top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE DERDE TOESPRAAK – “DIE KONINKRYKSREDE”: GELYKENISSE VAN DIE KONINKRYK.

(Matt. 13:1-53)

DIE DOEL VAN DIE GELYKENISSE (2)

(Mark. 4:10-12; Luk. 8:9-10)

GROEI OF KWYN IN JOU VERHOUDING MET GOD!

Matt. 13:11-12 – “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.”


Op navraag van die dissipels, verklaar Jesus aan hulle die doel van die gelykenisse. Dit is God se manier om sy boodskap verstaanbaar te maak vir sy dissipels – “omdat dit aan hulle gegee is om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken”. Wat verstaan die dissipels en die skare nie? Wat is die “geheime van die koninkryk?” Dit omvat alles omtrent wie Jesus werklik is en dat God dit ten doel het dat ons gelowiges in Jesus Christus, Sy wil in die volmaakte liefde uitleef sodat ons “dan volmaak kan wees soos ons hemelse Vader volmaak is” (Matt. 5:48).


Die “geheime” is dat God in Jesus, na mense toe gekom het en deur Jesus, aan mense sê wat Sy wil is en hoe Hy oor hulle voel. Teen hierdie agtergrond moet Jesus se uitspraak, “wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word”, verstaan word. Ek het grootgeword met hierdie alombekende “spreekwoord” wat gesinspeel het op die ryk mense wat ál meer kry terwyl ons armes die bietjie wat ons het, ook verloor. Jesus verwys hier egter geensins na aardse besittings nie, maar wel na die mens wat groei of kwyn in hulle verhouding met God.


Die gelykenisse dien om die skeiding sigbaar te maak. Diegene wat begryp dat die eenvoudige beelde uit die alledaagse lewe aan hulle die verborgenhede van die koninkryk wil vertolk, en soos ons dissipels deur geloof aan Jesus verbind is, sal daarom biddend die voorligting van die Heilige Gees soek en algaande meer verstaan en sien hoe God besig is. Hulle sal in die gelykenisse die openbaring vind van diepe waarhede van die ryk van God en hulle lewe sal daardeur verryk word.


Maar vir diegene wat op ‘n afstand net toekyk en nie belangstel in ‘n verhouding met Jesus Christus nie, sal “die bietjie wat hulle het, ook weggevat word.” Vir hulle sal die gelykenisse “raaisels” wees. Aangesien ’n groot deel van die volk Hom nie as die Messias wou aanvaar nie, ook nie wou hoor of sien nie, praat Hy op so ’n wyse dat dieselfde gelykenis wat vir die gelowiges ’n heilsverkondiging inhou, vir die ongelowiges ’n oordeel aankondig. Hulle wou nie hoor nie, en nou spreek die Verlosser op so ’n wyse dat hulle ook nie kan hoor of verstaan nie.


Met respek, gee Jesus nie om vir die skare nie? Het Hy dan nie aarde toe gekom as álmal se Verlosser nie? Ja, Jesus gee om maar Hy dring Hom aan niemand op of dwing Hom aan niemand af nie. Hy smeek niemand om na Hom te luister nie. “Hy staan by die deur van jou hart en Hy klop, en as jy Sy stem hoor en die deur oopmaak, sal Hy by jou ingaan en saam met jou die feesmaal hou” (Op. 3:20). Aan Jesus se kant van die deur, is daar nie eers ‘n deurknop of sleutel sodat Hy homself kan inlaat nie. Elke mens moet self die geloofsleutel draai wanneer jy Sy stem hoor, en Hom inlaat. Elke mens het die verantwoordelikheid om alles wat ons van Jesus gehoor het en steeds hoor, reg en goed te gebruik. As ons Hom sou verwerp, sou die hardheid van ons harte selfs die bietjie begrip wat ons het van Hom, heeltemal vernietig.


Dit is wonderlik hoe God ons elke dag deur Sy Woord lesse leer. Die verhale wat Jesus in die verlede vertel het, is steeds toepaslik en is waarskynlik herkenbaar vir elke kultuur wat vandag leef. Stories word nie maklik vergeet nie. Deur stories te vertel, herinner vertellers én luisteraars hulle aan die diepgaande waarhede en lesse daarvan. Dit is ‘n seën vir die mens met gewillige ore en Jesus se stories was een van die belangrikste maniere waarop Hy oor ons Vader se koninkryk gepraat het. Kom ons gaan sit aan die voete van die beste Leermeester ooit en luister na Sy stories. Hy is immers die mensgeworde Woord van God! (Joh. 1:14). Hy is die éintlike Woord, die grootste en diepsinnigste Woord wat lewe en lig bring en waardeur God met jou en my op ‘n kragdadige en liefdevolle manier praat (Heb. 1:2).


“Elke gelykenis van Jesus suggereer dat God se koninkryk ander waardes het as hierdie wêreld s’n – omgekeerde waardes” (Sally McFague).


Gebed: Jesus, my Leermeester, dankie vir kosbare lesse wat U deur die gelykenisse aan my bied. Gee my ‘n geopende oor om te kan hoor en luister wat U vir my sê, oë wat die geheimenisse van die koninkryk kan waarneem. Help my om die heilswaarhede wat U aan my bekend maak deur die Woord van ons Vader, my eie te maak en met ander te deel. Ek prys U heilige Naam. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page