top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


OORDEEL OOR DIE FARISEËRS SE WOORDE.

(Matt. 12:33-37)


‘N BOOM WORD AAN SY VRUGTE GEKEN (4).

(Luk. 6:43-45; Matt. 7:17-27)


’N BEHEERSDE TONG GETUIG VAN GOEIE SMAAK!


Matt. 12:36-37 – “Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”


Vergelyk ook Kol. 4:6 – “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”


Die tong is darem nie altyd net ‘n slegte deel van die menslike liggaam nie. Dit beteken nie dat ‘n mens stom deur die lewe moet gaan en eerder stilbly as om te praat, omdat jy bang is jy sê dalk iets verkeerds, (mooi luister en stadig om te praat (Jak. 1:19). Daar is tye wat ons nie mag stilbly nie en móét praat. Die sonde van versuim kan net sulke vernietigende gevolge hé. ‘n Dissiplinerende antwoord of woord van vermaning, is nie dubbelhartigheid nie, maar eerder die korrekte optrede van dink voor jy doen of sê. As ons die tong kan beheer, is ons in beheer van baie dinge.


Dit is belangrik om op die regte wyse die tong te gebruik – om te seën eerder as te vervloek en só Jesus se seën uit te dra – “Geseënd is die sagmoediges; die vredemakers...” (Matt 3:5; 9). Die manier van praat moet pas by die karakter van die mens wat praat. Daar moet beheer wees tussen wat ons sê en hoe ons is en doen. Die goeie indruk wat ons graag wil maak, kan nie blywend wees as daar bedrog in ons harte is nie. Om God te loof is om ons naaste ook te loof, dit kan dalk net die ander persoon se afstootlikheid of onaangenaamheid, verander. Jakobus sê ons geloof moet ons tonge aanraak en ons aard en inhoud van ons woorde verander!


Daar is baie terreine om jouself in bedwang te hou, en dit is trouens dikwels die begin en die oorsaak daarvan, dat ’n mens in ander opsigte beheer oor jouself verloor. Dit is nie ‘n skande om die woorde “ekskuus” en “ek is jammer” as deel van jou woordeskat te gebruik nie. Wanneer ons mekaar as beelddraers van God erken en eerbiedig, maak ons mekaar net mooier. Dit begin egter by onsself en indien ons getroud is, in ons huwelike, in ons gesinne. Dan vergemaklik dit die situasie soveel meer daarbuite.


Kom ons spandeer net enkele oomblikke in die woord en ontdek 'n paar voorbeelde van die positiewe kant van die tong:

  • Spr. 15:1-2 – “’n Sagte antwoord laat woede bedaar ...; Die woorde van wyse mense maak kennis iets begeerliks.”

  • Spr. 15:4 – “Kalmerende woorde bring lewe...”

  • Spr. 15:23 – “’n Mens vind vreugde as hy die antwoord het; wat is beter as die regte woord op die regte tyd.”

  • Spr. 16:23-24 – “’n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde só dat hy ander kan leer. Aangename woorde is heuning soet en geneeskragtig vir die mens.”

  • Spr. 10:32 – “Die regverdige weet om die gepaste ding te sê.”

  • Spr. 21:23 – “Wie sy mond en tong in toom hou, hou hom uit gevaar.”

  • Ps. 35:28 – “My tong sal nie stil word oor U trou nie, dag vir dag sal ek U loof.”

  • Ps. 89:2 – “Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade, sy trou verkondig aan komende geslagte.”

  • Ps. 92:2-3 – “Dit is goed om die Here te loof, om U Naam te besing, om elke môre van U liefde te getuig, en elke aand van U trou, Allerhoogste.”

  • Ps. 95:1-2 – “Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind.”

  • Hoogl. 1:15-16 – “Jy is mooi my liefling ... Jy is mooi, man wat ek liefhet ...”

  • Hoogl. 4:9 – “Jy het my hart gesteel my beminde bruid ...”

Kom ons wend ‘n daadwerklike poging aan dat ons tongsondes nie die lewenseenheid versteur nie. Dit tas die karakter van die Christelike lewe aan. Kom ons gebruik ons tonge as beitels om die koninkryk van God mooi uit te bou. Kom ons spreek tot mense en oor mense, soos wat God dit graag sou wou hoor! Die gesindheid van ons harte sal blyk uit ons woorde, want “waar die hart van vol is, loop die mond van oor” (Luk. 6:45b). Ons kan nie en mag nie met dieselfde tong, God besing en ander mense slegsê nie!


“Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd” (Spr. 25:11).


Gebed: Here, laat U Gees beheer neem oor my tong. Laat my woorde kosbaar wees aan ander, “mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees” (Ps. 19:15). Here, ek erken dat my tong ‘n manier het om sy eie pad te loop en onnadenkend praat ek dan so maklik, sonder om te besef watter skade my woorde aanrig. Vergewe my as ek terughoudend is wanneer dit by U kom en ek suutjies praat oor U. Help my Here, om met my tong eerder ‘n lewende getuie vir U te wees. Help my om met my tong woorde van dank oor U genade uit te spreek. Verander my opstandige hart sodat my woorde U vrede en vreugde kan uitdra en ek as U lig, helder kan skyn in hierdie donker wêreld. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page