top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE DERDE TOESPRAAK – “DIE KONINKRYKSREDE”: GELYKENISSE VAN DIE KONINKRYK.

(Matt. 13:1-53)


JESUS PRAAT MET DIE MENSE – DIE GEBRUIK VAN GELYKENISSE.

(Mark. 4:33-34)


WAS JY AL ALLEEN MET GOD?


Matt. 13:34-35 – “Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder ‘n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie. So moes vervul word wat die Here deur ‘n profeet gesê het: ‘Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat; Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af.” (Ps. 78:2).


Vergelyk ook Mark. 4:33-34 – “Deur baie sulke gelykenisse het Jesus met die mense oor sy boodskap gepraat, vir sover hulle dit kon verstaan. Sonder ‘n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê.”


Wanneer Jesus gelykenisse gebruik om met die skare te praat, is dit ’n vervulling van die profesie in die Ou Testament. In dié gedeelte haal Jesus uit Psalm 78:2 aan en interpreteer die gelykenisse aan die skare dat God Homself bekend maak aan dié wat ontvanklik is daarvoor. Die omgekeerde gebeur met dié wat nie ontvanklik is vir Hom nie. Die Evangelie-skrywers Matteus, Markus en Lukas, het twee en dertig gelykenisse van Jesus opgeteken – gelykenisse wat stories of vergelykings is tussen bekende feite van verskillende fasette van die lewe en geestelike waarhede – kortom, aardse verhale met ‘n hemelse betekenis.


Die Jode, onder wie waarskynlik ook die skrifgeleerdes en Fariseërs, het reeds tydens Jesus se Bergpreek (Matt. 5-7), hulle verwondering oor Sy kennis van die Skrifte uitgespreek aangesien hulle weet dat Hy nie in hulle skole onderrig is in die rabbynse teologie nie. Jesus se woorde het hulle só beïndruk dat hulle ruiterlik erken het hulle het nog nooit iemand soos Hy hoor praat nie. Sy woorde kom met gesag en majesteit en krag. Woorde wat oor die “geheimenisse van die skepping af” handel van God wat deur die eeue met Sy volk op pad was – “Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie” (Matt. 7:29). Om na Jesus se woorde te luister is ‘n buitengewone ondervinding vir enige mens.


Jesus het vroeg in Sy bediening al probeer om misverstande uit die weg te ruim. Hy het nie gekom om die volk te mislei nie (Joh. 7:12) of om Homself te beskou as ’n selfaangestelde leraar van die volk nie. Hy tree op as die Een wat gestuur is. Jesus het vir hulle gesê: “Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het” (Joh. 7:16). Die woorde wat Jesus uitspreek, is dus nie van Hom afkomstig nie, maar van die Vader – dit beteken nie dat Jesus nie die verantwoordelikheid vir Sy uitsprake aanvaar nie, maar Hy wys op die oorsprong en bron van gesag van sy leer – “dit kom van God, nie van mense nie.”


Dit is egter nie elkeen wat sal verstaan dat Jesus se leer van God af kom nie. Jesus se gelykenisse wat Hy vertel het, is aan die mense gegee, “vir sover hulle dit kon verstaan, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê, uitgelê om die geheimenisse van die koninkryk te ken." Dit is egter God wat die hart gereed maak om dit te verstaan – die gesindheid van die mens, die gesteldheid van die mens se innerlike van die hart, hang daarvan af. As volgelinge van Jesus “moet ons glo in Hom wat God gestuur het” (Joh. 6:29). "Ons moet gewillig wees om die wil van God te doen en dan sal ons weet dat Jesus se leer van God af kom” (Joh. 7:17). Om “gewillig te wees om die wil van God te doen” gaan om die innerlike gesteldheid van ons hart teenoor God en sy Gestuurde - dit is gelyk aan die “glo in Hom wat Hy gestuur het."


Jesus het aarde toe gekom, nie as iemand wat gou-gou vir ‘n besoek by Judea of Galilea kom aandoen het nie. Hy het God in die hemel se boesem verlaat, stoksielalleen aarde toe gekom, sonder enige engele wat Hom vergesel het om Hom te beskerm, sonder enige hooggeplaastes wat Hom ontvang het. Daar was slegs ‘n paar beteuterde skaapwagters by die feestelike koms van die Seun van God, die dag toe die Prins van die hemel, die Kind van die krip kom word het. Hy is die vervulling van al die beloftes in die Ou Testament – “Hy het gesê: ‘Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom” (Mark. 1:15). God se grootheid en goedheid is nie ‘n geheim vir dié wat soos die dissipels van destyds naderkom en navraag doen nie. Wanneer ons met die Bybel besig is, kom ons nader, en wanneer ons bid, doen ons navraag! Waar bevind jy jou?


Ons kan net deur God gebruik word nadat ons Hom toegelaat het om die verskuilde werklikhede van ons karakter bloot te lê. Daar is ongelukkig talle areas van verskuilde werklikhede wat die Heilige Gees in ons moet openbaar, maar dit kan slegs geskied wanneer Jesus ons in afsondering met Hom bring. Dikwels word baie dinge aan ons uitgewys, sonder dat dit enige uitwerking op ons het. Maar “wanneer Hy met sy dissipels alleen is, het Hy vir hulle alles uitgelê” – wanneer Jesus deur sy Gees ons alleen spreek oor dinge van ons innerlike mens, dan word dit vir ons duidelik. Dan begin die legkaart van God se genadewerk in ons lewe sin maak! Wanneer laas was jy alleen met God?


“Slegs wie in geloof verlang om God se stem te hoor, sal dit in Jesus se roepstem herken en daarop reageer” (Dirkie Smit).


Gebed: Here, U weet presies hoeveel tyd ek aan U spandeer, hoeveel keer ek alleen met U verkeer, en dis hopeloos te min. Vergewe my asseblief. Help my om by U te leer, deur U Woord te bestudeer om insig te verkry want ek glo dat “wanneer U woord vir my oopgaan, bring dit lig en dit gee insig aan my wat nog onervare is” (Ps. 119:130). Here, ek wil naby U lewe sodat U Gees van wysheid my sal leer en onderrig, want “wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig” (Spr. 9:10). Here, ek het U wysheid só nodig en daar is talle areas van onkunde wat U Gees in my moet openbaar. Dankie dat ek dit van U kan vra en kan glo dat die “ontkieming en groei van die saad” deur U bewerkstellig sal word. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page