top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


JESUS SE VOORTGESETTE KONFRONTASIE MET “HIERDIE GESLAG.”

(Matt. 12:38-45)


DIE TEKEN VAN JONA (2)

(Mark. 8:11-12; Luk. 11:29-32; Matt. 16:1-4)


WARE WYSHEID IS ‘N PERSOON – JESUS CHRISTUS!


Matt. 12:42 – “Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!”


Die tweede deel van Jesus se drieledige antwoord op die godsdiensleiers se vraag vir ‘n teken, is dié van die “koningin van die Suide”. Sy het ver gekom om na “Salomo se wysheid te luister” en dit het haar asem weggeslaan (1 Kon. 10:5b). Hierdie heidense koningin het die God van Salomo, geloof dat Hy Salomo met soveel wysheid en liefde geseën het (1 Kon. 10:9). Maar nou, terwyl die Wysheid, sélf tussen hulle is, steur die Joodse godsdiensleiers, die sogenaamde spesialis-kenners van God se wet, hulle nie aan Sy woorde nie. God het inderdaad tot by hulle gekom, maar hulle sien Hom aan vir die Bose.


Jesus sê hierdie koningin sal met die oordeelsdag teen die Joodse kerkleiers getuig. Miskien sal sy hulle herinner aan die feit dat sy van ver gekom het omdat sy desperaat was vir die waarheid oor die “Naam van die Here” wat vertel is. In my geestesoog sien en hoor ek haar: “Ek het vir maande deur versengende hitte en barre woestyn gereis om te bevestig of alles wat ek gehoor het van Salomo en die Naam van julle Here, die waarheid was. Hoe kon julle so blind gewees het? Julle het al julle moeilike vrae na Jesus Christus gebring en selfs met strikvrae Hom probeer uitvang. Hy was egter die alwetende God by julle. In die vlees was Hy in julle midde, Hý, die Een wat Salomo al sy wysheid gegee het. Maar julle het jul oë vir Hom toegemaak en ‘n dowe oor vir Sy waarheid gegee. Julle het verkies om in duisternis te lewe, omdat julle gedagtes boos was. In plaas daarvan dat julle na Hom geluister het, het julle eerder gedink hoe om Hom dood te maak.”


Ek wonder of hierdie koningin ons geslag, ook nie van dieselfde sonde gaan aankla nie? Is ons nie dalk deel van “die slegte en afvallige geslag” waarna Jesus verwys nie (12:39). Sal sy nie dalk getuig dat die een sessie wat sy met Salomo gehad het, se wyse woorde haar lewe verander het nie? Sy moes ongelukkig Salomo se teenwoordigheid verlaat terwyl ons die Ware Wysheid in ons midde het en te alle tye toegang tot Sy wysheid het: “Aan God is dit te danke dat ons met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing” (1 Kor. 1:30).


Nee, sy behoort nie ons aan te kla van dieselfde sonde nie. Soos ons Vrydag reeds gesê het, is ons nie deel van die afvallige geslag nie. “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God” (1 Kor. 1:18). Die Joodse kerkleiers het bewyse en tekens gesoek dat Jesus die Messias is. Jesus het nie aarde toe gekom om ‘n tipe wonderwerker te wees nie. Hy het gekom om God se koningsheerskappy te vestig en om sondaars uit die greep van die sonde en ewige dood te bevry.


Ek en jy dink nie aan Jesus as ‘n wonderwerker nie. “Ons is met Christus Jesus verenig.” Die afvallige geslag wat glo die boodskap van die kruis is onsin, is nie met Christus verenig nie. “Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen, het ware insig” (Ps. 11:10). Ons gelowiges wat Jesus Christus vertrou, het wysheid “wat van God kom.” Ons kan dit nie met die suiwerste goud koop nie, “net God ken die woonplek van die wysheid en insig, net Hy weet hoe die pad daarheen loop” (Job 28:12-28). Jesus Christus het vir ons die Wysheid geword wat van God self kom. Deur Sy genade gryp ons met ons lewe in geloof daaraan vas, anders kon ons ook in die koor van die “afvallige geslag” gesing het terwyl ons die hel tegemoetvaar.


“In die koninkryk van God word alle aardse waardes omgekeer. Wat die wêreld dwaasheid noem, is eintlik die Christen se wysheid wat die radikale teenstelling uitwys tussen God se ewige waarheid en die “gesonde verstand” van die wêreld” (GD Fedof).


Gebed: Here, hoe is dit moontlik dat daar vandag in hierdie wêreld steeds mense is wat nie weet van U teenwoordigheid by ons nie? U maak U op soveel maniere bekend, maar hulle vind U nie; U roep só hard na hulle, maar hulle hoor U nie; hulle draai van U af weg en sê hulle kan U nie vind nie! Dit blyk asof mense nie meer na U wil vra nie (Rom. 3:11). Ons Vader, verlos ons van die wêreldwysheid van ons tyd, mense wat skepties geraak het oor U bestaan. Skenk ons in genade die kinderlike vertroue in U goedheid, die wysheid en insig om U te volg en vreugde daarin sal vind. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page