top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


OORDEEL OOR DIE FARISEËRS SE WOORDE.

(Matt. 12:33-37)


‘N BOOM WORD AAN SY VRUGTE GEKEN (3).

(Luk. 6:43-45; Matt. 7:17-27)


‘N ONBEHEERSDE TONG IS VOL DODELIKE GIF!


Matt. 12:36-37 – “Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”


Vergelyk ook Jak. 3:7-8 – “So is die tong ... Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ‘n rustelose kwaad, vol dodelike gif.”


Jesus herinner ons daaraan dat die dinge wat ons sê, ‘n openbaring is van dit wat in ons harte is. Sy broer Jakobus eggo Jesus se woorde deur ‘n beroep te doen op ons gelowiges om ons tong te beheer. Hierdie klein en handige instrumentjie is nog nie onder beheer gebring nie. Jakobus wys daarop dat die mens só geskape is dat hy wel in staat is om oor die vier kategorieë van die diereryk te heers (Gen. 1:28). Hoe groot of gevaarlik hulle ook mag wees, “elke soort dier word en is al deur die mens getem.” Elke moontlike spesie van wilde diere, geveerdes, reptiele en seediere is deur die mens oorweldig of doodgemaak, as hulle hom bedreig of as lewensmiddele en produkte gebruik is.


“Geen mens kan die tong tem nie” sê Jakobus met reg. Na al die eeue wat hy hierdie stukkie waarheid aan die eerste geslag Christene gerig het, is die tendens in baie opsigte, vandag steeds dieselfde. Ons woorde verander in messteke, dit maak seer en breek jarelange vriendskappe op. Selfs huwelike word verwoes deur fatale woorde wat uitgeglip het. Dit is deesdae aan die orde van die dag dat openbare figure moet betoog dat hulle “buite konteks” en foutiewelik aangehaal is. Verskeie mense het al hul loopbane verwoes deur ‘n onbesonne uitspraak of ‘n gewraakte woord te uiter teenoor ander bevolkingsgroepe.


In die tong setel ’n “rustelose kwaad, vol dodelike gif.” Die tong besit ‘n soort onbestendige boosheid wat onvoorspelbaar is en vyandskap aanblaas. Dawid soek die Here se beskerming teen sulke mense: “hulle tonge is so giftig soos slange, hulle woorde so venynig soos adders” (Ps. 140:4). Paulus vat dit nog ‘n stappie verder: “Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid” (Rom. 3:12b-14). Die tong is voorwaar ’n gevaarlike instrument wat onheil, ongeluk, dood en verwoesting kan saai onder die mense, veral wanneer dit verkeerdelik aangewend word!


“Geen mens kan die tong tem nie!” Maar ... “GOD KAN!” Dít is die verskil! God wil nie dat die mens wat Hy net laer as die hemelwesens geskep het, mekaar vermoor met die tong nie. Ons is broers en susters van mekaar want ons is God se kinders, almal deel van God se gesin. God wil deur Sy Gees ons uit hierdie gemors waarin ons in ons huwelike, verhoudings en selfs die kerk verval het as gevolg van ons tonge, verlos. God wil ons daaraan herinner dat Hy op Pinksterdag almal met die Heilige Gees vervul het en dié Gees het ons verskillende tale gegee (Hand. 2:4), sodat ons wêreldwyd met die tong, Sy getuies moet wees, en nie mekaar verskeur nie!


Wanneer ons God met die tong loof, dra ons vyebome vye - ’n vyeboom kan net vye dra. Wanneer ons vloek of sleg van iemand praat, dra ons geen vye nie, dan word ons uitgekap. Soet water kan nie brak water ook oplewer nie. Watter soort woorde kom uit ons monde? Dit is ‘n aanduiding van hoe ons harte binne lyk! Lewer jou fontein (mond) vars water en vrugte van die geloof? Of lewer jou mond brak water en vrugte van die sonde? Ons tonge moet dus op die ritme van die natuur, die eenheid van die lof aan God en liefde vir ons naaste verkondig. Wanneer die Heilige Gees ons motiewe en gesindhede vul met die regte woorde, weet ons die oorsprong daarvan is afkomstig van die regte Bron! Kom ons gebruik dit dan so!


“Die tong is maar 80 millimeter lank maar kan ‘n man van 2 meter doodmaak”

(Japanse spreekwoord).


Gebed: Here, ek wil saam met Dawid vir U vra: “Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê” (Ps. 141:3). Ek wéét wanneer ek dit verkeerd gebruik, verander dit lewens met verreikende gevolge. Ek kan daardie lelike of verkeerde woorde nie weer ongedaan maak as dit eers ge-uiter is nie. Dit word onthou en word aan ander oorvertel. Dit kry uiteindelik ‘n sneeubal momentum wat verkeerde gesindhede skep. Weerhou my asseblief daarvan om beheer te verloor wanneer ek praat. Laat my eerder my woorde weeg as om dit te tel. Laat my eerder my tong gebruik om van U te getuig. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page