top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE DERDE TOESPRAAK – “DIE KONINKRYKSREDE”: GELYKENISSE VAN DIE KONINKRYK.

(Matt. 13:1-53)


JESUS PRAAT MET DIE DISSIPELS – DRIE KORT GELYKENISSE (2).


DIE HANDELAAR OP SOEK NA GOEIE PÊRELS.


DIE HEEL BELANGRIKSTE BESITTING!


Matt. 13:45-46 – “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. As hy ‘n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.”


Die tweede van die “drie kort gelykenisse”, vorm eintlik ‘n paar met die vorige, want beide gelykenisse dra die allesoortreffende betekenis oor die besondere waarde van dít wat gevind is, “die koninkryk van die hemel”, en die totale prysgawe van “alles wat ’n mens het” om dit te verkry. Tog is daar kontrasterende elemente: ’n arm arbeider vind “die skat toevallig in ’n saailand”, teenoor ’n welvarende “pêrelhandelaar wie se wérk dit is om voortdurend pêrels te soek.” Beide gelykenisse beklemtoon dit egter dat die hooffiguur bewus word van ’n bepaalde gebrek en dan alles prysgee, sodat hy die waardevolle vonds kan behou en die gebrek verwyder.


Volgens oorlewering is van die kosbaarste pêrels destyds in die Rooisee, Persiese Golf en Indiese Oseaan gevind. ’n Handelaar moes dikwels lang reise onderneem om waardevolle pêrels te vind. Wanneer hy met sy kennersoog daardie buitengewone pêrels gevind het, het sy hele lewe verander. Hy sou alles prysgee om dit te kan behou.


Vanuit ‘n geestelike oogpunt, wonder ek wie was die oorspronklike eienaar van hierdie “baie waardevolle pêrel” en waarom was hy bereid om van hom afstand te doen? Die lewende werklikheid is dat Jesus reeds met die begin van Sy dienswerk op aarde, sy prediking begin het met die koninkryk van God wat naby die mense gekom het (Matt. 4:17). In Jesus het die koninkryk van God ‘n werklikheid geword. God as die oorspronklike Eienaar, was bereid om van Sy “kosbaarste Pêrel” tydelik afstand te doen om Sy koninkryk hier op aarde te kom vestig. Hy het sy Seun Jesus, uit liefde, prysgegee om te dien as 'n offer vir die verlore mense, sodat hulle gered kon word, “dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt. 5:3).


Is dit nie wonderlik nie? Om te dink dié God van die ganse heelal het sy kosbare Pêrel vir almal beskikbaar gestel! Tog is daar steeds mense wat min of geen waarde aan Hom heg nie. Almal van ons het seker ‘n klompie dinge in ons besit wat baie kosbaar is. Ons weet mos hoeveel waarde ‘n vrou byvoorbeeld aan ‘n stringetjie egte pêrels heg en sy selfs bereid is om die ander nagemaakte juweliersware sommer weg te gee, nie eers verkoop nie. Maar hoeveel mense soek nog die egte produk, die koninkryk van God wat eintlik die heel belangrikste en waardevolste “besitting” wat enige mens op aarde kan hê? Sonder om te veralgemeen, is dit ongelukkig die werklikheid dat die koninkryk van God tussen al die ander dinge, net ‘n klein plekkie kry, by sommige selfs ‘n redelik belangrike plek, maar nie altyd die ereplek nie.


Hierdie handelaar in Jesus se “koninkryks-storie” het die oomblik toe hy die “baie waardevolle pêrel raakloop, alles wat hy het gaan verkoop en die pêrel gekoop.” Is dit nie miskien tyd dat ons weer ons “beleggings” in oënskou neem en besin waaraan ons die meeste van ons tyd, gedagtes en energie afstaan, en bepaal wat is nie só belangrik dat ons daarsonder kan klaarkom of bestaan nie. Wanneer ons die Pêrel wat God aan ons toevertrou het hanteer as ‘n onvervangbare en kosbare skat, wanneer Jesus Christus die sentrale fokus in ons lewens word, behoort ons ons hele hart daarop te sit om Hom ten alle koste te besit. Wat 'n wonderlike winskopie. Ons Koning sluit die ewigheid vir jou en my daarmee oop!


“Wie een keer in Jesus Christus die spieëlbeeld van God se Vaderhart gesien het, kyk vir die res van sy lewe met nuwe oë na die wêreld” (Martin Luther).


Gebed: Grote God aan U die eer! Heerlik is waar U regeer; hemels is U majesteit; heilig U geregtigheid. U wat alles onderhou, U is ewig en getrou. In genade groot en ryk, bou U Heer, u Koninkryk” (Ges. 10). Here, soos U weet leef ons in ‘n wêreld van produktiwiteit en winsbejag. En dis moeilik om altyd te weet wat ons moet kies en hoe ons moet optree. Here, gee my perspektief en wysheid om te kan onderskei wat die “egte produk” is; om te kan bepaal wat benodig word om Ú saak te dien, Ú as onvervangbare en ewige skat, te kies. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page