top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


VOORTGESETTE KONFRONTASIE MET “HIERDIE GESLAG.”

(Matt. 12:38-45)


DIE TEKEN VAN JONA (1)

(Mark. 8:11-12; Luk. 11:29-32; Matt. 16:1-4)


ONTDEK JOU IDENTITEIT!


Matt. 12:38-41 – “Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom: ‘Meneer, ons wil ‘n wonderteken van u sien.’ Maar Hy antwoord hulle: ‘’n Slegte en afvallige geslag vra ‘n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ‘n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees. Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!”


Die Fariseërs is steeds besig om Jesus te konfronteer om sodoende Sy ware identiteit as Messias vas te stel. Hierdie keer het hulle ‘n klompie skrifgeleerdes bygekry om hulle te help. Ten spyte van verskeie wondertekens wat hulle tot dusver gesien het, wil die geestelike leiers Jesus nou dwing om nóg ‘n “wonderteken” te doen as bewys van Sy Messiasskap. Dieselfde mense wat besig is om Jesus se dood te beplan (12:14), mense wat die Heilige Gees beswadder deur Sy werk aan Satan toe te skryf (12:31), dieselfde “slange” (12:34), vra vir nóg ‘n teken? Waarom? Jesus weet hulle soek nie na bevestiging van geloof en vertroue in Hom nie. Hulle soek net nóg iets om Hom verdag te maak, iets om teen Hom te gebruik sodat hulle kan bevestig dat Hy nie die Messias, die Seun van God kan wees nie.


Aan hierdie “slegte en afvallige geslag”, gee Jesus egter geen teken nie, maar ‘n drieledige antwoord om Sy identiteit as die ware Messias te bevestig. Met die eerste antwoord toon Jesus die ooreenkoms tussen Hom en Jona aan, dat albei na drie dae van die dood gered is – Jona uit die maag van die vis en Jesus uit die “maag” van die aarde. Deur die eeue heen is daar verskillende interpretasies geheg aan hierdie vergelyking, maar kom ons verlaat ons op wat Jesus sê: “Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ‘n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees.”


En nou sal baie mense dalk redeneer dat Jesus Vrydag gekruisig, gesterf en begrawe is en Sondagoggend opgestaan het terwyl dit nog donker was, dan werk drie nagte nie uit nie. Die punt wat Jesus hier wil beklemtoon, is dat Jona verlos is ná sy benoudheid, en Jesus bring verlossing ná Sy benoudheid (Prof. Adrio König.) Dit is daarom nie nodig om bekommerd te wees oor rekenkundige of tegniese besonderhede nie. Wat wel nodig is, is om te glo dat Jesus wél die opgestane Messias, die Seun van God is; te glo dat Hy nie meer, na ‘n kort tydperk, “binne-in die aarde” is nie, maar deur sy Gees binne ons gelowiges is: “Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My … Julle moet in My bly en Ek in julle (Joh. 14:11; 15:4).


Ons het nie ander tekens nodig nie! Ons kan maar net kyk wat Jesus gedoen het: Gaan na Golgota en die kruis, Sy opstanding en hemelvaart is genoeg tekens – die opgestane, lewende Jesus Christus is genoeg teken! As God nie by Hom was nie, sou dit wat met Hom gebeur het, nie moontlik wees nie. Dit is die een teken wat Jesus totaal onderskei van alles en almal. Ander kan nog sê dat hulle mense gesond gemaak het en wonders gedoen het: Petrus genees ‘n verlamde man en hy kan weer loop (Hand. 3:7); die apostels het baie tekens en wonders gedoen (Hand. 5:12); Petrus wat selfs vir Tabita uit die dood opgewek het (Hand. 9:40). Maar Jona se teken vir die Nineviete en Jesus, “wat groter is as Jona”, was nie net ʼn teken vir die Fariseërs nie, dit is ʼn teken vir almal in álle tye en op alle plekke op aarde. Jesus Christus het opgestaan en dit bewys dat Hy die Christus, die enigste weg tot versoening met God is.


Sonder om profeties of filosofies te klink, beleef ons in hierdie sondeverskeurde wêreld baie mense wat ‘n morele en geestelike laagtepunt bereik het, mense wat uiters moeg en verward is. Honderde tydskrifkolomme en net soveel kulturele en selfs politieke toesprake, wil mense die afskuwelike misverstand laat glo wat en wie Jesus eintlik is. Wat Jesus egter wíl, is iets totaal anders – Hy wil ons na die vrede van ons hemelse Vader terugbring en ons losmaak van alles wat tussen ons en God staan! Kortom, Jesus wil sorg dat ons in die hemel kom. Maar, ons moet aan Hom behoort, en sonder sy Gees, kan ons nie: “As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie” (Rom. 8:9b).


Is ons deel van hierdie “slegte en afvallige geslag wat ‘n teken vra”, en watter teken sal voldoende wees om te glo dat Jesus Christus wel die Messias is? Nee, ons is nie deel van die afvallige geslag nie. In al die verwarring en kompleksiteit van die moderne lewe, het ons geen probleem met ons identiteit nie. Ons gelowiges in Christus, is deel van God se groot familie en aan hierdie wonderlike feit, herinner die Heilige Gees ons voortdurend: “Aan elkeen wat Hom aangeneem, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Ek is ‘n kind van God en God het my lief. Lank voor ek in die vreemde donker verdwaal het, het Hy my ingehaal en in Sy beskermende arms geneem. Hy is soos ‘n moeder wat haar koorsige kind in haar arms hou, sus en vertroos! Stem jy saam of soek jy na nog ‘n teken?


“Geloof is nie om te glo dat God sal doen wat jy graag wil hê nie. Geloof is om te glo dat God sal doen wat reg is” (Max Lucado).


Gebed: Dankie Here dat ek vandag die groter prentjie van die Verlossing ken en kan ervaar. Deur U genade het ek die wonder van geloof ontvang! My hart is eintlik so sondig dat geen geloof daar kan aard nie, maar deur U krag, groei my geloof tot die uiterste toe. Wat ‘n wonderlike wete: ek is ‘n kind van God en God het my lief. Ek hoef nie ‘n teken daarvoor te ontvang nie, want U Gees herinner my voortdurend aan hierdie waarheid en ek kan daaraan vashou en standvastig in die geloof bly. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page