd daar is om my te ondersteun. Saam met U alomteenwoordigheid, kan ek nooit verlate wees nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page