top of page

Gedagte vir Vandag


Boot wat in See van Galilea in 1986 ontdek is – 8m lank x 2,5m breed.

Volgens oorlewering dieselfde vissersbote wat gedurende Jesus se tyd op aarde gebruik is.

JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


DIE EERSTE VERMEERDERING VAN DIE BROOD (1).

(Mark. 6:30-44; Luk. 9:10-17; Joh. 6:1-14).


DIE HEILIGE GEES GEE OORWINNING OOR TYD!


Matt. 14:13-14 – “Toe Jesus dit hoor, het Hy met ‘n skuit daarvandaan weggegaan na ‘n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg. Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.”


Ofskoon Matteus dit nie meld nie, kan Jesus nie meer in Nasaret wees waar Sy eie mense hom misken het nie (Matt. 13:54-58), aangesien Hy beslis nie “met ’n skuit daarvandaan na ‘n stil plek kon wegvaar nie.” Markus en Lukas vertel egter dat die dissipels teruggekeer het van hulle sendingwerk nadat Jesus hulle uitgestuur het soos verwys in Matteus 10. Hulle het Jesus weer in Kapernaum ontmoet om verslag te lewer van hulle arbeid. Vanweë Jesus se besorgdheid oor Sy dissipels, “vertrek hulle na ‘n stil plek waar hulle ‘n biejie kan rus” (Mark. 6:31-32).


Die geleentheid val moontlik ook saam met “Jesus wat van Johannes die Doper se dood gehoor het” en weens die gevaar wat Herodes inhou, dat Hy Hom terugtrek “na ‘n stil plek om alleen te wees”, buite die grense van die regeer-gebied van Herodus.


Hulle vaar na Betsaida aan die noord-oostekant van die See van Galilea, waar sy dissipels Petrus, Andreas en Filippus vandaan kom (Joh. 1:44). Geleentheid vir rus was daar egter nie, omdat die “menigte mense Hom te voet gevolg het” en nou ook op die verlate plek aangekom het, waar Jesus “hulle innig jammer gekry, en die siekes onder hulle gesond gemaak het”, en Hy boonop sorg dat hulle iets te ete kry. Dit doen Hy sonder sweem van ongeduld, hoewel hulle sy begeerte om ’n bietjie stilte te vind, verydel het.


Moeder Teresa het op ‘n keer gesê, “sy weet God is ‘n ‘Vriend van die stilte’, veral wanneer jy stil gaan sit en probeer luister hoe ‘n boom, die gras en blomme groei. Net so beweeg die son, die maan en die sterre ewe geruisloos oor die uitspansel. Dit is dán wanneer die mens sy volkome afhanklikheid van God nie kan vergeet nie.” Die stilte wat Jesus ons hier wil innooi, is nie om weg te kom van die skare of selfs Herodusse van vandag se wêreld nie, maar miskien die atmosfeer wat die virus-pandemie veroorsaak het. Geen mens kon tot dusver die atmosfeer suiwer van onsuiwerhede wat jy nie kan sien nie, en uiters aansteeklik is. Midde in hierdie pandemie, maak die Here ons weer sensitief vir die nood rondom ons en daar is baie invloede óm ons, waarvan ons nie eers bewus is nie. Net innerlike geestelike waaksaamheid sal ons in staat stel om dit te kan beveg.


Die probleme van die pandemie plaas ‘n groot las op almal van ons se tyd en dit lyk asof ons gedurig in ‘n wedloop met tyd gewikkel is – en ongelukkig lyk dit asof dit ‘n wedloop is wat ons verloor. Wanneer ons in stilte voor Jesus wag nadat Hy vir ons gesê het: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe ...” (Mark. 6:31), dan is dit om te mediteer en God se wil te soek. Dit is immers wat Jesus gedoen het, Sy omgang met die mense het nie gestop by ‘n gevoel van jammerte vir hulle nood nie, nee, Hy het daadwerklik ‘n verskil aan hulle omstandighede gemaak.


Jesus gaan soek die stilte op maar wanneer die mense Sy ruimte van alleenheid binnedring, jaag Hy hulle nie weg nie, inteendeel, Hy kry hulle innig jammer en hy begin om hulle te bedien. Omdat ons kinders van die koninkryk van God is, leef die Heilige Gees in ons en is ons ‘n kanaal van Sy liefde waar Hy ons geplaas het. Ons elkeen kan miskien nie help om die virus te beveg of mense gesond te maak nie, maar die Here het ons nodig om ander te bedien en vir hulle om te gee in sy Naam.


Wanneer ek en jy genoeg tyd deurbring in die teenwoordigheid van ons Vader, sal sy Gees ons die vermoë skenk – hoe besig ons ook al is – om ‘n instrument van Sy vrede te wees. Die Gees sal ons ook lei om ons tyd reg te bestuur, om veral vir die mediese personeel wêreldwyd, wat in uiters gevaarlike en soms moeilike omstandighede moet werk, tyd te maak om onophoudelik vir hulle te bid. Jesus het vir ons tyd gemaak, kom ons maak tyd om ons prioriteite in gebed uit te sorteer.


“Daar is niks wat vergelyk kan word met jou oggendstiltetyd as ‘n bron van seën nie. Dit is die beste tyd om God te ontmoet voordat jy die wêreld ontmoet; met Hom te praat voordat jy met mense praat; om na sy Woord te luister voordat jy na stemme van mense luister”

(William Dobbie).


Gebed: Gees van God, help my om my tyd so te bestuur dat ek altyd tyd sal hê om die deernis en liefde van Jesus aan my medemens te bewys. Hemel Vader, dankie vir die vier en twintig ure van elke dag wat U my gee om my tyd vol te maak. Help my dat ek dit ten beste sal benut. Help my om in my besige program, genoeg tyd opsy sal sit om met U te praat en u Woord te bestudeer. Leer my dat die tyd wat aan my beskikbaar gestel word, ‘n gawe uit U hand is en dat ek daarom, in nederigheid en afhanklikheid, stil sal raak voor U sodat ek die fluistering van u Gees kan hoor. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page