top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


JESUS SE VOORTGESETTE KONFRONTASIE MET “HIERDIE GESLAG.”

(Matt. 12:38-45)


DIE TERUGKOMS VAN DIE BOSE GEES

(Luk. 11:24-26)


WANNEER JESUS BEHEER OORNEEM …!


Matt. 12:43-45 – “Wanneer ‘n bose gees uit ‘n mens weggaan, swerf hy deur dor streke op soek na ‘n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis waaruit ek weggegaan het.’ Hy kom dan terug en kry dit onbewoon, skoon en aan die kant. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek saam met hom in en gaan woon daar. Aan die einde is so ‘n mens slegter daaraan toe as aan die begin. So sal dit ook gaan met die slegte mense van vandag.”


Jesus se drieledige antwoord op die godsdiensleiers se vraag vir ‘n teken, hou Hy derdens aan hulle ‘n verhaaltjie voor wat handel oor die terugkeer van bose geeste na hulle oorspronklike woonplek. Dit sluit aan by Jesus se onlangse genesing van die blinde en stom, demoon-besete persoon (12:27). Duiweluitdrywing, ook deur die Fariseërs se volgelinge, was in daardie tyd nie onbekend nie. Die verskil egter tussen Jesus en die Fariseërs se volgelinge, was dat hulle duiwel-uitdrywing nie gewaarborg kan wees nie.


Die bose gees “kom dan terug na sy oorspronklike huis en kry dit onbewoon, skoon en aan die kant, en (in die goedheid van sy bose hart), gaan haal hy nog sewe ander geeste, (wat ook nog blyplek soek), en wat nog slegter is as hy self, trek saam met hom in en gaan woon daar.” Jesus daarenteen, verwyder bose geeste deur die kragtige optrede en hulp van God se Gees wat die “huis nie net skoon en aan die kant” maak nie, maar permanent daar intrek, indien die mens dit sou toelaat!


Met hierdie beeldspraak hou Jesus ’n ernstige, tydlose waarskuwing in vir die Joodse volk, en ook vir elke hoorder van die Woord van God vandag. Hy wil ons laat verstaan dat Hy gekom het om ons van die werke van die duiwels te bevry en ons geestelike huis skoon te maak, van sonde kom héélmaak én genees. Maar die huis moet bewoon word deurdat ons Sy Woord bewaar, moeite doen om Hom beter te leer ken deur Sy Woord, en om ons lewe te vul met sy Gees.


As ons die Heilige Gees toegang en eienaarskap weier, raak ons ‘n leë huis waar onwelkome en werklose, vreesaanjaende intrekkers in versterkte getalle, die deur oop forseer en besit daarvan neem wat rampspoedig kan wees. Wanneer mense nie raaksien dat Hy wat groter as die tempel, Jona en Salomo is nie, verkeer hulle in ernstige gevaar. Wanneer mense nie op Jesus se kragtige dade met bekering reageer nie, Jesus wat die bose volkome oorwin het, as Intrekker in jou geestelike huis wat Hyself skoongemaak het, innooi nie, bly die huis leeg en ongewenste gemors neem weer beset daarvan. Al agt bose geeste vind nie eers “die sterk man” (12:29), die Heilige Gees daar nie, hulle stap net in en beroof alles, hulle beset die inwoners. Kort voor lank is die vensters gebreek, die dak verwyder, alles gesteel en net die krot bly oor, ‘n krot wat later ‘n bouval word en die mense wat daar woon, besete!


Jesus waarsku ons dan dat ons uiteinde slegter sal wees as ons begin. As ons nie Jesus die middelpunt van ons lewens maak en standvastig in Hom bly nie, sal ons slegter daaraan toe wees. Nee, wanneer ons Jesus nooi om ‘n integrale deel van ons lewe te word deur die inwoning van sy Heilige Gees, maak ons ons hart en lewe vir Hom oop sodat Hy in ons wese kan inkom en beheer kan oorneem van elke aspek van ons lewe. Dan word “ons ‘n tempel van God waar die Gees van God in ons woon” (1 Kor. 3:16), en die bose geeste van jaloesie, wraak, dobbel en ag, al die slegte dinge, wanorde, gemene dade, al die “onwelkome en vreesaanjaende intrekkers”, maak plek vir die goeie en edele dinge van God.


Ek wil dit waag om te sê dat die meeste van ons gelowiges se huise netjies skoongemaak is, ordelik en selfs versier. Maar het ons gesorg dat die nuwe “INTREKKER” wat weerstand kan bied teen die bose, al toegelaat om wat so vernietigend natuurlik is, te vernietig. Lees dit weer asseblief. Op ons eie is dit oor en oor al bewys dat ek en jy uiters kwesbaar en weerloos is. Wanneer ons deur die leiding van die Heilige Gees die totale beheer van ons lewe oorgee in die hande van Jesus Christus, ondervind ons ‘n nuutgevonde sekerheid wat alleen kan voortspruit uit die wete dat Hy in beheer is van ons elke dag se doen en late. Ons kan seker wees, net Hy het die duiwel reeds oorwin. Net Hy vernietig alles wat skeiding probeer bring tussen ons en God. Ons kan nie tegelykertyd onder beheer van die bose én onder beheer van God staan nie – God en satan deel nóóit dieselfde adres nie.


“Die inwoning van God is dit: om deur die Heilige Gees se leiding God altyd voor oë te hou en Sy tempel in jou binneste te vestig” (Walter Hilton).


Gebed: Gees van God, ek gee my opnuut aan U oor. Stel my in staat om elke dag U leiding te volg en altyd bewus te wees van U teenwoordigheid by en in my. Dankie vir die sekerheid wat ek in my hart het dat U in beheer van my lewe is en ek nie hoef te vrees nie, U sal dit vernietig wat vernietigend probeer inbreek maak op my lewe. Rus my toe en bekragtig my deur U teenwoordigheid, sodat ek die baie versoekings en gevare van ons tyd, elke uitdaging, met selfvertroue en sekerheid kan beveg en in U Naam, as oorwinnaar uit die stryd kan tree. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page