top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


JESUS EN BEËLSEBUL (6)

(Mark. 3:20-30; Luk. 11:14-23; 12:10)


BEVRYDING VAN VREES OOR SONDE TEEN DIE HEILIGE GEES!


Matt. 12:31-32 – “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie. As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.”


Vergelyk ook Mark. 3:28-29 – “Voorwaar Ek sê vir julle, al die sondes sal die mensekinders vergewe word en al die lasteringe wat hulle mag uitgespreek het; maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel.” (’53 – Vertaling.)


Hierdie skrikwekkende uitspraak van Jesus oor mense wat laster teen die Heilige Gees, dat hulle "geen vergifnis sal ontvang tot in ewigheid nie, maar skuldig is aan die ewige oordeel”, kan ons nie ligtelik opneem of sommer net wegpraat nie. Dit bly ‘n skokkende werklikheid! Hoekom is daar so ‘n geweldige oordeel aan hierdie sonde verbonde? Jesus Christus het reeds die graf, dood en hel totaal en volkome oorwin, en satan se mag oor die mens sodoende verslaan. Satan is ‘n oorwonne vyand en hy weet hy en al sy trawante van die donker, is veroordeel en hulle sidder van angs (Jak. 2:19).


In sy weerwraak teenoor die lewende God die Vader, Seun en Heilige Gees, laster die demone gedurig teen God. Satan, wil die mens wat na God se beeld geskape is, in hierdie lastering teen God betrek. God daarenteen, beskerm sy Gees deur hierdie veroordeling van laster, want Hy werk deur die krag van sy Gees wie sy Voorspraak op aarde is (Joh. 16:7). Deur die Heilige Gees, is God ons Vader “en omdat ons Sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur en in ons roep Hy uit: ‘Abba!’ Dit beteken: Vader” (Gal. 4:6).


Satan sal alles in sy mag doen om “dissipels” bymekaar te maak in sy poging om God se Gees te laster. Sy eerste tipe mens wat hy wil betrek, is die Godvresende mens, die gelowige in Christus, ek en jy wat ontsag het vir God en sy Woord, wat weet dit staan in die Bybel dat sonde teenoor die Heilige Gees, onvergeeflik is. Hy skep juis hierdie vrees waarvan ek gister gepraat het, dat ons dalk onwetend, teen die Gees gesondig het. Hy bou op hierdie vrees sodat ons later skuldig voel en onsself begin glo dat God ons verwerp het en sodoende, verlore voel en onsself dan veroordeel, deur pyniging van depressie byvoorbeeld.


‘n Ander tipe mens wat die duiwel en sy trawante hulle kloue inslaan, is die onkundige persoon. Hulle is meestal die mense wat “church hoppers” genoem word – hulle wat op soek is na die regte “kerk” wat aan húlle behoeftes voorsien. Gewoonlik eindig hulle by kerkgroepe wat “sonde teen die Heilige Gees” as strafmiddel gebruik. Jy mag na geen ander kerk toe gaan of met ander Christene praat nie, behalwe met een van die “leermeesters” in jou eie gemeente. Indien jy die reëls en wil van die leiers oortree, maak jy jou skuldig aan sonde teen die Heilige Gees, en is jy verdoem. Uit vrees vir hierdie leiers, bly hulle vasgevang in die dwaalleer van mense, terwyl “die Gees wat aan hulle gegee is, hulle nie tot slawe maak en hulle nie in vrees moet lewe nie; nee, hulle het die Gees ontvang wat hulle tot kinders van God maak” (Rom. 8:15).


Hierdie mense glo ‘n leuen en hierdie leuen is gebou op onkunde en gemanifesteer deur satan. ‘n Versekering van saligheid moet in hierdie mense bewerkstellig word, ‘n saligheid wat die waarheid van God se lewende Woord in hulle hervestig. Omdat hulle gesindheid deur omstandighede en gebeurtenisse buite hulle beheer geskep kon gewees het, moet hulle opnuut besef die Gees van God woon in hulle as gelowiges in Christus, en Hy is groter as die negatiewe en destruktiewe magte om hulle. Hulle kan glo in die waarheid, die waarheid dat “hulle aan God behoort wie die vals profete klaar oorwin het omdat Hy wat in hulle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is” (1 Joh. 4:4).


“Wanneer mense hulle oorgee aan die Gees van God sal hulle binne ‘n week meer leer oor die waarheid van God en Christus en versoening en onsterflikheid, as wat hulle in ‘n hele leeftyd buite die Gees om sou leer” (Jim Brown).


Gebed: Heilige Gees, ek vra U opnuut om Leidsman van my lewe te wees. Vul my met liefde, hoop, en krag sodat ek kan wees wat U wil hê ek moet wees. Verkwik my met U teenwoordigheid. Staan my by om ‘n meer intiemer verhouding met my hemelse Vader te bou, sodat ek nooit eensaam en verwerplik sal voel nie. Dankie vir die sekerheid wat ek in my hart het dat U in beheer van my lewe is. Dankie dat U my op die pad van die Waarheid, die pad van ewige oorwinning lei. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page