top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE DERDE TOESPRAAK – “DIE KONINKRYKSREDE”: GELYKENISSE VAN DIE KONINKRYK.

(Matt. 13:1-53)


JESUS PRAAT MET DIE DISSIPELS – DRIE KORT GELYKENISSE (3).


DIE TREKNET VOL VERSKILLENDE VISSE.


KONINGSKINDERS IS REG VIR DIE KOMS VAN DIE HERE!


Matt. 13:47-50 – “Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met ‘n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”


Die derde van die “drie kort gelykenisse” oor die treknet wat goeie en slegte visse gevang het, vertoon heelwat ooreenkomste met die “gelykenis van die onkruid tussen die koring”, en verseker die gelowiges dat die regverdiges nie dieselfde lot as die bose mense, oftewel, die ware- teenoor vals dissipels, te beurt sal val nie.


Die treknet beeld die gang van God se koninkryk in die wêreld uit. Soos ‘n treknet wyd uitgesprei word in die see “en allerhande soorte vis vang,” word die evangelie van God se koninkryk versprei om alle mense te bereik in die wêreld. Die vangs is groot, maar alles is nie bruikbaar nie. “As die net vol geword het”, m.a.w. teen “die voleinding van die wêreld”, sal die Here se oordeel die slegtes tref, “die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies." Tot dan sal daar geen skeiding wees nie, maar die finale trek van die net bring die “goeie en slegte visse” aan die lig en dan sal God op die regte tyd hulle van mekaar skei, en “die onbruikbares weggooi in die brandende oond waar hulle sal huil en op hulle tande kners.”


Een van die magtigste en geweldigste uitsprake van Jesus vind ons in Hebreërs 1:3: “Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur Sy magswoord in stand.” Jesus het op ‘n dag in die omgewing van Kapernaum aan die noordwestelike oewer van die See van Galilea teen ‘n berg uitgeklim en aan almal wat hom gevolg het, ‘n nuwe grondwet van God se koninkryk kom meedeel (Matt. 5-7). Daardie dag kon almal hoor wat die voorregte van hierdie koninkryk inhou, maar terselfdertyd hoor watter eise geld vir elkeen wat Jesus se voorwaardes wil volg. Dit was nie maar net nog ‘n politieke sisteem naas al die ander menslike instellings hier op aarde nie. Nee, dit is ‘n lewensomvattende hemelse sisteem wat ons hele menswees oorneem en in God se diens stel.


In ons sogenaamde post-moderne eeu, word daar al hoe meer ervaar dat 'n groot afval besig is om oor menigte gelowiges te kom. Baie draai weg van oortuigende, sielsroerende prediking om predikers te soek wat die vlees behaag, selfs oorgee aan satanisme waaroor onlangs berig is. Hulle word mislei en hulle ore brand om prediking van geld-gesentreerde welvaart predikers te hoor, of iets te hoor wat inpas met hulle keuses. Ons is geskep as koninkrykskinders om in volle harmonie met God te leef. God het ons geskape om aan Hom liefde te bewys en van van Hom liefde terug te ontvang – dit is die grootste en vernaamste gebod “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart …!” Ongelukkig het die teenoorgestelde ook ‘n norm geword. Die verskil is dat die duiwel sy aanhangers nooit vooraf vertel waarheen hy met hulle op pad is nie, en so maklik is die onbekende gewoonlik ‘n pad van bittere smart.


Dit is waarom Jesus in 'n privaat gesprek met ons dissipels, met hierdie “drie kort gelykenisse” verklaar het dat ons as lede van die koninkryk van God, ‘n verantwoordelikheid het om die “skat en pêrel van Sy koninkryk”, te sien as die belangrikste besitting en te sorg dat ons nie deel is van die “onbruikbare visse is wat weggegooi word nie.” Jesus werp en laat sak elke dag God se visnet oor die bruisende lewensee van álle mense, slegtes en goeies. Dis nie vir ons om te besluit wie in die koninkryk sal ingaan en wie nie, wie “die goeie vis is wat in mandjies bymekaargemaak word terwyl die onbruikbares weggegooi word.” Alleen ons alwetende Vader wat elke mens ken en weet of ons die verlossing in Jesus Christus aangeneem het, sal besluit, wanneer die genadetyd vir goed verby is, wie toegang sal verkry en wie nie, veral hulle wat nie deur die skat en die pêrel as vonds, in beweging gebring kon word nie.


Ons het egter die plig om ons uiterste te doen om ander te vertel van die evangelie van verlossing, sodat hulle ook deel kan wees van die koninkryk. Die evangelie van liefde moet met doelgerigtheid voortgeset word, sonder onderskeid, selfs aan mense wat dit nie wil aanvaar nie. (Skrikwekkend om te dink daar mense bestaan wat nie die evangelie wil aanvaar nie!) Dit is dikwels onmoontlik om met mense wat nie reggehelp wil word nie, te gesels oor Jesus Christus, Hy, wie die evangelie is! Hulle onsensitiwiteit, morele blindheid, intellektuele trots, siniese bespotting en selfs besmette lagie sonde, maak hulle ontoeganklik, selfs ondeurdringbaar vir die evangelie.


Jesus Christus hou steeds aan om te stap na sondaars, sondaars met stukkende lewens wat na Sy stem wil luister (Op. 3:20). Hy werp en laat sak elke dag God se visnet oor die bruisende lewensee van álle mense, slegtes en goeies. Hy rig steeds ‘n dringende waarskuwing en vermaning aan ons dissipels om bedag te wees op die eindoordeel waar tussen ware en vals dissipels geskei sal word, wanneer “die goeie vis in mandjies bymekaargemaak word terwyl die onbruikbares weggegooi word.” Ons behoort dan Sy voorbeeld te volg om ander nie te vinnig te wil oordeel nie, daar is altyd nóg genade en nóg ‘n kans. Die koninkryk van God is vir almal bereikbaar wat in Jesus Christus glo, ongeag van jou posisie of vermoëns. Die Heilige Gees staan gereed om ons te omgord met Sy krag sodat ons só kan leef dat ander God se koninkryk deur ons kan leer ken, dat ons Sy getuies kan wees – net daar waar Hy ons geplaas het om te leef, te werk en te getuig.


“God dwing niemand nie, want die liefde kan nie dwing nie. Diens aan God is derhalwe ‘n saak van volkome vryheid” (Hans Denk).


Gebed: Hemelse Vader, U eer is vir my die norm. U is al vir soveel eeue besig om U visnet oor die bruisende lewensee van mense te laat afsak, en tog is daar steeds só baie wat as onbruikbaar weggegooi word. Wanneer mense U evangelie weier, verstaan ek dit as Godslastering en wil ek graag by hulle aanhou om van U te getuig. Dankie Heilige Gees dat U my gedurig herinner dat dit nie oor my gaan nie, maar oor God wat my stuur, dat dit gaan oor my burgerskap van God se koninkryk, en nie my persoonlike kwalifikasies nie. Skenk my die gawe van onderskeiding, gee my wysheid om te praat op die regte tyd, en wanneer om eerder stil te bly. Omgord my met U krag sodat ek U waardige getuie kan wees; dat ek só sal leef dat ander U koninkryk deur my leer ken. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page