top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


OORDEEL OOR DIE FARISEËRS SE WOORDE.

(Matt. 12:33-37)


‘N BOOM WORD AAN SY VRUGTE GEKEN (2).

(Luk. 6:43-45; Matt. 7:17-27)


ONS WOORDE VERRAAI ONS HARTE!


Matt. 12:36-37 – “Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”


Vergelyk ook Kol. 3:17 – “En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”


Ter afsluiting van hierdie gesprek, beklemtoon Jesus dat die boosheid van die Fariseërs se vyandige beskuldiging, as waarskuwing aan alle mense is om te let op wat hulle sê. Ons moet oppas wat ons sê, want van elke onbesonne woord wat ons kwytraak, sal op die oordeelsdag óf teen ons, óf in ons guns gebruik word. Om ligtelik om te gaan met dit waarmee God besig is, is om God se werke gering te skat en ligsinnig dit af te maak of af te skryf. Vir elke onverskillige woord wat ons uiter, sal daar eendag rekenskap geëis word van elkeen van ons afsonderlik.


Wat ons sê, bind ons optrede byvoorbaat. Die mens is wonderlik slim en feitlik in staat om enigiets te kan beheer maar “ons struikel almal in baie opsigte, As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou” (Jak. 3:2). Die gevaarlikste slaggat wat meeste mense se dilemma is, is om soms te “struikel in wat ons sê.” Die struikeling van die tong kan maklik weggeredeneer word as ‘n “menslike swakheid. Dit is tog nie só erg nie, dit gebeur met almal!” Dit is egter veel erger, en hier bedoel Jesus nie dat ons nooit moet ligsinnig wees en lag nie, ons behoort net versigtig te wees dat ons ligsinnige woorde nie net ons eie lewe verinneweer nie, maar ook ander mense s’n. God het ons geheilig vir Sy diens, ook met ons woorde. Ons is nie beter as ander nie. Hy het alle gelowiges in Christus afgesonder as Sy kinders (Joh. 1:12b).


Alles wat ons sê het ‘n uitwerking en daarom kan die nadraai van verkeerde tonggebruik, ernstige gevolge meebring. “So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag” (Jak. 3:5). Hierdie onopvallende liggaamsdeeltjie van die menslike liggaam word ongelukkig nie altyd net as ‘n korrekte spraakorgaan gebruik nie. Verkeerde uitsprake het die neiging om ‘n mens te bind en jou lewenskoers in ‘n ander rigting te dwing sodat jy nie noodwendig die regte “bestemming” bereik nie. Dit ontneem nie net jóú vryheid nie, maar beïnvloed die lewens van ander mense ook.


Die tong word vereenselwig met ’n “wêreld vol ongeregtigheid.” Dit het die potensiaal om die hele wêreld vol boosheid te deurdring. Die tong kan vuil praatjies verander dat dit goed klink en sodoende word “die hele mens besmet” (Jak. 3:6). Gevolglik word ander ook in dieselfde bose kring verswelg in ‘n “wêreld wat nie die Gees kan ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie” (Joh. 14:17a); “’n wêreld waar Jesus Hom net aan Sy dissipels gaan openbaar en nie aan die wêreld nie” (Joh. 14:22); “’n sondige wêreld waaraan Jesus se dissipels nie gelyk word nie” (Rom. 12:2) – want dit is ‘n tong “vol ongeregtigheid” wat nie “alles in die Naam van die Here Jesus sê”, wat ‘n wêreld skep sonder God se koninkryk.


Die mens en die menslike samelewing word met ander woorde, voortdurend en in elke stadium van ons lewe geteister deur die misbruik van die tong – “dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand.” (Jak. 3:6b). Die skokkende ervaring is natuurlik dat hierdie vuur uit die hel geïnspireer word. Dit is egter nie die duiwel se skuld nie, hy is slegs die “brandstigter” wat die vuur uit “die hel aan die brand steek.” Die mens versprei die brand! Die tragiese daarvan is dat dit sommige kere Christengelowiges is wat die veldbrand van boosheid, nydigheid, woede, afguns, twis, vyandskap, leuens, vernedering, teleurstelling, skinder en selfs versuim, deur die mensewêreld laat versprei. Daardeur word ons eie en ander se lewe verander in hel.


Wanneer ek en jy eerder sorgvuldig nadink oor dit wat ons wil sê, kan ons “praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit ons hoorders ten goede kan kom” (Ef. 4:29). Kom ons vra die Heilige Gees om ons te help en ons tonge aan te raak en die aard en inhoud van ons woorde verander sodat ons mense opbou en hulle nie vernietig of seermaak met ligsinnige woorde nie. Indien dit nie moontlik was nie, sou God ons sonder tonge geskep het. “Kom laat ons jubel (met die tong) tot eer van die Here, laat ons juig (met die tong) oor die rots by wie ons redding vind, laat ons na Hom toe gaan met lof (deur ons tonge), laat ons Hom toejuig (met ons tonge) met lofsange” (Ps. 95:1-2). Onthou, ‘n boom word aan sy vrugte geken!


"Three things come not back – the spent arrow, the spoken word and the lost opportunity" (William Barclay).


Gebed: Here, laat die woorde van my mond U welbehaaglik wees. Help my om nie met onbedagsame woorde bo-oor ander se gevoelens te loop nie. Help my om eerder te luister as om onnadenkend te praat en skade met my woorde aan te rig. O Heilige Gees, raak my tong aan sodat die aard en inhoud van my woorde verander en ek daardeur ander mense opbou en hulle nie vernietig of seermaak met ligsinnige woorde nie. Skenk my U sagtheid en maak my sensitief vir ander se behoeftes. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page