top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


DIE DOOD VAN JOHANNES DIE DOPER (3)

(Mark. 6:14-29; Luk. 9:7-9)


ONS GODGEGEWE VERANTWOORDELIKHEID!


Matt. 14:6-12 – “Met Herodus se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias voor die gaste gedans. Herodus was so in sy skik met haar dat hy ‘n eed afgelê het dat hy vir haar sal gee net wat sy vra. Haar ma het haar voorgesê en sy het gevra: ‘Gee vir my hier in ‘n skottel die kop van Johannes die Doper.’ Hieroor het die koning baie sleg gevoel, maar vanweë die eed wat hy voor die gaste afgelê het, het hy opdrag gegee dat aan haar versoek voldoen moet word. Hy het iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof. Hulle het sy kop in ‘n skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na haar ma toe gevat het. Sy dissipels het sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel.”


Herodias se tienderjarige dogter uit haar vorige huwelik, moontlik Salome volgens die skrywer Flavius Josefus, doen die ongehoorde ding vir iemand uit die vorstehuis om tot die status van ’n danseres by ‘n ete te daal. Agter die dogter se optrede, en haar versoek vir Johannes se kop, is duidelik Herodias se invloed te sien. Herodias het haar kans om permanent van die Doper ontslae te raak, mooi afgewag tot op ’n geskikte dag. Toe Herodes by geleentheid van sy verjaarsdag al die vernaamstes van sy ryk, die militêre en burgerlike owerheidspersone genooi het vir ’n fees, het sy die ongeveer vyftienjarige Salome laat binnegaan en ’n welluswekkende dans laat uitvoer.


Vir Herodias was die kuisheid van haar dogter nie ’n te grote prys vir die kop van Johannes nie. Salome behaag die halfdronke koning en sy gaste en in die roes van wyn, wellus en grootheidswaan, sê Herodes haar enigiets toe wat sy mag vra. Met ’n eed bevestig hy dat hy selfs tot die helfte van sy koninkryk aan haar sou gee. Die gevolge van sy onverantwoordelike eed kon hy op daardie tydstip nie bereken nie. Trouens, wat sou ’n vyftienjarige dogter nou vra?


Haar versoek van “Johannes die Doper se kop in ‘n skottel”, was vir Herodes ’n ontnugterende skok. Die onverwagse en koelbloedige versoek laat hom meteens die gevolge van sy eed insien. Herodias het haar web listig gespin en hom in ’n val laat loop. Sy eed was nou ’n saak van eer omdat dit gedoen is in die teenwoordigheid van sy hooggeplaaste gaste, en om teenoor hulle ’n eervolle man te bly, word hy die eerlose wat sy dronkmans-eed stel bo die lewe van die Godsman, en aan die eis van ’n verraderlike, haatsugtige vrou voldoen in plaas van die eis van geregtigheid.


Hoe maklik lei die een sonde tot 'n ander – begeerlike kyke word uiteindelik moorddadige vergrype – ‘n man van Herodus se statuur kan homself nie beheer nie. Wat gaan die mense sê; wat wil Herodias hê? In sy swakheid maak hy dwase beloftes en as swakkeling “voel hy baie sleg” om uitvoering te gee aan die versoek van Salome, maar doen dit tog! Teenoor die groei van die mosterdsaad en die suurdeeg, is daar ook in die koninkryk van God, die groei van die kwaad! Teenoor die Herodusse wat soos onkruid tussen die goeie koring groei, groei die triomf van Christus se volkome oorwinning oor die Bose en verseker dat God se koninkryk, steeds groei.


Johannes se geloofsmoed het hom sy lewe gekos maar hy het hierdie prys betaal ter wille van die waarheid. Dissipels van Jesus word gedryf deur ‘n mag wat sterker is as enige ander krag of mag in die wêreld van haat, vrees, woede, bitterheid, ag, noem maar op, elkeen se lysie verskil en sommiges s’n is eindeloos. Dissipels van Jesus het ‘n Godgegewe verantwoordelikheid om in liefde, ander mense tot orde te maan. Ek en jy sal seker nie ons koppe verloor as ons sou waag om dit te doen nie, maar dit kan nogtans slegte gevolge inhou. Eerlikheid word oor die algemeen nie te goed ontvang nie. Elke opsie van vermaning lyk so reg, maar tog is daar net een regte een. Dikwels het ons die verkeerde een geneem, omdat ons insig en wysheid oor die pad vorentoe te min was. Die gevolge is gewoonlik dan nie so lekker nie.


Hoeveel keer het ons nie al gewens om weer ’n kans te kry om ’n beter besluit te neem nie? Soms is dit egter te laat en word daar nie nog ’n kans gegun om weer ’n keer ’n keuse te maak nie: Die ou wat net nog één bier gedrink het en op pad huis toe ’n kind wat voor sy kar ingehardloop het, doodgery het; die besigheidsman wat net één keer ’n paar warm note onder die tafel gevat het en vandag sonder ’n besigheid, sonder sy familie, sonder sy vriende in die tronk sit; die vrou wat te naby aan haar baas gestaan het en toe gly hy op die “badsepie” (n.a.v. Batseba en Dawid), en laat net stukkende gesinne en seer agter; die tienerseun en meisie wie se clutch gegly het en hulle lewe net daar handomkeer verander het. En só bly die mens die sonde van Herodus en Herodias herhaal.


Elke dag neem ons ’n klomp besluite by die kruispaaie van die lewe. Sommige klein. Sommige groot. Daarom die opdrag vir my en jou: “Jy moet verkondig wat in ooreenstemming is met die gesonde leer. Sê vir die ouer mans…! Net so vir die ouer vroue …! En die jonger mans en vroue …! (Lees Titus 2:2-10). Dis ons elkeen se keuse of ons wil luister of nie. Daar is soveel wysheid in die Woord van God, maar as ons dit nie lees nie, is dit asof ons ons doof hou vir al die wyshede wat daaruit vloei. Die wysheid wat ons in die Bybel raakloop, wil ons hand neem en ons die klippe wys waar ons ons tone nerf af kan stamp. Dit wil ons keer om oor die rante te foeter en op die regte paaie te wandel. Is daar dinge wat met jou gebeur het waarin lesse was wat wag om geleer te word?


“Die sinnelose en oneervolle einde van die Doper se “kop in ‘n skottel”, is in koninkryksterme nie die einde nie. Al sterf ons is ons op grond van die Jesus-gebeure, veilig by God. Dit is die triomf!” (Kobus Myburgh).


Gebed: Here, rus my toe met wyshede uit U Woord. Vergewe my die oomblikke van ongehoorsaamheid. Lei my deur u Gees tot geestelike waagmoed om my Godgegewe verantwoordelikheid na te kom. Saam met Johannes die Doper se prediking van baie eeue terug wil ek ook bely: “Alles wat oor U gesê is, is waar” (Joh. 10:41). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page