top of page

Gedagte vir Vandag


“Deur Jesus kan ons triomfeer in God se koninkryk, ten spyte van alles wat met ons in hierdie wêreld kan gebeur.”

JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


DIE DOOD VAN JOHANNES DIE DOPER (2)

(Mark. 6:14-29; Luk. 9:7-9)


DIE NAAM VAN ALLE NAME!


Matt. 14:3-5 – “Vroeër Het Herodus vir Johannes laat vang, laat boei en in die tronk laat opsluit. Dit het hy gedoen oor Herodias die vrou van sy broer Filippus, want Johannes het vir Herodus gesê: ‘U mag haar nie as vrou vat nie.’ Herodus wou hom daaroor doodmaak maar was tog bang vir die mense, omdat hulle hom as ‘n profeet beskou het.”


Matteus neem ons hier ‘n wyle terug in die verlede deur te vertel waarom Johannes die Doper die hoogste prys moes betaal. Omdat Johannes vir Herodus Antipas herhaaldelik aangespreek het oor sy huwelik met Herodias, sy broer Filippus se vrou, het hy Johannes aanvanklik in die tronk laat opsluit en toe op grusame wyse laat onthoof op aandrang van sy dogter (Salome) en vrou Herodias, al was dit eintlik teen sy sin.


Hierdie heerser wat hom skuldig maak aan die een sonde na die ander naamlik ontrouheid, owerspel en bloedskande, kon nie Johannes se kritiek verwerk nie. Owerspel is tog sonde – “Jy mag nie met jou skoonsuster gemeenskap hê nie, want dit sal skande oor jou broer bring” (Lev. 18:16) – en Johannes kon as profeet nie anders as om dit te veroordeel nie.


Die gevolg van Johannes se optrede was dat “Herodus hom daaroor wou doodmaak maar bang was vir die mense, omdat hulle hom as ‘n profeet beskou het.” Maar Herodias wou Johannes permanent stilmaak en om hom teen Herodias te beskerm, het Herodes Johannes gevange gehou. In die gevangenis het hy Johannes onder sy beskerming geneem omdat hy besef het dat Johannes ‘n opregte en godvresende man is. Hy het dikwels na Johannes geluister (Mark. 6:20). Merkwaardig is die werking van Gods Woord deur die mond van die regverdige, toegewyde getuie: dit veroorsaak ‘n ernstige tweestryd; dit bestraf die sonde en wek daardeur die haat en onguns van die sondaar, maar dit laat die sondaar nie los nie. ’n Skuldige gewete het vrees by Herodus gewek. As dit dan Johannes was wat uit die dood opgewek is, sou hy verplig wees om weer teen hom op te tree.


Herodus het egter nie ‘n idee met wie hy te doen het nie. Johannes was maar net die profeet wat die koms van die koninkryk van God aangekondig het (Matt. 3:2). Die verskil is dat Jesus juis die koninkryk van God ís wat naby aan hulle gekom het (Matt. 4:17). Johannes het Jesus vooruitgegaan in die dood maar Jesus het Johannes vooruitgegaan in die opstanding in wie die triomf van die koninkryk van God lê, ten spyte van tragiese besluite deur dwase en swakkelinge.


Jesus se aardse lewe was vir baie mense, maar van weinig belang. Oral waar Hy gegaan het, moes hy te voet doen want hy het nie eers ‘n donkie of ander ryding besit nie. Hy het trouens niks gedoen wat gewoonlik met beroemdheid geassosieer word nie. Hy het geen getuigskrifte gehad behalwe vir dit wat Hy self was. Hy is deur mense verneder tot in die dood, tog het Hy opgestaan uit die dood as Verheerlikte en Oorwinnaar oor die dood, om vir dieselfde mense wat Hom verneder het, te pleit by God – Sy Naam is die Naam van alle name – Christus Jesus, ons Here!!!


Sedertdien het twintig eeue verloop en bevind ons onsself in 2020. Verseker een van die moeilikste jare vir baie mense. Maar, die waarheid is dat Jesus Christus die sentrale figuur van die menslike ras is en bly; die Een wie se geboortejaar die jaartelling van die Westerse wêreld bepaal het. Al die leërs wat nog ooit opgetrek het, die vlote wat ooit geseil het, al die parlemente wat ooit gesit en al die leiers wat ooit geregeer het, kon die lewe op aarde nie in dieselfde mate beïnvloed as hierdie EEN LEWE nie! Waarlik, in Hom het die koninkryk van God naby gekom, ‘n koninkryk wat anders werk as die koninkryke van die wêreld – Sy Naam is die Naam van alle name – Christus Jesus, ons Here!!! Moenie Sy koninkryk misloop nie!!!


“Die sterwende Christus is die bewys van die woede van God teenoor die sonde; maar die lewende Christus is die bewys van God se oneindige liefde en vergifnis” (Lorenz Eifert).


Gebed: Ons Vader in die hemel, U ingryping in die menslike geskiedenis bly vir my ‘n misterie. Die maagdelike geboorte van U Seun, bly ‘n raaisel vir my gewone verstand. Tot U aardse “papiere” het nie goed gelyk nie. Maar dankie Jesus, dat U juis aarde toe gekom het om vir mense soos ek, met ook die verkeerde “papiere”, ‘n nuwe kans by God te gee. Omdat die handtekening van U kruisbloed oor my lewe geskryf is, is ek iemand wat iewers saak maak. Dankie dat U my van hoek tot kant skoon gewas het met U bloed. Dankie Gees van God dat U my elke dag waarborg, dat ek, sondaarmens, deel is van God se koninkryk. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page