top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE DERDE TOESPRAAK – “DIE KONINKRYKSREDE”: GELYKENISSE VAN DIE KONINKRYK.

(Matt. 13:1-53)


JESUS SE ONDERRIG AAN DIE SKARE – DIE GELYKENIS VAN DIE SAAIER.

(Mark. 4:1-9; Luk. 8:4-8)


WIE ORE HET MOET LUISTER!


Matt. 13:1-3a – “Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. ’n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in ‘n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê: ‘’n Saaier het eendag gaan saai …” (Lees asb. die hele perikoop tot by vers 9).


Vergelyk ook Joh. 12:24 – “Dit verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as dit sterwe, bring hy ‘n groot oes in.”


Tot dusver het Jesus, terwyl Hy rondgegaan het om die mense in hulle dorpe te leer en vir hulle te preek, gemengde ontvangs onder die Joodse volk gehad. In Sy poging om die mense te laat verstaan dat Hy aarde toe gekom het om God se koninkryk te proklameer, het Hy in dié proses op sigbare wyse baie siekes genees, duiwels uitgedryf en wonders gedoen om aan hulle te wys dat ‘n splinternuwe koninkryk tot by hulle gekom het. In die lig van die toenemende onbegrip en verwerping van Jesus, veral deur die Joodse godsdiensleiers, dra Hy sy boodskap nou verder deur hulle gelykenisse te vertel, en aan die hand van bekende voorbeelde uit die alledaagse lewe, te illustreer hoe die koninkryk van God daar uitsien.


Op dieselfde dag wat Jesus deur sy moeder en broers genader is (Matt. 12:46), “het Hy van die huis af gegaan en by die see gaan sit.” Die menigte het Hom egter nie met rus gelaat nie en vanweë die gedrang, maak Jesus gebruik van ‘n skuit en soos ’n Joodse leraar sou doen, gaan sit Hy daarin en begin Hy om die skare wat teen die oewerhelling staan, te onderrig aangaande die diepe waarhede van die koninkryk van God. Dit bestaan uit ’n reeks van agt gelykenisse, ingelei deur die toonaangewende “gelykenis van die saaier.”


Wat kan ons nuut leer by hierdie oorbekende gelykenis? Ons weet teen hierdie tyd die saad word in vier kontekste, vier tipes grond, gesaai. Die voëls pik die saad “langs die pad” op (v. 4). Die warm son verskroei die saad “op die klipbanke” sodat dit verdroog (v. 5-6). Die “onkruid verstik die saad” wat tussen hulle val (v. 7). Die “goeie grond” lewer ’n goeie tot uitstekende opbrengs (v. 8). Die effektiwiteit van die saad hang dus af van beide die werk van die saaier, sowel as die ontvanklikheid van die grond. Daar kan tog niks vars of verrassend oor dit gesê word nie? Ons het immers met die gelykenis grootgeword en ons almal weet waaroor die boodskap gaan. Maar is dit regtig so eenvoudig?


Ons ken die gelykenis van die saaier so goed, dat ons geneig is om bo-oor die vreemde prentjie te lees en nie werklik altyd sien wat daar staan nie. Net soos die Jode van ouds, weet ons alle grond is nie dieselfde nie. Op elke soort grond waar die saad geval het, was die resultaat anders. Christus as die Saaier versprei die Woord van God en wanneer hierdie saad in die harte van mense geplant word en dit ontkiem, bring dit kinders van God voort, en wanneer mense se harte nie ontvanklik daarvoor is nie, gebeur die teenoorgestelde.


Dit blyk dat die saaier onverskillig saai. Hy “mors” as’t ware sy saad. In die regte lewe sal geen boer so ongeërgd saai deur saad links en regs te strooi waar hy weet dit nie gaan opkom nie. Om die minste te sê, dit is ‘n hopelose saaier wat só saai dat meeste van die saad op verkeerde plekke val — driekwart daarvan gaan veroorsaak dat geen oes gelewer gaan word nie weens die gesteldheid van die grond. Net ‘n kwart van die saad val op die regte grond wat ‘n oes gaan lewer.


Die Saaier het genoeg saad vir Sy hele land – die Bybel is die storie van God se handelinge met ons mense en met die wêreld. Iemand het gesê dat Jesus nie gekom het om ‘n stel reëls neer te lê nie, maar om stories te vertel, stories oor die lewe, oor mense, slim mense, dwase mense, sterk mense en sondige mense - álle mense. Oor elkeen van hierdie tipe mense, heers God, ‘n liefdevolle God, ‘n wyse God. As die saad nie ‘n oes lewer nie, is die grond waarin dit val nie reg nie en kan ons dan tereg selfondersoek doen en vra, op watter soort grond val God se Woord in my en jou lewe?


En elkeen van ons het ook ‘n storie. Inderdaad, ek en jy ís ‘n storie! Elkeen van ons wat in Jesus Christus glo en Hom volg, help Hy deur die Heilige Gees om ‘n nuwe storie te skryf – die verhaal van menslike stryd, mislukkings, pyn, maar ook groei, groei met die heerlikheid van ons Vader, die heerlikheid van verlossing van Jesus en die tere impak van die Heilige Gees. En wanneer God ons eendag sou vra om ons storie aan Hom te vertel, watter grondsoort en watter wortelstelsel sal ons geloof die beste beskryf? Vlak met te veel water; redelik gevestig maar ek bekommer my oor droogtes; onkruid van bekommernis verstik my geloof, of uitgebrei en standvastig gevestig in die geloof wat volle vrugbaarheid tot gevolg sal hê.


“Ons verstand is soos ‘n horlosie wat gedurig besig is om ‘af te loop’ – tensy ons dit daagliks met die ‘batterye van God se Woord laai’ om te verseker dit groei tot vrugbaarheid” (Onbekend).


Gebed: My Vader in die hemel, ek stel my lewe opnuut tot U beskikking. Jesus Christus, saam met Paulus vra ek dat U deur die geloof in my hart sal woon en dat ek in die liefde gewortel en gegrondves sal wees (Ef. 3:17). Laat u Gees in my werk sodat die grond van my lewe vrugbaar sal wees en ‘n ryke oes sal lewer. Wees U die krag in my lewe sodat my geloof tot vrugdra sal kom, en nie vinnig sal verdroog of verstik word deur onkruid van die bose nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page