top of page

Gedagte vir Vandag


Nasaret vandag met die Kerk van Aankondiging in die voorgrond.

JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY, SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


JESUS WORD IN NASARET MISKEN (1)

(Mark. 6:1-6; Luk. 4:16-30)


HINDERNISSE VAN ONGELOOF!


Matt. 13:53-56a – “Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan weggegaan. Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en Hy het die mense in hulle sinagoge so geleer dat hulle verstom was en gesê het: ‘Waar kry hy hierdie wysheid vandaan en die vermoë om die kragtige dade te doen? Is hy dan nie die timmerman se seun nie? Is sy ma nie Maria en sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? En sy susters, is hulle nie almal hier by ons nie?”


Jesus se openbare optrede verskuif nou na die gebiede oos en noord van die See van Galilea. Nadat Hy vir die skare en Sy dissipels die sewe “koninkryksgelykenisse” vertel en hulle geleer het, onttrek Jesus Hom uit Galilea en arriveer “in die dorp Nasaret, waar Hy grootgeword het.”


Op die sabbatdag gaan Hy soos Sy gewoonte was, na die sinagoge vir die godsdiensoefening. Die aansienlike skare wat vergader het, merk dat Sy woorde met gesag uitgespreek word en kragtig op hulle inwerk. Die inwoners van Nasaret wat Hom van kleins af geken het en van Sy nederige afkoms weet, kan nou nie begryp hoe Hy sulke woorde kan spreek en werke kan doen soos hulle van Hom verneem het nie. Aangesien hulle weet dat Hy nie by die rabbi’s op skool was nie, besef hulle dat dit aan Hom “gegee” moes gewees het om so ’n mag en wysheid te openbaar.


’n Reeks retoriese vrae volg waarop húlle die antwoorde baie goed ken, en tog word Sy wysheid en kragtige dade ‘n koue skouer gegee omdat hulle hom kan etiketteer as deel van die familie van die “timmerman” en met sy moeder, “Maria en broers Jakobus, Josef (ook Joses genoem), Simon en Judas.” Sy pa Josef se naam word nie genoem nie omdat hy waarskynlik teen dié tyd al oorlede is, en die name van Jesus se susters word weerhou omdat die vrou ‘n “minderwaardige posisie” destyds beklee het. Jesus se ware identiteit as Messias word in twyfel getrek as gevolg van sy “eie mense” se hindernisse van ongeloof!


Dit moes vir Jesus uiters teleurstellend gewees het dat die mense tussen wie Hy sy kinderjare deurgebring het, Hom bevraagteken. Hy het immers nie Nasaret besoek om die mense te probeer beïndruk nie, maar sodat hulle ook kon hoor van “God se koninkryk wat tot bý hulle gekom het.” Maar, die blote feit dat Hy, die bekende timmerman, nou as leermeester of rabbi verskyn, wek by hulle die vooroordeel.


Dit is ongelukkig vandag nog so dat mense se belange totaal vervleg is. Ons het Jesus nog nooit gesien of ontmoet nie. Al wat ons het is Sy brief, die Bybel. Op grond van dié brief moet ons glo in die Woorde wat Hy gespreek het. Menigte mense sê egter steeds vir Hom: “Nee dankie, ons sal self regkom.” Ons gelowiges moet daarom besef, dat ons ook net soos Jesus, nie oral welkom sal wees nie, veral wanneer jy die moed aan die dag lê om oor Hom te getuig. Onthou dan, ons is reisigers in ‘n woestyn van sonde, maar daar is ‘n Fontein met Lewende Water en dit is die Enigste plek waar ons ewigdurende dors geles kan word. Ons is skape wat soms doelloos ronddwaal en die Enigste Ingang na die kraal en veiligheid, by Hom te vinde is.


Die boodskap van die koninkryk van God, was vir die meerderheid Jode onaanvaarbaar en hulle wou nie na Jesus luister nie. Gaan ons maak soos hulle? Of gaan ons met wysheid Sy woorde aanneem en saam met Paulus bely: “Ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir ander is dit onsin. Maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke (en Suid-Afrikaners), is Christus die krag en die wysheid van God ” (1 Kor. 1:23-24). Aan God is dit te danke dat ons in Christus verenig is. Volhard elke dag op Jesus se pad al is dit soms opdraande en voel dit soos ‘n ompad – Sy ompad is ons op pad na die ewige bestemming“Geseënd is ek en jy wanneer die mense ons ter wille van Jesus Christus beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van ons sê. Wees bly en verheug, want ons loon is groot in die hemel” (Matt. 5:11).


“Geloof kan nie geërf word of verkry word deur in ‘n kerk gedoop te word nie. Geloof is ‘n kwessie tussen die individu en God” (Martin Luther).


Gebed: Dankie Jesus dat ek weet dat U elke gelowige altyd vashou met U stewige hande. Ek steek my bewende hande na U toe uit Here, hier is dit, hou my vas, gryp my. U is die enigste Naam wat aan mense gegee is om ons geloof te versterk: Jesus alleen! Ek weet dat geloof alleen my nie kan red nie, maar my geloof in U, Jesus Christus, kán my red. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Dankie Jesus dat U seker gemaak het dat ek ook ‘n kind van God kan wees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page