top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


OORDEEL OOR DIE FARISEËRS SE WOORDE.


‘N BOOM WORD AAN SY VRUGTE GEKEN (1).

(Luk. 6:43-45; Matt. 7:17-27)


DIE BAROMETER VAN ONS HART!


Matt. 12:33-35 – “As julle sê ‘n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. ‘n Boom word tog aan sy vrugte geken. Julle slange! Hoe kan julle wat sleg is, iets goeds sê? Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.”


Vergelyk ook Spr. 4:23 – “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”


Ter aansluiting van Jesus se sterk waarskuwing oor die sonde teen die Heilige Gees, gaan Hy voort en brei Sy gesprek uit met die Fariseërs. Hy wys dat die lasterlikheid van hulle vyandige beskuldiging dat Hy eintlik ’n gesant van die Satan is, van hulle verdorwe natuur af kom, dat dit ‘n bewys is dat hulle in hulle harte sleg is. Deur ‘n beeld van ‘n boom wys Jesus hulle dat daar geen middeweg is nie, jy is óf aan God se kant, óf aan die duiwel se kant – óf hulle moet die boom goed en sy vrugte goed maak, óf die boom sleg en sy vrugte sleg maak want “aan die vrugte word die boom geken” – uit die lewenstyl van mense kan jy aflei wat hulle keuse is. Dit wat in hulle harte is, sal een of ander tyd oor hulle lippe kom, en dit sal bepaal wie hulle navolg!


Jesus toon hier dat die bewys van die egtheid en gesindheid van die mens se hart, in die resultate van sy woorde en dade lê. Indien die Fariseërs sou erken dat die uitdrywing van die duiwel 'n goeie werk was, moet hulle erken dis 'n vrug van 'n goeie boom en beslis nie die werk van die duiwel nie. Daarmee sou hulle erken dat Jesus en Sy werke goed is, maar geen billike beoordeling kon van “hulle slange” verwag word nie! “Hoe kan hulle wat sleg is, iets goeds sê?”


Hierdie woord van Jesus word ‘n stem in ons lewe, in ons hart en in ons mond, “want waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” Wat Jesus van ons verwag is dat ons eerlik na onsself sal kyk. Dit wat ons sê en doen is ‘n goeie barometer van wat in ons hart aangaan – “die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.” Wanneer ons stil raak en begin luister na God, en Sy Woord soos ‘n saadkorrel in die ‘grond’ van ons harte druk, spruit die lewe wat God gee, in ons uit. Dit is waarom die Bybel so ‘n belangrike plek in ons geloofslewe inneem. Daar is niks belangriker as dit nie. Dit beteken nie om die Bybel te aanbid nie, maar om die God van die Bybel te aanbid en die lewende woorde van die lewende God te hoor, daarop te reageer en dit wat God vir ons sê, te gaan dóén.


Ons kan ongelukkig nie God op ons eie manier volg nie, ons kan nie ‘n verbond met óns voorwaardes daarin vervat, met God sluit nie. Die enigste Weg om gered te word, is slegs deur geloof in die soenverdienste van die gekruisigde Jesus – “Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Die Fariseërs het die gebooie van God te moeilik gevind omdat Hy van hulle grenslose liefde vra, toe voeg hulle meer as ses honderd reëls van hulle eie, by God se gebooie, want dit is meer hanteerbaar – en die eindresultaat is dat “hulle wat sleg is, nie iets goeds kan sê nie.”


Laat die Heilige Gees ons harte en gedagtes versier, nie ons eie dinge wat ons gemaklik laat voel nie. Gebruik die Gees as padkaart wat die rigtingwysers van die Bybel ken en ons enduit, koers sal laat hou! Gehoorsaam God se padreëls met die Gees as Leidsman. Laat toe dat Hy ons verander na “die goeie mens wat die goeie te voorskyn bring uit die oorvloed goeie dinge in ons harte”, en ons lei na die “deur” op die einde waarvan net Jesus die sleutel het! Kom ervaar hoe ons lewe van ‘n barre stuk grond verander in ‘n lushof van bome wat goeie vrugte dra. As jou lewe wys dat jy in Jesus Christus glo en jou geloof deur jou dade, jou goeie vrugte in Sy vrugteboord laat voortbring, sal daar ‘n oorvloedige oes wees.


“Die menslike denke is swak en kan bedrieg word; maar ware geloof in Jesus Christus kan nie bedrieg word nie” (Thomas Kempis).


Gebed: Here, as dit nie vir U leiding was nie, sou ek al lankal ‘n groot gemors gemaak het van alles wat ek aanpak. Ek gee opnuut weer my hart, my mond, my alles vir U om te gebruik na U goeddunke. Verwyder asseblief alles uit my hart wat U nie daar wil sien nie en verander die koudheid daarin om uit te roep na U warm liefde. Dankie dat ek die reis met U woord kon begin, die reis waarin U teenwoordig is, waar U só naby aan my gekom het dat ek dit met my hart en mond, U lof kan verkondig. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page