top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


JESUS SE WARE FAMILIE.

(Matt. 12:46-50)


DIE MOEDER EN DIE BROERS VAN JESUS (1)

(Mark. 3:31-35; Luk. 8:19-21)


GESKEP VIR GOD SE FAMILIE!


Matt. 12:46-48 – “Terwyl Jesus nog besig was om met die mense te praat, het sy moeder en broers buite gestaan, en hulle wou met Hom praat. Iemand sê toe vir Hom: ‘U moeder en u broers staan daar buite en wil met U praat.’ Maar Hy sê vir die man wat dit vir Hom gesê het: ‘Wie is my moeder, en wie is my broers?”


Vergelyk ook Mark. 3:20-21 – “Daarna het Jesus huis toe gegaan. ‘n Menigte mense het weer saamgedrom, sodat daar selfs nie geleentheid was om ‘n stukkie te eet nie. Toe sy familie hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom te gaan haal, want hulle het gesê: ‘Hy het van sy kop af geraak.”


Aan die einde van die reeks konflikte met die Fariseërs, is Jesus nog besig om met die mense te praat, toe Hy ‘n besoek van Sy moeder en broers ontvang. Matteus verskaf nie redes oor Jesus se familie se besoek nie, maar waarskynlik is dit dieselfde rede as wat Markus aangee, dat hulle bekommerd was dat Hy besig is om “van sy kop af te raak,” deurdat Hy net aangaan om mense te bedien en selfs nie tyd afknyp om te eet nie. ‘n Ander moontlike rede kan wees dat Jesus se familie, ter beskerming, Hom uit die samelewing probeer verwyder omdat hulle waarskynlik verneem het die kerkleiers beplan om Hom dood te maak (Matt. 12:14). En kort tevore vertel Lukas dat Jesus se dorpsgenote Hom van ‘n krans probeer afgooi het (Luk. 4:28-29).


Jesus se vraag teenoor die persoon wat Hom die boodskap bring oor “wie Sy moeder en wie Sy broers is”, impliseer nie ‘n hardvogtige manier wat Hy met sy familie omgaan of ’n gebrek aan respek vir sy moeder nie, inteendeel, dit is vir ons eerder die troosryke gedagte dat Jesus sy gesinskring verbreed tot almal wat Hom navolg. Sy roeping maak Hom los van familiebande en stel Hom binne ’n kring van broers en susters wat met geestelike bande aan Hom verbonde is. In die uitvoering van Sy roeping wil Jesus beklemtoon dat Hy aan ’n Hoër wil, meer gehoorsaam moet bly as aan hulle s’n. Deur sy prediking was Hy trouens besig om ’n nuwe familiekring te skep – die huisgenote van God se koninkryk – wat véél groter en héél anders is as dié van bloedverwantskap.


Ons nuwe familie-gemeenskap is gegrond op innerlike samehorigheid en op ’n eenheid wat deur die Heilige Gees tot stand gebring word. Rick Warren meld in sy bekende boek, “Die Doelgerigte Lewe”, dat God ‘n familie wil hê, en Hy daarom vir jou en my geskep het om deel van Sy familie te wees: “God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie as sy kinders tot heerlikheid lei” (Heb. 2:10). Die hele Bybel vertel van God wat Sy familie bou om Hom te eer, lief te hê en saam met Hom te regeer. God het elke mens geskep as Sy kunswerk, maar elke mens is nie ‘n kind van God nie. Jesus beaam dit wanneer Hy sê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg” (Mark. 8:34).


Daar is dus ‘n voorwaarde aan verbonde om deel te kan wees van God se familie: Geloof in Christus! “Deur hierdie geloof in Christus Jesus, is ons nou almal kinders van God” (Gal. 3:26). En nou is daar ongelukkig die doemprofete wat beweer dat iemand wat tot ‘n val gekom het, nie die vermoë het om ‘n nuwe begin te maak nie. Ons moet egter onthou dat Jesus bekend was vir Sy deernis en liefde met alle mense, veral met sondaars. Afgesien van wie jy is of was of wat jy verkeerd gedoen het of nog gáán doen, dit is nooit te laat om in geloof na Jesus toe te draai nie. Sy hande is uitgestrek om jou vas te gryp, en jou deel van God se gesin te maak.


Jesus Christus wil graag help, want “die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk. 19:10). Neem Sy hand en Hy sal jou oplig uit die modder van wanhoop tot die heerlike werklikheid van Sy teenwoordigheid. Dit is alleen moontlik wanneer die Heilige Gees in ons harte woon en ons deel is van God se gesin. Neem Hom in geloof aan en wees gehoorsaam aan Sy stem. Saam met die Gees kan niemand ons benadeel nie, want daar ervaar ons die volheid van God se onverdiende genade en die alomteenwoordige leiding van die Gees. Ervaar dan as lid van God se gesin, Sy genade wat vir ons genoeg is en net die beste vir ons voorberei.


“Omdat ons na die beeld van God geskep is, funksioneer ons op ons heel beste in ‘n verhouding met Hom. Wie buite ‘n verhouding met Christus leef, kan Hom nie ken nie, kan hulleself nie ken nie, en weet nie wat die sin van die lewe is nie” (Francis Schaeffer).


Gebed: My Vader, saam met Dawid kan ek “onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my en my kinders veilig woon” (Ps. 4:9). Dankie vir die voorreg en genade dat ons deel van U familie kan wees. Dankie dat ek my gesin, my kinders en kleinkinders, aan U kan opdra en U vra om hulle toe te vou in U liefde. Laat hulle opkyk na U seënende hande en hulle name onuitwisbaar, daarin gegraveer sien. Laat hulle ook die wonde daarin aanskou, die wonde waaruit U bloed gevloei het om hulle van alle sonde te reinig, en sodoende, hulle ook deel van God se familie te kon maak. Here, dankie dat U saam met hulle op hul lewensreis gaan en beskerm, veral tydens hierdie virus pandemie waar hulle terug by die werk en skool is. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page