top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


JESUS LOOP OP DIE SEE (2).

(Mark. 6:45-52; Joh. 6:15-21)


GOD SE LIEFDE HOU MY VEILIG!


Matt. 14:24-27 – “Die skuit was reeds ‘n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor. Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. Toe Sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: ‘Dis ‘n spook!’ Van angs het hulle hard begin skreeu. Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: ‘Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”


Vergelyk ook Joh. 6:17b-20 – “Dit was al donker en Jesus was nog steeds nie by hulle terug nie. Daarby het die see onstuimig geword, omdat daar ‘n sterk wind gewaai het. Toe hulle sowat vyf of ses kilometer geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom, en hulle het bang geword. Maar Hy sê vir hulle: ‘Dit is Ek; moenie bang wees nie.”


Na die aangrypende wonder van die broodvermeerdering, het die dissipels solank na die oorkant van die meer gevaar soos Jesus hulle beveel het. Intussen loop hulle hulself op die see in ‘n storm vas. Hulle moes stry teen die woeste golwe en die wind wat “van voor was.” Om dinge erger te maak, was die see vir mense in daardie tyd ‘n vreesaanjaende plek waar hulle geglo het, dit die woonplek van bose magte is. Wanneer die see onstuimig is en sterk winde die roeiwerk bemoeilik, word dit nie net ‘n moeilike taak vir die sterkste liggame nie, maar ook vir die moedigste harte. Al was die dissipels op die plek waar die Here wou hê hulle moes wees, het dit gelyk asof alles téén hulle werk – en hulle was bang.


Omdat dit byna tyd vir die Paasfees was, sou dit volmaan wees en dus nie pikdonker nie. In die maanlig, of ook deur Sy goddelike sienvermoë, sien Jesus hulle in die nood op die see (Mark. 6:48). Die stormwind het ten spyte van alle moontlike kragsinspanning, veroorsaak dat hulle feitlik geen vordering kon maak nie. Om hulle in die nood by te staan, gaan Jesus na hulle toe, al wandelende op die see. In die krag van Sy Goddelike majesteit gaan Hy oor die water. Hy wat magtig is om die golwe en die wind te gebied (Matt. 8:26), is ook magtig om die water te laat wees soos die vaste grond onder sy voete (Ps. 77:20).


Aangesien dit nog donker was – tussen drie tot ses uur die oggend – meen hulle dat die gedaante wat oor die water beweeg ’n spook is, en hy is reguit op pad na hulle toe! Waarheen gaan jy as ’n spook jou op ‘n onstuimige see vaspen? Die moeisame stormnag bereik ’n hoogtepunt, angs het hulle van alle selfbeheersing beroof, en gevolglik skreeu hulle vreesbevange oor die water!


Dan volg daardie goue woorde van Jesus: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Hulle het hulle immers gedaan geskrik, maar veral Sy woorde, “dit is Ek”, is gerusstellend en bring hulle tot kalmte. Hierdie woorde waarmee God Hom ook aan Moses bekend gestel het (Eks. 3), bevestig immers Jesus se hemelse identiteit en Sy teenwoordigheid is al wat belangrik is. Hy het gesien hulle roei swaar en Hy kom na hulle toe, kom help hulle in hulle oomblikke van nood.


Net so kom die Here ook na jou en my, al word Sy koms soms sleg belemmer deur vele menslike faktore. Hy kom wanneer storms dreig om ons lewensbootjies te laat sink. Hy kom wanneer ons geloof begin wankel en ons hoop, ‘n knou weg het. Hy kom wanneer ons lewenskragte gedaan raak van al die roei op die storms van ons lewenssee. Hy kom wanneer ons denke bedreig word deur ‘n swak en korrupte regering. Hy kom wanneer ons selfbeeld verpletter word deur werksafleggings en ons houvas op die lewe losraak. Hy het Sy hemelse glorie verruil om na ons te kom, om by ons te wees, ons te kalmeer met daardie goue woorde: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.” Herken en erken ons Hom as ons Verlosser wat ingryp om ons vrese te besweer en die storm laat bedaar, of sien ons Hom aan as ‘n “spook” wat ons lewe dikwels ongemaklik maak?


“God se teenwoordigheid waar ons spartel in die vloed is beter as sonder Hom in ‘n veerboot” (Charles Spurgeon)


Gebed: Here, sommige dae voel ek dat die lewe net te veel van my vereis. Die depressieduiwel loop oral rond en saai verwoesting; lewenslus word versmoor deur hartseer, siekte, armoede en vele meer; moedeloosheid van kostes wat die hoogte inskiet en my begroting wat net nie meer aan al die behoeftes voorsien nie. Ons land is in ‘n warboel van ‘n magdom probleme; ons irritasievlakke is op breekpunt; die lewe is een vaal sleurgang van ongeregtighede wat blyk om te seëvier. Maar dankie Heer, by U is daar hoop, U is in elke slegte omstandigheid, net ‘n gebed ver weg van my af. Daarom is ek “gerus, is ek nie bang nie, U is by my; is ek nie bekommerd nie, U is my God. U help my, U hou my vas, met U eie hand red U my” (Jes. 41:10). Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page