top of page

Gedagte vir Vandag


Volgens oorlewering die berg by Nasaret waar die Jode Jesus van die krans wou afgooi.

JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


JESUS WORD IN NASARET MISKEN (3)

(Mark. 6:1-6; Luk. 4:16-30)


AANSTOOT TOT ONGELOOF!


Matt. 13:54-58 – “Jesus het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en Hy het die mense in hulle sinagoge so geleer dat hulle verstom was en gesê het: ‘Waar kry hy dan al hierdie dinge vandaan?’ En hulle wou niks van Hom weet nie. Jesus sê toe vir hulle: ‘’n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.’ Vanweë hulle ongeloof het Hy daar nie baie wonderwerke gedoen nie.”


Vergelyk ook Luk. 4:28-30 – Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi. Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan.”


Lukas beskryf vir ons in sy weergawe van hierdie verhaal, dat Jesus in die sinagoge in Nasaret kort stukkies uit Jesaja gelees het en toe gaan sit het om te preek. Alle oë was op hierdie dorpskind van Josef en Maria gerig. Baie van die luisteraars was waarskynlik maatjies van Hom uit hulle kinderjare en “almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond” (Luk. 4:22). Maar hulle aanvanklike verstomming het baie gou verander in woede.


Hulle reaksie op Jesus se agtergrond, het Hom laat agtergekom dat hulle van Hom wou eis dat Hy in sy tuisdorp Nasaret, dieselfde wonderwerke moes doen wat Hy in Kapernaum gedoen het. Met ’n plegtige uitspraak bevestig Jesus die waarheid van die spreekwoord dat ’n “profeet oral erken word behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.” Om dit te bekragtig, rig Jesus aan die selfversekerde inwoners van Nasaret ’n baie ernstige waarskuwing.


Hy verwys na twee stukke uit die Ou Testament oor die profete, Elia en Elisa, wat God gebruik het om heidene te red, ten spyte van Israel wat daardie tyd in groot nood verkeer het. Dus, God kan Sy volk verbygaan en Sy genade aan vreemdelinge bewys. Hy kan Nasaret verbygaan as hulle volhard in hulle ongeloof. Maar dis onmoontlik! Hy is tog die God van Israel en sal nie heidene verkies bo hulle nie, wat Jesus sê is verraad teenoor God!


In hulle ore is Jesus se aanspraak en verdere uitsprake, laster teenoor God. Hulle huiwer ook nie om geweld te gebruik nie. Hulle jaag Jesus “uit die dorp na die rand van ’n afgrond” met die bedoeling “om Hom van die krans af te gooi.” Maar die onverwagte gebeur. Jesus loop “tussen hulle deur” en verlaat Nasaret. In Jesus se tuisdorp was dit nie ‘n geval van ‘n “Kind van ons dorp blink uit nie,” maar eerder “wie dink hierdie timmermanseun is Hy?” En “vanweë hulle ongeloof het Hy daar nie baie wonderwerke gedoen nie” en sover die Bybel, het Jesus nooit weer teruggekeer na Nasaret nie.


Verbasend dat Jesus nie daar wonderwerke gedoen het nie. ‘n Mens sou die teenoorgestelde verwag dat Jesus juis téénoor hulle ongeloof in, ‘n klompie wonderwerke sou doen wat hulle denke teenoor Hom sou verander, en miskien hulle geloof in Hom ook verander het. Nee, dis nie hoe Jesus “operate” nie. ‘n Mens glo nie in die bestaan van God deur bewyse of wonderwerke nie, “ons weet waar Jesus vandaan kom. Hy het nie uit sy eie gekom nie, ons erken Hom as die Een wie die ware God gestuur het?” (Joh. 7:28).


God se Gesalfde het Gód se agenda kom uitvoer, nie ons s’n nie. Hy’t gekom om ons die volle waarheid oor God en oor onsself te kom vertel, nie net die stukkies daarvan wat ons graag wil hoor nie. En Hy’t gekom om grusaam te kom ly vir die sondes wat óns gedoen het, om ons met God te versoen – ons elkeen wat deur die Heilige Gees daartoe gebring is om te aanvaar dat dit wat Hy gedoen het, vir mý en jou ook gedoen het. Hy het gekom, nie om oorlog te maak teen die vyande wat óns haat en uit die pad uit wil sien nie, maar om oorlog te kom voer teen dit wat Gód haat: die sonde in ons …! Jesus, die Gekruisigde, is Christus, nie die Christus wat óns Hom wil maak nie, maar die Een wat Sy Váder Hom gemaak het – ons Verlosser!


En hier is dit juis belangrik om die koms van Jesus dieper na te speur as om net vas te stel waar Hy as kind opgegroei het. Wie by laasgenoemde vassteek, begryp nog niks van Sy sending nie. Tot vandag toe is dít steeds die groot aanstoot. Tot vandag toe sal enigeen van óns ook erg ongewild raak en dalk selfs kwaai teenstand kry, indien ons sê dat iemand wat die Here Jesus verloën, glad nie vir God ken nie en glad nie die ewige lewe het nie. Pascal was nie ‘n teoloog nie, maar ‘n beroemde natuur- en wiskundige van die 17de eeu. Hy het gesê: “’n Mens kan alleen vir God ken, as God na die mens toe kom en in Christus Jesus, die Verlosser, het God na die mens gekom! Om God deur Christus te ken beteken om jou ellende, jou sondigheid, jou behoefte aan verlossing van jou sondes te ken.”


Daar is géén ander manier waardeur enige mens die ewige lewe kan verkry nie. Dis eksklusief slégs deur híérdie Jesus van Nasaret, die Seun van God! (Joh. 14:6). Het Jesus al na jou toe gekom, indien nie, wat van jou verhoed Hom?


“Die lewe is ‘n komedie vir hulle wat redeneer; ‘n tragedie vir hulle wat voel; ‘n triomf vir hulle wat glo” (Francis Bacon).


Gebed: Jesus Christus, Seun wat naaste aan die Vader is, dit is só tragies dat die Jode van destyds, U verwerp het. Hulle moes eintlik U met ope arms ontvang het want U ken God en het Hom kom bekend stel. U kom van God; U is God uit God, die besondere Gesant van God, en tog het sommiges van hulle geweier om U te aanvaar. Ai Here, en dan is daar vandag steeds mense wat U nie wíl ken of herken nie en U verwerp. Daarom wil ek saam met Paulus bid dat hulle geloof in U sal groei en hulle met hulle mond sal bely dat U die Here is en met hulle hart sal glo dat God U uit die dood opgewek het, sodat hulle gered kan word (Rom. 10:9). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page