top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE DERDE TOESPRAAK – “DIE KONINKRYKSREDE”: GELYKENISSE VAN DIE KONINKRYK.

(Matt. 13:1-53)


JESUS PRAAT MET DIE DISSIPELS – DRIE KORT GELYKENISSE (1).


DIE SKAT IN DIE SAAILAND.


GOD SE KONINKRYK IS ‘N SKAT VAN ONSKATBARE WAARDE!


Matt. 13:44 – “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. As iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.”


Jesus het Homself onttrek van die menigte na die huis, waarskynlik die huis van Petrus in Kapernaum, waar Hy verder drie kort gelykenisse vertel om die hart van Sy boodskap oor God se koninkryk wat naby hulle gekom het (Matt. 4:17), aan Sy dissipels en al die kinders van die koninkryk bekend te maak. Maar wat bedoel Jesus met Sy “koninkryk-taal?” Sy stories-met-’n-les was uniek, uniek aan Hom omdat Hy uniek is. Die koninkryk van God, het inderdaad ‘n lewende realiteit geword toe Jesus aarde toe gekom het, om ons deel van daardie koninkryk te kom maak.


Die eerste van die “drie kort gelykenisse”, handel oor die man wat ‘n “skat in ‘n saailand ontdek het.” In die antieke tyd, voor banke of kluise bestaan het, was dit gebruiklik in ’n land wat dikwels deur vreemde leërs aangeval is, om waardevolle artikels in ’n pot te plaas en te begrawe, waar hulle geglo het, dit die veiligste sou wees. In hierdie “koninkryks-storie” van Jesus, is dit waarskynlik ’n dagloner wat op ’n skat in iemand anders se land afkom waarvan die eienaar nie weet nie. Hoewel die arbeider se optrede moreel onaanvaarbaar kan lyk deur dit weer toe te maak, is sy optrede wel in orde volgens rabbynse bepalings. Indien hy die “verborge” skat sou “beweeg” het, kon die eienaar van die saailand dit opeis.


Deur dit heel onopvallend weer te bedek en eers die grond te koop, is sy optrede in ooreenstemming met die rabbynse reg. Daarna kan hy met reg die skat “beweeg” en so wettige eiendomsreg daarvan verkry. Wat is dan die eintlike punt waaroor dit hier gaan? Hierdie man wat ‘n skat in die saailand ontdek het, het heel moontlik vir dae en weke verbete gespit en geploeg, met erns alles in die stryd gewerp, om die saailand voor te berei. Wanneer hy die skat vind, doen hy 'n snaakse ding deur dit weer toe te maak. Hy staak alles waarmee hy besig was net daar, “gaan verkoop alles wat hy het, en hy koop daardie land.” Hierdie skat móét hy ten alle koste verkry!


Jesus begin hierdie gelykenis deur vir ons te vertel dat die koninkryk van die hemel, nie hier van die hemel is soos ons daaraan dink as die koninkryk in heerlikheid met die Vader nie, maar die koninkryk van God op aarde, hier waar ek en jy tans woon en waar ons onsself ookal bevind. Hier op aarde waar ons reeds volle besit van die hemel in ons harte kan hê, nou op hierdie oomblik. Maar wat kos dit sodat ons dit kan bekom? Hoe verkry ons hemel op aarde? Hoe kan ons hierdie skat ons eie maak?


In my geestesoog sien ek hierdie man se vreugde toe hy die skat gevind het. Hy “was in sy skik” en het dit in verwondering omhoog gehou en in ongeloof seker daarna gestaar. Hy het waarskynlik gedink dit help nie net om daarna te staar nie, hy moet dit eenvoudig besit, dit sal genoeg wees om hom te onderhou vir die res van sy lewe. Daarom “maak hy dit weer toe en gaan verkoop alles wat hy het, en koop daardie land.”


Wat is die versteekte geheim in hierdie “koninkryks-taal” van Jesus? Dit is nie vir my en jou genoeg om Jesus net te bewonder en in vervoering oor Hom te raak nie. Ons kan ook nie net Sondae oor die “saailand” loop, ‘n goeie preek byvoorbeeld hoor, en nie eers besef daar is ‘n “skat begrawe” nie. Ons het Jesus Christus binne-in ons nodig. Hy moet ons hele lewe wees. Maar, ons kan nie geestelike dinge met materiële dinge koop nie. Dit help nie ons gaan “verkoop alles wat ons het, en koop dit wat Jesus aanbied nie.” Ons kan dit nie koop nie, maar dankie tog, “die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” (Rom. 6:23). Ons kry dit verniet, ons moet net in Jesus Christus glo – “ons is sonder dat ons dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek van sonde vanweë die verlossing deur Jesus Christus (Rom. 3:23)!


Die vraag is natuurlik: “Hoeveel is dit wat Jesus vir my en jou aanbied, vir ons werd? Is dit ‘n skat van oneindige waarde?” Indien dit is, is dit nie meer nodig om vas te klou aan wêreldsgoed nie. Saam met Paulus kan ons dan bely: “Wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik, sodat ek Christus as enigste bate kan verkry” (Fil. 3:7-8). Wanneer ons hierdie skat gevind het, is ons vreugde só groot dat dit ons hele lewe verander, of is ons hande te vol wêreldsdinge waaraan ons vasklou? Die skat is binne-in ons, ons moet dit net aanvaar: “Die inhoud van die versteekte geheim in hierdie koninkryks-taal van Jesus is dat Hy in ons is wat aan Hom behoort, Hy is ons hoop op die heerlikheid” (Kol. 1:26-27).


“Besittings is goed om te gebruik, en God is daar om lief te hê. Ons het egter groot geestelike probleme as ons ons goed begin liefhê en God probeer gebruik” (Ralph Larson).


Gebed: Hemelse Vader, laat U koninkryk kom, want om aan U koninkryk te behoort, is die toppunt van vreugde en blydskap. Dit is die grootste skat wat ek kan besit. Dit gee my nie oor aan ‘n blinde noodlot van hierdie wêreld waarin ek leef nie, maar juis die teenoorgestelde daarvan. Dankie vir die seën wat ek beleef omdat ek ‘n burger van U koninkryk is. Maak my ‘n getroue dienskneg in U diens. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page