top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE DERDE TOESPRAAK – “DIE KONINKRYKSREDE”: GELYKENISSE VAN DIE KONINKRYK.

(Matt. 13:1-53)


JESUS PRAAT MET DIE DISSIPELS – DRIE KORT GELYKENISSE (4).


OU EN NUWE SKATTE


MOENIE DIE KONINKRYK MISLOOP NIE!


Matt. 13:51-52 – “Verstaan julle al hierdie dinge?” ‘Ja,’ antwoord hulle Hom. Hy sê toe vir hulle: ‘So is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos ‘n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”


Nadat Jesus die skare verlaat het en huistoe gegaan het, het die dissipels Hom gevra om die gelykenisse aan hulle te verduidelik (v. 36). Na Sy verduideliking oor die “onkruid in die land” en vertelling van nog drie korter gelykenisse, vra Hy of hulle verstaan waaroor al hierdie dinge gaan. Hulle antwoord bevestigend dat hulle nie net die rede verstaan waarom Jesus die mense in gelykenisse leer nie, maar ook Sy dade, wat natuurlik kontrasterend is teenoor die godsdiensleiers en skare se verstaan daarvan.


Jesus sluit hiermee Sy derde toespraak wat handel oor die sewe “Koninkryksgelykenisse” af. Omdat die dissipels bevestigend geantwoord het hulle verstaan Sy boodskap, kwalifiseer Jesus hulle nou dat hulle daardeur letterlik “onderrig is as” dissipels van die koninkryk, iemand wat terselfdertyd as ’n nuwe soort skrifgeleerde, naamlik koninkryk-skrifgeleerde, kan optree; optree as leermeesters wat nuwe en ou dinge uit hulle hart en lewe se voorraad, na vore kan bring en onder die mense gaan versprei. Anders as die Joodse skrifgeleerdes wat vertolkers van die wet was, daag Jesus sy dissipels nou spreekwoordelik uit om as “studente” wat onderrig is, moet aansluit by Hom wat juis die “geheime dinge wat van die begin van die skepping af bestaan het” (v. 35), wêreldwyd te gaan verkondig.


Jesus vertel hierdie “vierde kort gelykenis” wat amper by ‘n mens verbygaan, van ‘n “skrifgeleerde wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos ‘n huiseienaar is wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.” Die koms van die koninkryk laat jou alles herwaardeer. Dinge werk anders in die teenwoordigheid van Jesus, want Hý is anders! Daar is dinge in die ou bedeling van die Ou Testament wat byvoorbeeld net so voortgaan in die Nuwe Testament – God se genade en liefde; Sy eis tot geloof en gehoorsaamheid. Dan is daar dinge wat tot ’n einde gekom het, byvoorbeeld die versoening deur offers, die onderhouding van die wet in terme van die besnydenis en die Sabbat. En daar is natuurlik nuwe dinge, soos die doop en die nagmaal wat die unieke uitkomste van die koms van die koninkryk van God, in Jesus verteenwoordig.


Sowel die oue as die nuwe is belangrik. Jesus het dit sommer vroeg al in Sy bediening tydens Sy “Bergpreek” bekendgemaak: “Ek het nie gekom om die wet en die profete ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry” (Matt. 5:17). Die Ou Testament dui die weg na Jesus, ons Messias aan. Die Nuwe Testament openbaar Christus self, in wie ons kan glo, na wie ons as die enigste ware Leermeester kan luister en wie se Koningskap ons kan aanvaar. Albei leer ons van God en albei gee ons riglyne vir die lewe in hierdie deurmekaar wêreld. “'n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring”, is soos die skrifgeleerde van ouds wat sy voorraadskuur oopmaak en nie net ou dinge te voorskyn bring nie, maar wanneer hy ‘n “leerling van God se koninkryk” word, stap hy in dieselfde voorraadkamer in en hy bring ook nuwe dinge te voorskyn.


Jesus se “voorraadskuur,” Sy gelykenisse, is gevul met nuwe betekenisse van God se beloftes. In Jesus se woorde en hande word die koninkryk dinamies. Al groei die koninkryk stadig soos die suurdeeg in die meel, en die mosterdsaadjie tot ‘n indrukwekkende “boom”, is die uiteindelike uitkoms van God se koninkryk in die wêreld, onkeerbaar. Die vraag van Jesus is dus vandag steeds relevant: “Verstaan ons (dissipels van Jesus in die een en twintigste eeu) al hierdie dinge?” Waar bevind ek en jy ons as ons aan die einde van ons lewensbestaan in “die treknet op die strand uitgesleep word?” (v. 47-48). Is ons deel van “die goeie vis wat in mandjies bymekaar gemaak word, of deel van die onbruikbares wat weggegooi gaan word?”


Die voorwaarde om deel van “die goeie vis” van God se koninkryk te wees, het niks te make met die regte geboortesertifikaat van volk of nasie nie – “Christus is alles en in almal wat met die ou sondige lewe breek” (Kol. 3:11). Dit gaan oor ‘n veranderde lewenstyl wat gekenmerk word deur berou van sonde en geloof in Jesus Christus. Elkeen wat hulle eie wil aan God se wil onderwerp, ontdek Sy koninklike mag wat deur sy Gees, ons help om van slegte gewoontes ontslae te raak. Kom ons “verwyder dan die ou suurdeeg van sonde, sodat ons nuwe, ongesuurde deeg kan wees en fees kan vier in hierdie koninkryk” (1 Kor. 5:7-8). Kom ons word “leerlinge van hierdie koninkryk” en hou aan bid soos Jesus ons geleer het, dat Sy koninkryk in elkeen van ons kom, sodat ons geestelik kan groei tot volwassenheid wat onder nuwe bestuur kan staan. Die ou bestuur is deel “van dié wat onreg doen, en hulle sal geen deel aan die koninkryk van God kry nie” (1 Kor. 6:9-10).


“Gebed behoort ons altyd te herinner aan wie ons is, en wie die God is tot wie ons bid. As leerling van God se koninkryk is dit immers onmoontlik om te bid en gelyktydig hoogmoedig te voel oor wat jý is” (Ben Patterson).


Gebed: Vleesgeworde Woord, ek loof en dank U dat U vir my ‘n brug gebou het tussen die “Oue en die Nuwe.” Maak my ‘n verantwoordelike “huiseienaar” wat die nuwe riglyne vir hierdie lewe sal leef. Daarom kan ek bid dat U koninkryk moet kom, want U koninkryk is juis vir slegte tye soos nou waar hierdie virus-pandemie ons in chaos en donkerte wil laat verval. Maar U koninkryk is ánderkant hierdie gebeure, dis ‘n triomfkreet waar hoop en U liefde, alles anders sal maak, waar die huidige donkerte dreig om ons te versmoor, maar U lig tog steeds skyn. O Heilige Gees, hou ‘n vlammetjie van vreugde brandend, want ek bly ‘n “leerling van God se koninkryk’, ten spyte van al die chaos. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page