top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


JESUS WORD IN NASARET MISKEN (2)

(Mark. 6:1-6; Luk. 4:16-30)


ONGEWENSDE VENYNIGHEID VEROORSAAK DAT JY KANSE DEUR JOU VINGERS LAAT GLIP!


Matt. 13:54-57 – “Jesus het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en Hy het die mense in hulle sinagoge so geleer dat hulle verstom was en gesê het: ‘Waar kry hy dan al hierdie dinge vandaan?’ En hulle wou niks van Hom weet nie. Jesus sê toe vir hulle: ‘’n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.”


Vergelyk ook Joh. 7:1-5 – “Hierna het Jesus in Galilea rondgegaan. In Judea wou Hy dit nie doen nie, omdat die Jode daar Hom wou doodmaak. Maar die huttefees van die Jode was naby. Jesus se broers sê toe vir Hom: ‘Gaan ‘n bietjie hiervandaan na Judea toe dat jou dissipels daar ook die wonderdade kan sien wat jy doen. ’n Mens wat oral bekend wil wees, doen nie iets in die geheim nie. Aangesien jy dan hierdie dinge doen, maak jou openlik aan die wêreld bekend.’ Selfs Sy broers het nie in Hom geglo nie.”


Jesus bevind Hom in Sy tuisdorp waar hy opgegroei het en die grootste deel van Sy aardse lewe deurgebring het. Dit is te verwagte dat Hy hier seker ook vir sy “eie mense” wou laat verstaan dat Hy deur God gestuur is om Sy koninkryk op aarde te kom proklameer. Maar ons lees in die “Evangelie volgens Johannes”, dat Sy broers aanstoot geneem het, nie in Hom geglo het nie en basies met Hom gespot het. “Sy familiekring” het Hom nie ernstig opgeneem nie, en dit het waarskynlik aanleiding gegee, dat die hele Nasaret “niks van Hom wou weet nie.” Jesus se tuisdorp wat die hoogtepunt van Sy bediening moes ervaar, word die laagtepunt. Selfs Sy broers het die kans van ‘n leeftyd, deur hulle vingers laat glip. (Ons weet darem Jakobus en Judas het later Jesus begin glo en Hom gevolg. Hulle is die skrywers van “Jakobus” en “Judas” boeke in ons Bybel.)


Jesus se broers, Jakobus, Joses, Judas en Simon, ontken nie dat Jesus wonderdade doen nie maar lê Hom dit ten laste dat Hy “hierdie dinge doen” om publisiteit vir Homself te verkry. Spottender wys verwys hulle na Hom as “'n mens wat oral bekend wil wees”, en daarom Sy wonders op ander plekke moet gaan tentoonstel. Wat Hy in Galilea doen, is so goed as in die geheim omdat dit ver van Jerusalem af is. Jerusalem is die regte plek vir iemand wat daarna streef om ’n openbare figuur te wees. (Dit klink darem baie na die duiwel wat Jesus versoek het om van die tempel se dak af te spring om so vir die mense Sy wondermag te wys!) Hulle weet dat dit die reël is om vir die huttefees na Jerusalem te gaan en verwag dus dat Jesus ook sal gaan, maar daaromtrent is hulle sarkasties. Hulle optrede en versoek getuig van hulle ongeloof en van ’n wanbegrip aangaande die eintlike roeping van Jesus.


In Sy antwoord wys Jesus op die ingrypende verskil tussen die verloop van Sý lewe en dié van Sy broers. Hy staan onder die dissipline van ’n tydrooster in die uitvoering van sy Goddelike opdrag. Daarteenoor was die broers nie aan so ’n tydtafel gebonde nie. Hulle het nie rekening gehou met die wil van God nie, maar eiewillig besluit oor hulle kom en gaan. Hulle was ook nie gebonde aan die uitvoering van ’n opdrag van God nie, en het net aan hulle eie belange gedink. Hier kom die skeiding tussen Jesus en Sy broers. Hy weier om saam met hulle na die fees te gaan en ook om te gaan met die bedoelings wat hulle aan Hom voorhou. Hulle hoef niks te vrees nie en kan dus na die fees gaan waar “die wêreld”, die Jode, die toon aangee.


Vir die uitvoering van Jesus se Godgegewe taak – die verlossing van mense – “het die tyd nog nie gekom nie.” Wat was Sy broers se Godgegewe taak? Wat is alle mense se Godgegewe taak in hierdie wêreld? Nie om ander mense te verlos nie, want ons kan dit nie doen nie, en in elk geval het Jesus dit klaar volledig en volmaak gedoen! Ons taak is geloof: om te gló in die Verlosser wat God vir hierdie wêreld gegee het; waar Hy aan die kruis gesterf het en op die derde dag uit die dood opgestaan het om elkeen wat in Hom glo, van die skuld van die sonde en van die straf op die sonde te verlos. Ons taak is bekering: om dit wat ons verkeerd doen te verander en die regte dinge doen. Ons plig is heiligmaking: om te groei in kennis van die Woord van God en in geloofsvertroue en in gehoorsaamheid aan die Here; volharding: om nie moeg te word vir die lewe saam met die Here en vir die stryd teen die verkeerde nie; om die Here te dien, om Sy koninkryk en kerk te help opbou, om ons medemense lief te hê ...!


Vir ons taak of plig, is ons nie soos Jesus in Sy verlossingsplig, aan ’n sekere tydstip gebonde nie. Vir wat ons moet doen, “is enige tyd reg” (Joh. 7:6b). Hierdie uitspraak sê dat ons nie sulke “ek-sal-nog-eendag” mense mag wees nie? Die tyd waarin ons nóú leef, is die tyd wat God vir my en jou gereed gemaak het vir die uitvoering van die pligte wat Hy ons gegee het; dis nóú die spesiale geleentheid wat Hy ons gee; dis nóú die kans wat ons moet aangryp. Daar’s nie so ’n ding dat die tyd vir dit wat die Here van ons verwag, nog eers moet ryp word nie. Daarvoor is die tyd klaar ryp! Ons kan nie nog so ’n bietjie wag voordat ons regtig voluit dissipel van Jesus Christus gaan word nie. Wanneer die Here Jesus “se tyd vir Hom reg is” (Joh. 7:8b), en Hy op die vasgestelde tyd, wéér kom, moet ons selfverwyt nie verskriklik wees nie. Los dit vir die uitstellers, die mense wat dit wat die Here van hulle verwag, “eendag” sal doen. Moenie ‘n “Nasaretter” broer of suster wees wat Hom die rug toekeer nie!


“Jy kan elke dag besluit oor tydsbenutting wat God jou gee. Jy kan lewe asof Christus gister gesterf het, vandag uit die dood opgestaan het, en môre weer terugkom. Of jy kan lewe asof Jesus dood is. Dit is jou keuse!” (Barbara Johnson).


Gebed: Here, in hierdie genadetyd wil ek vra dat U my tyd, my dae indeel sodat ek dit oordeelkundig kan gebruik, want tyd is U geskenk aan my. Help my om nie my Godgegewe take en verpligtinge uit te stel nie, maar om geleenthede wat U my gee, met altwee hande aan te gryp. Skenk my die genade sodat my besigwees dae, nie sonder U is nie, dat elke dag nie maar soos die vorige dag is nie – want dan is dit tot die dood toe leeg! Dankie dat U ín die tyd is, dat U tyd ‘n tyd-met-toekoms is, met nuutheid, nuwe lewe en krag. Ek wil U loof en dank. By U is daar bevryding en verlossing te vind! Dankie tog! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page