top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


DIE EERSTE VERMEERDERING VAN DIE BROOD (3).

(Mark. 6:30-44; Luk. 9:10-17; Joh. 6:1-14).


GOD IS ALMAGTIG – HY KAN BAIE DOEN MET MIN!


Matt. 14:17-19 – “Hulle sê toe vir Hom: ‘Ons het hier net vyf brode en twee visse.’ ‘Bring dit vir My hier,’ sê Hy. Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan Sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee.”


Vergelyk ook Joh. 6:8-11 – “’n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: ‘Hier is ‘n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?’ Toe sê Jesus: ‘Laat die mense gaan sit.’ Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.”


Matteus vertel vir ons dat Jesus sy dissipels vra om hulle eie voorraad kos te ondersoek sodat hulle daarmee “vir die skare iets te ete kan gee.” Hulle vind vyf brode en twee visse. Johannes voeg in sy evangelie daarby, dat “Andreas, die broer van Simon Petrus, vir Jesus sê dat die vyf garsbrode en twee vissies afkomstig is van ‘n seuntjie tussen die skare.” Dit is die basiese Galilese dieet, “maar wat is dit vir so baie mense?”


Jesus se gesprek met Filippus was ten aanhore van die ander dissipels. Andreas, die broer van Petrus, kom na vore en bring ‘n seuntjie met vyf gars broodjies en twee vissies, na Jesus. Opmerklik is die feit dat Andreas vroeër vir Petrus ook na Jesus toe gebring het met die woorde: “Ons het die Messias gekry” (Joh. 1:41b), maar nou twyfel hy in die vermoë van die Messias wanneer hy die hopeloosheid van die situasie vanuit sy menslike oortuiging bevraagteken, deur Jesus te vra: “maar wat is dit vir so baie mense?” Ek dink Andreas was uiters verleë. Hy het kos gevind vir twee mense. Die vissies is nie eers genoeg om as vissmeer vir die vyf broodjies te dien nie, en een brood vir elke duisend mans!!! Wat van die vrouens en kinders? Sy menslike redenasie kon nie bepaal hoe hierdie duisende daarmee gevoed kan word nie?


Jesus het egter ‘n plan vir die hongeriges. Wanneer jy tot die besef gebring is dat geen mens jou uit jou nood kan help nie, tree Jesus in om te red. Hy is die Een wat nie net vis en brood verander nie, maar mense ook. Hier waar mense sonder voedsel gevoed moet word, tree Jesus as gasheer op. Hy beveel “die menigte om op die groen gras te gaan sit om te eet.” Die groot getal mense skep vir Jesus geen verleentheid nie. Soos ’n vader van die gesin neem Jesus die brood en vis en kyk op na die hemel as teken dat Hy bid (Luk. 9:16). Hy neem die voedsel tot Sy beskikking, om voedsel uit voedsel voort te bring. Dan spreek Hy die seënbede uit, soos dit gebruiklik was, (en vandag nog vir elkeen van ons moet wees), en Hy dank God vir voedsel wat in daardie stadium nog maar net vyf broodjies en twee vissies was, hopeloos te min, maar nietemin, ’n gawe van God.


Die dissipels moet die uitdeelwerk doen, want die wonderteken is nie vir die skare bedoel nie, maar vir húlle. Húlle moet die openbaring van God se heerlikheid aanskou en gló! En wat doen hulle? Hulle gehoorsaam. Hulle kan glad nie verstaan wat aangaan nie en het seker ook nie geglo nie, maar hulle gehoorsaam. Hulle geloofsvertroue het gefaal, maar nie hulle gehoorsaamheid nie. En juis die gehoorsaamheid, bou die geloofsvertroue op!


Baie van ons Christene voel soms so nietig en ontoereikend, en ek sluit myself hierby in. Sommige beskou hulleself so alledaags dat hulle dink hulle het niks om Jesus aan te bied nie. Ander weer is oortuig dat hulle gawes en talente kortkom om enigiets vir Hom te beteken. Ons is só bewus van ons geringheid van ons offer en daarom volg gewoonlik ‘n magdom redes hoekom ons nie ‘n dienskneg in Sy koninkryk kan wees nie. Andreas het miskien net die een talent gehad om mense na Jesus te lei, maar daardie een talent het aanleiding gegee dat duisende gevoed kon word.


Daar is werk vir almal in Sy koninkryk en niemand hoef oorbodig te voel omdat hy/sy nie besondere gawes of vermoëns het nie. Jesus vra nie van ons wat ons besit nie. Die alvermoënde Christus kan wonderwerke verrig met die nederigste dissipel. Daarom sal hy Sy wysheid en krag by dit wat ons reeds besit, byvoeg om ons te verryk en ons gesindheid verander. Met ‘n Christus-gesindheid (Fil. 2:1-7), moet ons hande uitgestrek word in diens aan ander, dan is daar geen perke aan wat God deur ons as toegewyde en gehoorsame instrumente kan doen nie. Moenie jou gawes en talente aan Jesus se koninkryksdiens weerhou omdat jy dink jy is onbelangrik nie, Hy kan baie doen met min! In Sy hande kan ‘n ruwe klip verander in ‘n skitterende diamant!


“Dit is nie groot mense wat groot dinge doen nie; dit is slegs toegewyde mense”

(Phillip Brooks).


Gebed: Verlosser en Saligmaker, dankie vir U gesindheid wat U aan ons kom openbaar het. Verwyder my aardse gesindheid en vul dit met ‘n soortgelyke gesindheid deur u Gees. U skep en skenk soveel geleenthede vir my. En tog voel ek soms so nietig en ontoereikend en dan vloei die verskonings van te veel werk, tyd maak vir my gesin, sosiale verpligtinge nakom en so nou en dan ontspan ook, oor my lippe. Laaste op my besigheidslysie is U. Ek het net nie genoeg tyd en energie oor om nog die dinge wat U Evangelie van my vra, óók te doen nie. Ek het nie eers genoeg tyd om elke dag hierdie volledige E-Kerk dagstukkie te lees nie. Here, vergewe my; neem my lewe, laat dit Heer, U gewy wees meer en meer – gebruik my soos en waar U wil, tot U eer. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page