top of page

Gedagte vir Vandag


57c Temple Baptist Church, Philadelphia

JESUS SE DERDE TOESPRAAK – “DIE KONINKRYKSREDE”: GELYKENISSE VAN DIE KONINKRYK.

(Matt. 13:1-53)


JESUS PRAAT MET DIE MENSE – DIE GELYKENIS VAN DIE MOSTERDSAADJIE.

(Mark. 4:30-32; Luk. 13:18-19)


GELOOF VIR DIE TOEKOMS!


Matt. 13:31-32 – “Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: ‘Die koninkryk van die hemel is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ‘n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”


Vergelyk ook Eseg. 17:22-23 – “So sê die Here my God: ‘Ek vat die top van die hoë seder weg en plant hom, Ek pluk die sagte boonste takkie af en plant hom op ‘n hoë berg. Ek plant hom hoog op die bergland van Israel waar hy takke sal maak en saad sal skiet. Hy sal ‘n pragtige seder word, en in hom sal al die voëls woon; al wat vlerke het, sal in die skaduwee van sy takke nes maak”


Jesus gaan voort om aan die skare die geheim van God se koninkryk te probeer verduidelik, deur die gelykenis van die mosterdsaadjie aan hulle voor te hou. In die Joodse gemoed was dit seker vir hulle ‘n groot verrassing wanneer Jesus die koninkryk met ‘n mosterdsaadjie vergelyk. Die vergelyking was vir hulle totaal anders as wat hulle dit destyds voorgestel het. Hulle het die toekoms van Israel, veral na die ballingskap, verweef met hulle koninkryk wat soos die trotse seder, skadu aan al die voëls (nasies) sal bied (Eseg. 17:22-23).


Die eintlike punt wat Jesus hier wil maak, is die kontras tussen die koninkryk se onaansienlike klein begin en die heerlike einde waartoe dit ontwikkel. Niemand, behalwe God weet waar die grootte van Sy koninkryk gaan eindig nie! Die mosterdsaad is die regte beeld om te verduidelik dat die koninkryk die kenmerk het dat dit uit ’n uiters onaansienlike begin, tot ’n wêreld-omvattende ryk sal ontwikkel. Onder die groentesade is die mosterdsaad die kleinste, maar dit groei tot ’n struik wat groot genoeg is vir die voëls om onder die takke rus te kan vind.


Net so is God se koninkryk – ’n koninkryk wat alle volke omspan. Dit het wel ’n onaansienlike begin by die koms van die miskende Timmerman van Nasaret gehad, maar dit besit die hoedanigheid dat dit sal uitgroei tot ’n ryk wat hom oor die hele wêreld uitstrek. Jesus Christus se bediening en lering het twee duisend jaar gelede op ‘n klein skaal met ‘n klein groepie eenvoudige volgelinge, in ‘n deel van die wêreld begin wat nie juis hoog geag is nie. Tog het dit gegroei tot ‘n wêreldwye bediening, ’n geestelike koninkryk wat hom uitbrei om vrede en veiligheid te bring vir alle volke en tale van die aarde.


Is dit nie wonderlik nie? As kinders van God kan ons juig oor die triomf van die Evangelie. Elkeen wat deel is van die “takke van daardie sederboom wat saad” van volharde geloof sal skiet. Ons ken nie die toekoms nie, veral nie nou met die virus-pandemie nie, maar ons ken Hom wat die toekoms in Sy hand hou. Ons ken nie al die paaie wat ons nog moet loop nie, maar ons ken Hom wat vir ons die pad aandui. Al kan ons nie ‘n duisend waaroms en hoekoms beantwoord nie, ken ons deur die geloof, selfs so groot soos ‘n mosterdsaadjie, dié God wat al die antwoorde het, deur Jesus Christus.


Die storie word vertel van ‘n dominee wat ‘n klein dogtertjie, buite ‘n kerkie in Philadelphia in Amerika, gekry het waar sy bitterlik gehuil het omdat sy nie Sondagskool kon bywoon nie. Sy is huistoe gestuur omdat daar nie plek vir haar was nie want die kerkie is te klein. Twee jaar later het sy ernstig siek geword en gesterf en haar ouers het die betrokke dominee gevra om haar begrafnisdiens waar te neem. Hulle het haar eenvoudige beursie aan hom gegee waarin hy 57 sent en ‘n briefie gevind het.


Die briefie wat geskryf is, het hy die daaropvolgende Sondag aan die gemeente voorgelees. In tipiese kinderhandskrif het daar gestaan: “Hierdie geldjie is om die klein kerkie te help om iets groter te bou sodat meer kinders daarnatoe kan gaan.” Vir twee jaar lank het Hattie May Wyatt gespaar aan daardie 57 sent! Die predikant het die gemeente uitgedaag om daarop te reageer en dit was die begin van die 57 sent-projek. Binne vyf jaar is daar genoeg geld ingesamel om ’n nuwe kerk te kon bou. Die Mosterdsaad-geloof van ‘n klein dogtertjie het ‘n klein kerkie laat “groei” na die Temple Baptist Church in Philadelphia, wat sitplek bied vir 3 300 mense met ‘n Sondagskool sentrum waar honderde kinders elke Sondag bymekaarkom. Niemand word ooit meer die deur gewys nie.


Kan ek en jy as ware kinders van die Here soos Hattie, glo dat die kerk te midde van ongelowiges en andersdenkendes sál groei? Ja, indien Jesus die inhoud van ons geloof is! Op die pad van selfs mosterdsaad-geloofsvertroue, hou môre en oormôre geen gevaar in nie, want “al gaan ek selfs deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig” (Ps. 23:4). Al is dit net met geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie, kan God die onmoontlike in die moontlike laat verander, kan ons gelowiges in Jesus Christus deur die Heilige Gees, die liefde van God in die gemeentes weerkaats sodat die koninkryk van God op aarde, aanhou groei tot ‘n onkeerbare realiteit!


“Voordat die vrug van die Heilige Gees in ons harte kan groei, moet die saad van geloof in ons harte ontkiem” (Karl Barth).


Gebed: Heilige en volmaakte Leermeester, wanneer ek by U voete sit en luister na U stories, U gelykenisse, wil ek uit my hart uit sing tot lof van U en dankie sê. Dankie dat ek deel kan wees van U triomftog deur die eeue, die triomftog van ons Vader se koninkryk wat 2000 jaar gelede ‘n onaansienlike klein begin gehad het, maar ten spyte van talle aanslae deur die Bose, voortsnel en ontwikkel tot ‘n heerlike einde. Skenk my ‘n gees van wysheid dat ek mag weet wat U wesenlike doel van U leringe vir my persoonlik is, watter hoop, liefde, geloof en kennis daarin verborge lê. “Leer my hoe om te lewe, by U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is” (Ps. 16:11). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page