top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE DERDE TOESPRAAK – “DIE KONINKRYKSREDE”: GELYKENISSE VAN DIE KONINKRYK.

(Matt. 13:1-53)


JESUS PRAAT MET DIE DISSIPELS: VERKLARING VAN DIE GELYKENIS VAN DIE SAAIER (1)!

(Mark. 4:13-20; Luk. 8:11-15)


WAT IS DIE GEHALTE VAN JOU GROND?


Matt. 13:18-22 – “Luister julle (dissipels) dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug.”


Opvallend genoeg verstaan die dissipels self nog nie die gelykenis nie, daarom rig Jesus die verklaring daarvan, net aan hulle. Hoewel hulle reeds ‘n basiese kennis van die koninkryk het, moet hulle juis as dissipels verder onderrig word want almal hoor die Woord, maar wat maak hulle met die Woord, veral wanneer driekwart van die saad op onvrugbare plekke gesaai word en die “die Bose by elkeen kom wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en wat in sy hart gesaai is, wegvat”, en hom sodoende vervreem van die evangelie?


Daar is net een saailand – die wêreld vol mense, maar vier verskillende soorte grond – die harte van verskillende mense. Daarom is daar redes waarom die grond op spesifieke maniere op die saad reageer. “Met die saai het ‘n deel op die pad geval, ‘n ander deel op klipbanke, waar daar nie baie grond was nie en ‘n ander deel tussen die onkruid wat die gesaaides verstik het” (verse 3, 5 en 7). Jesus se verklaring van die gelykenis verskuif na die geaardheid van die grond waarin die saad te lande kom. Die gesteldheid van die grond dien as weerspieëling van die gesteldheid van ons harte waarin die woord gesaai word. Dáár, gaan drie dele van die woord so maklik verlore.


Die deel op die pad verwys na die gevaar van hardvogtigheid of hardnekkige weiering om aan die eise van die evangelie gehoor te gee – diegene wat volstrek weier dat die woord daar ingang vind, volstrek weier om met God iets te doen wil hê. Dit is 'n harde pad waar haastige voete op loop, en dáár gaan die saad verlore. As jy weer sien, het die saad wat gesaai is, verdwyn. Hier kom ook ‘n gedeelte van die duiwel se aandeel ter sprake. Daaruit lei ons af dat waar die woord opsetlik verhinder word om ingang te vind, dit gesien moet word as 'n besondere werk van Satan. Hy wil nie hê dat ons ‘n verhouding met God oorweeg nie, of in Jesus Christus moet glo nie en ook nie onder leiding van die Heilige Gees van die Waarheid, die Woord met ongelowiges moet deel nie.


Die tweede deel op die klipbank waarsku teen die opvatting, dat ‘n mens met die blote hoor van die woord die saak as afgehandel beskou. Die Woord moet immers ook bewaar en beskerm word teen alle pogings wat kan verhinder dat dit tot volle wasdom en vrug sou kom. In die een geval is daar geen diepte nie. Juis hierdie feit lei tot 'n vroegtydige ontkieming en 'n skielike verdorring. Waar die Woord geen lewensdiepte vind nie, kan dit vir 'n oomblik opskiet, maar nie werklik tot groei kom nie. Die saad is wel goed, maar die gesteldheid van die grond maak die ontwikkeling onmoontlik. Dit verwys na die sogenaamde “mooiweers-Christene.” Terwyl alles goed gaan is die mens opgewonde oor wat hy hoor, maar sodra hy met die werklike lewe en al sy teleurstellings te doen kry, gee hy moed op en keer terug na die plesier van die wêreld.


In die derde geval waar die saad tussen die onkruid val, word die dorings verklaar as die sorge van die lewe wat die groeiende Woord verstik. Met die sorge van hierdie wêreld word stellig nie bedoel die besorgdheid oor die veilige en gelukkige bestaan op aarde nie. Trouens, hierdie dinge is juis die raamwerk waarbinne die saad sy vrug moet dra. Die sorge ontstaan veeleer omdat die wêreld vervreemd geraak het van God en sy Woord. As ons buite God om werk, sal daar sorge wees. Ongelukkig is ons juis van nature geneig om dit te doen, en daarom kan die saad van die Woord in ons harte wel groei maar nie tot vrug kom nie.


Ek en jy wat onsself Christene noem, het ‘n dieper lewe nodig. Ons hele lewe moet daarna streef om die “saad van geloof” te ontvang sodat ons nie net goed begin nie, maar standvastig daarin bly. Ons moet saam met Paulus gereeld bid dat “ons Vader deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan ons die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in ons harte sal woon en dat ons in die liefde gewortel en gegrondves sal wees” (Ef. 3:16-17). Ons wil wees soos “die man by wie daar op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en dit verstaan.”


“Indien jy gearresteer sou word omdat jy ‘n Christen is, sou daar genoeg getuienis wees om jou skuldig te bevind?” (Kriss Akabusi).


Gebed: Ons Vader in die hemel. Ek lees en hoor U stem deur U Woord – woorde van genade en redding. Ek luister na die verkondiging daarvan en na getuienisse van mede-Christene. Ek ervaar dit tasbaar deur die sakramente van die doop, die brood en die wyn. Die “saad” van die evangelie is goed, maar Here, die “grond” wat dit moet ontvang, is nie altyd ontvanklik nie. Verwyder hierdie oppervlakkigheid uit my lewe sodat die “saad” nie net my hart raak en my ore bereik nie, maar dat dit sal vrug dra sodat ek U Naam kan verheerlik. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page