top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


JESUS LOOP OP DIE SEE (4).

(Mark. 6:45-52; Joh. 6:15-21)


MOENIE BANG WEES NIE, WAAG DIT MET JESUS!


Matt. 14:28-31 – “Toe sê Petrus vir Hom: ‘Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.’ ‘Kom!’ sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: ‘Here, red my!’ Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: ‘Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”


Jesus rek die dissipels se angs nie verder uit nie en stel hulle gerus dat dit Hý is wat hulle sien, en nie ‘n spook nie. Hy gebruik ook dieselfde taal wat God regdeur die Bybel gebruik om mense gerus te stel: “Dit is Ek” of “Ek is” by julle! Maar Petrus was nie so seker nie, of dalk daag hy Jesus uit, en hy waag dit met Hom: “As dit regtig U is, (as U “Ek is” is, as U God is) beveel my om op die water na U toe te kom.” En Jesus nooi hom dadelik uit om dit met God te waag. Jesus betree die terrein van Petrus en nooi hom om dit op Jesus se terrein te waag, om saam met Hom op die water te loop!


Petrus het baie keer impulsief opgetree en miskien was hierdie geleentheid vir hom ideaal om, soos iemand dit gestel het: “Sy naam in die ‘Guinness Book of Records’ te verewig.” Petrus se reaksie word aangevuur deur sy hart – Jesus se teenwoordigheid en Sy gerusstellende stem laat hom reageer op Jesus se uitnodiging: “Kom!” Petrus skep moed, gryp hierdie kans van ‘n leeftyd aan, klim uit die skuit tot op die stormsee, en begin na Jesus toe, op die water te stap. Hy kry dit reg om bo die bangheid en twyfel uit te styg en begin loop in die geloof, omdat hy Jesus gesien en gehoor het. Maak nie saak hoeveel keer hy al in die verlede gefaal het met sy impulsiwiteit nie, sy hart is op die regte plek – op daardie oomblik, by Jesus.


Hy vorder ‘n paar tree bo-op die water maar toe hy egter naby Jesus kom, verskuif sy fokus na die storm en sy ongeloof word skielik só swaar, dit druk hom onder die water in! Sy watertrappery en arms vir roeispane wat nie volkome wil werk nie, laat hom onthou waar sy heil lê en benoud uitroep: “Here, red my!” Sy waterlopery verander na watertrappery en hy word ‘n drenkeling. Petrus neem sy oë weg van Jesus en begin eerder met sy voete roei. Toe dit moeiliker word, steek hy albei sy ander slegte “roeispane” uit na Jesus en plaas sy vertroue weer op Jesus vir redding. Petrus se bravade “check my” word ‘n “red my!” En Jesus het “dadelik Sy hand uitgesteek, Petrus gegryp en vir hom gesê: ‘Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” Matteus meld nie Petrus se antwoord op Jesus se vraag nie, maar sou dit ek wees, was die antwoord dalk: "Omdat dit menslik is om loodvoete te kry wanneer die storms van die lewe jou laat sink." Wat sou jou antwoord wees?


Petrus het seker lank daarna nog gedink aan sy waterlopery, of dalk hoe benoud hy was terwyl hy in sy oomblik van kleingeloof, self moes “roei” en gesink het. Hy het immers Jesus vertrou en het probeer en was suksesvol, al was dit net vir ‘n paar treë. Hy het daarna seker nog baie aan die feit gedink dat hy wel op water geloop het en nie aan die sink nie!


Partykeer begewe ons moed ons ook, of sien ons spoke, en herken ons nie vir Jesus in ons bangheid of benoudheid nie. Partykeer, beleef ons net die lewe wat daagliks sy verkeerde kant vir ons gee, sien ons net die onstuimige see raak. Dit blyk dat Jesus net nie opdaag nie, en maar toelaat dat die wêreld ten gronde gaan. Sommige is al so gewoond om te bekommer dat hulle nie gelukkig is as daar nie iets is om oor te bekommer nie. Dán is dit vir ons net weer nodig om in ons teistering en twyfel oor God se teenwoordigheid, Sy stem te hoor – net te hoor dat Hy by ons is!


Net soos wat Jesus vir Petrus genooi het om te “kom!”, het ons ook soms ‘n bietjie aanmoediging nodig. Die vraag is egter, hoe reageer ons wanneer Jesus sê: “Klim uit jou ‘bootjie’, waag dit saam met My! Kom! Vertrou My en sien hoe jy die onmoontlike doen deur op water te loop.” Ons is egter so bang vir die sink dat ons dit nooit waag om eers uit die skuit te klim nie! Ons is so bang ons misluk, ons is so bang ons kry dit nie reg nie. Dis dalk veiliger in die sinkende boot.


Natuurlik gaan ek en jy soms sink, sommer baie maal! As ons dink ons gaan nooit in hierdie lewe of in ons geloofslewe en in ons geloofsvertroue soms sink nie, leef ons in ’n droomwêreld. Ons is mense wat bang en benoud kan raak, ons twyfel dikwels, daarom sink ons dikwels. Maar ... ons glo in die Lewensredder wat op water kan loop; Hy sal ons elke keer gryp voor ons verswelg word!! En indien ons sou sink, moet ons besef dat daar Iemand magtiger is as die magte wat skynbaar daagliks ons lewe beheer. Daar is Iemand kragtiger! Ons moet net bereid wees om ons kleingeloof en bangheid te bely en uitroep: “Here, red my!”


Ons sal dan nie praat oor die sink nie, maar die paar treë se waterloop. Ons kan want God kan! Hy is die hemelse Heerser wat ons beveel: “Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan” (Jos. 1:9). Strek albei jou desperate hande in afhanklikheid na Jesus toe uit, en voel die greep van Sy hande. Geloof is om my hande in Sy hande te plaas!


“Ons geloof hier op aarde is dikwels niks meer nie as twyfel wat tot troos gebring is, deur God self” (Martin Luther).


Gebed: Here, ek het al dikwels by die punt gekom waar ek moeg is vir al die roei, water uitskep, winde wat my verrinneweer. Ek wil so graag my voete waag op die water en U vertrou met hierdie bangheid en al die worsteling. Telkens vind ek maar weer die onrustige gevoel dat ek alleen hierdie poging ervaar en dan neem ek al die versugtinge weer op mysélf. Dankie dat U elke keer, weer en weer en weer vir my sê “Kom!” Dankie dat U Gees my die selfvertroue en geloofsvertroue gee om uit te styg bo my eie vermoëns. Saam met Dawid kan ek sê: “Met my God spring ek oor ’n muur en loop ek ’n oormag storm!” Want as Geesvervulde kind van U weet ek “Daar is niemand soos U nie, U ry deur die hemel om my te kom help” (Deut. 33:26). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page