top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE DERDE TOESPRAAK – “DIE KONINKRYKSREDE”: GELYKENISSE VAN DIE KONINKRYK.

(Matt. 13:1-53)


JESUS PRAAT MET DIE DISSIPELS: VERKLARING VAN DIE GELYKENIS VAN DIE SAAIER (2).

(Mark. 4:13-20; Luk. 8:11-15)


HOE LYK DIE WORTELSTELSEL VAN JOU GELOOF?


Matt. 13:18 en 23 – “Luister julle (dissipels) dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ‘n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.”


Vergelyk ook Joh. 15:8 – “My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en My dissipels is.”


Gister het ons afgesluit met die goeie begeerte dat ons soos “die man by wie daar op goeie grond gesaai is wat die woord hoor en dit verstaan.” Hierdie “woord verstaan” is om die boodskap “ter harte te neem” en ons gedrag daarvolgens te wysig. Die gelykenis gaan nie net oor verskillende soorte grond nie of hoe wonderlik die saad is nie. Dit gaan primêr oor die Saaier. Die eintlike wekroep in die gelykenis is om in die uitvoering van die saaiwerk vir die koninkryk van God, steeds die regte lewenshouding van die Saaier te openbaar.


Daaruit is af te lei dat onder die hoorders van die woord, hierdie vier tipes reaksie gevind sal word. Wanneer ons na die verskillende lewensareas of fasette van ons lewe kyk, gaan ons verskillende soorte “grond” sien. In een area mag dit dalk lyk of ons lewe vrugbaar is. In net die volgende lewensarea benodig ons dalk nog baie diepte. In nog een ander area karring ons halsstarrig voort met ons eie plannetjies en weier ons om dit oor te gee aan die Here. Elkeen van ons, kan as individu, al vier hierdie soorte “grond” wees.


Herhaaldelik ondervind die saaier dat drie uit die vier dele van sy saad om die een of ander rede onvrugbaar word en dat daarteenoor, slegs een deel sy vrug dra. Hy het misoes op misoes, maar uiteindelik, tog ook 'n oorvloedige oes. Die misoes skyn iedere keer driemaal so groot te wees as die goeie oes, maar die saaier raak nie daardeur mismoedig nie – sy plig en sy dagtaak word nie daardeur teruggehou nie. Hy het 'n innerlike hoedanigheid ontwikkel, of liewer, deur God se genade verkry, om met ‘n misoes rekening te kan hou. Die skyn van teenspoed of van voorspoed verlei hom nie tot sorgeloosheid of verslapping nie. By hom is daar geen valse pessimisme nie, maar wel 'n onwankelbare vertroue op God wat reën en wasdom gee en wat die egte en oorvloedige oes op sy tyd sal skenk om sy hart as getroue saaier te verbly.


Dit gaan ook nog veel verder. Dit gaan om die vrug van die Woord in die lewe van die mens. Dit beteken dat ons ons hele lewe in al sy uitinge, tot beskikking sal stel aan ons hemelse Saaier, sodat Hy sy Woord daarin kan saai en ons lewe soos 'n goeie stuk grond, die vrug van die Woord sal voortbring. Alhoewel dit soms ‘n moeisame proses is, glo ons dit sal ‘n ongelooflike oes waarborg. Die rykdom van die vrug gaan alle verwagting te bowe. Dit vul die hele skuur tot seën van ons medemens en dié wat daarna wil luister. So 'n volheid kan die saad van die Woord ook in ons tyd voortbring om 'n hongerige wêreld te voed, maar die verantwoordelikheid om te luister, om vrug te dra, lê steeds by die hoorder. “Wie ore het, moet luister” (13:9).


Maar dan moet daar veel meer wees “wat die woord hoor, dit verstaan, vrug dra en inderdaad ‘n goeie oes lewer.” En daarby wag die Here op ons gelowiges om, ten spyte van skynbare misoes na misoes, as getroue, volhardende saaiers van die lewendmakende Woord op te tree. God is dié Magtige Saaier in ons lewe. God saai egter met ‘n doel en Hy wag geduldig op die groeiproses. Hy saai die Woord, mense, ervarings, kennis en nog vele meer om in ons lewe te ontkiem en vrug te dra. Elkeen van ons gelowiges is ‘n saaier in eie reg. Ons belê weer in ander se lewens met tyd, insette en liefde. Die ongelooflike oes is in die toekoms weggelê. Dit sal wees “die een dertig-, die ander sestig-, die ander honderdvoudig.” En hier vergelyk Jesus nie die opbrengs van die oes met mekaar, of die “honderdvoudig” as die mikpunt nie, inteendeel, driekwart van die gesaaide saad het niks opgelewer nie, daarom sal selfs ‘n oes met ‘n “dertigvoudige” opbrengs, verbysterend wees!


Die belangrike om te verstaan en te onthou, is dat die Here nogtans Sy genade oor ons gesaai het. Ons word in ‘n sekere sin ook “saaiers.” Weliswaar veel kleiner as die Groot Saaier, maar as ons dissipels van Jesus is, is ons besig om van ander mense ook dissipels te maak – en ons doen dit deur in hulle te saai. En net soos die Groot Saaier nie na ons gekyk het en ons gediskwalifiseer het op grond van al die areas in ons lewens wat verhard of vol onkruid is nie, so mag ons ook nie mense van die genade van die Here “ontsê”, omdat ons dink hulle “buite die bereik” van die Here is nie.


Danksy God se genade word die Woord met groot geduld gesaai en tussen al die ander wat geen vrug dra nie, is daar tog ook dié by wie die Woord ontkiem en groei. Die saad van God se Woord wat ons saai, moet sonder uitsondering gesaai word aan almal. Dit is immers die enigste saad wat die toets van die tyd deurstaan het en nog sal deurstaan én ‘n Godgrootte opbrengs sal lewer.


“Daar is soveel miljoene woorde in die wêreld. En net dié wat iets van Jesus se liefde oordra, kan die donker minder maak” (Moeder Teresa).


Gebed: Hemel Vader, baie dankie dat U my nie gediskwalifiseer het toe U na my verharde leefstyl vol onkruid gekyk het nie, maar ten spyte daarvan, U genade oor my gesaai het. Skenk my die krag en bemoedig my om as dissipel te volhard om die Goeie Saad van U Woord te saai want ek weet hierdie saad se misterieuse lewegewende krag is van U Gees afkomstig. Vleesgeworde Woord, berei U self die grond in my hart goed voor vir die saad van u Woord wat U daarop wil laat val, sodat ek ‘n groot oes in die tuin van God kan lewer. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page