top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE DERDE TOESPRAAK – “DIE KONINKRYKSREDE”: GELYKENISSE VAN DIE KONINKRYK.

(Matt. 13:1-53)


JESUS PRAAT MET DIE MENSE – DIE GELYKENIS VAN DIE SUURDEEG.

(Luk. 13:20-21)


KLEIN BEGIN MAAR GROOT GEWIN!


Matt. 13:33 – “Hy het hulle nog ‘n gelykenis vertel: ‘Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”


Die gelykenis van die suurdeeg dui ook op die groei van die “koninkryk van die hemel” van ’n klein begin af, maar lê meer klem op iets wat groter en meer word. Dit dui op die “aansteeklike krag” wat suurdeeg het, al lyk dit soos ‘n onbenullige bestanddeel wat eintlik weggesteek word in die meel, versprei dit deur die hele skottel deeg. Dit werk ongesiens in stilte, maar met krag. Net so is dit met God se koninkryk, wat in die Evangelie opgesluit lê, het klein begin maar het ontwikkel en groei tot ‘n heerlike voleinding – klein begin maar groot gewin!


Die oorspronklike teks meld dat die vrou die suurdeeg in die skottel “wegsteek of verberg” wanneer sy dit in die meel inwerk. Daaruit kan ons iets verstaan van die onsigbare innerlike krag van die suurdeeg wat aan die werk is. ’n Bietjie suurdeeg, onaansienlik in sy geringheid, sit tóg ’n werking aan die gang wat ’n groot hoeveelheid deeg deursuur. Dit gaan oor die koninkryk se koms in Jesus, die nederige Seun van die mens en Dienaar van die Here. Hy wat nie as sodanig herken word nie, het ten spyte van die verborge en onaansienlike begin, die koninkryk deur na alle volke ontwikkel, totdat die hele wêreld aan die einde deursuur sal wees met die saligmakende Woord van God.


Met hierdie gelykenis wil Jesus ons ook bemoedig in ons persoonlike stryd, en tot volharding in ons geloof aanspoor. Ons word so maklik mismoedig wanneer dit lyk asof die evangelie geen uitwerking op só baie mense van die sogenaamde post-moderne en anti-Christelike wêreld het nie. Wanneer ons sien hoe onregverdigheid aan die orde van die dag is en blyk om seëvierende afmetings aan te neem; waar skynheiligheid en korrupsie seëvier; waar mense moedeloos raak en wonder oor die vrug op die arbeid van die kerk; dat daar net nie meer getrouheid aan die boodskap van die Skrif en die evangelie van Jesus Christus is nie en die koninkryk van God eintlik besig is om tot niet te gaan!


Verkeerd! Dit is dan wanneer Jesus ons aan hierdie gelykenis van die suurdeeg wil herinner. Dit gaan nie oor ‘n grootse poging van politiese en sosiale skemas wat verander moet word nie, dit gaan oor die koninkryk van God. Dit is vir my en jou wie Jesus oproep om die kniewerk te doen aan die deeg, sodat die suurdeeg wat God verskaf sy werk kan doen. Die suurdeeg van die evangelie wat God deur sy Woord voorsien, lê in die boodskap van Jesus Christus opgesluit. Die suurdeeg moet ingewerk word in die meel sodat die krag van die suurdeeg die meel kan verander en dit bruikbaar kan word as deeg wat gebak en geëet kan word.


Hoe kon Jesus twee duisend jaar gelede geweet het wat die uitwerking van die “suurdeeg” van die Evangelie gaan wees as Hy nie die Seun van God is nie? Die Man van Nasaret het toe voorspel dat hierdie suurdeeg die hele skottel meel sal deursuur, dat ons gelowiges deur die genade van ons hemelse Vader, sal aanhou om die kniewerk aan die deeg doen, sodat die suurdeeg van God se krag deur die Heilige Gees sy werk kan verrig. Ons moenie in ons kniewerk verslap nie. Ons moenie in krisistye uitsigloos of hooploos raak nie. God se plan kan nié faal nie. Nóóit nie! Ons kan verseker wees, God sal ons die krag en vaardighede gee om die take uit te voer wat Hy vir ons voorberei het.


Al verg dit soms inspanning, dit gaan om ‘n lewensbelangrike saak. Dit gaan om God se wêreld en God se mense. Die evangelie is nie net daar om jou en my in die hemel te kry nie, maar sodat God onder ons verheerlik sal word, sodat die suurdeeg van binne af kan werk, en ons rol as dissipel kan vervul om mense aan Jesus Christus te bind. Ons moet net geduldig wees en aanhou glo, nooit ophou bid en nie in ons dienswerk verslap nie – Christus se heerskappy van genade is bestem vir volkome oorwinning! Maak seker jy is deel van hierdie oorwinning, want dit is God se koninkryk!


“Christendom is nie ‘n toeskouersport nie, dis suurdeeg wees” (Maretha Maartens).


Gebed: O Here, rus my al hoe meer toe met eienskappe wat iets in my sal laat deurskemer van Ú lewe in my. Dankie dat U vir my die toekoms oopbreek, deur my te herinner aan die verlede. Dankie dat U dit vir my moontlik maak om te glo dat U ook in die toekoms vir Suid-Afrika sal sorg, soos U ons in die verlede bewaar het van ons eie dwaasheid en die gevolge daarvan. “Soos ‘n sterke krygsmag gaan U kerk vooruit; by die martelaarskare het ons aangesluit. Één in wil en strewe, in gemeenskap wees, in geloof en liefde; hoopvol sonder vrees” (Halleluja 243:3). Ek loof U omdat U goed is, en was, en altyd sal wees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page