top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


JESUS SE GENESINGS IS DIE VERVULLING VAN DIE OU TESTAMENTIESE BELOFTES.

(Matt. 12:15-21; Mark. 3:7-12; Luk. 6:17-19)


JESUS DIE DIENAAR VAN DIE HERE (2)


PLAAS JOU VERTROUE IN “DIE DIENAAR VAN DIE HERE” – JESUS CHRISTUS!


Matt. 12:17-21 – “So is vervul wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het: ‘Hier is my Dienaar wat Ek aangestel het, my Geliefde oor wie Ek My verheug; Ek sal my Gees oor Hom laat kom, en Hy sal die wil van God aan die nasies bekend maak. Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. ’n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ‘n lamppit wat rook, nie uitdoof nie; Hy sal die wil van God laat seëvier. En op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”


Matteus haal in vandag se teksverse die profesie van Jesaja 42:1-4 en 11:10 aan, en onderstreep die vervulling van die Dienaar se taak deur Jesus. Bekragtig deur die Heilige Gees, is Jesus se taak om die bedeling van God se barmhartigheid, Sy reg en Sy wil soos dit werklik ís, oorwinnend aan te kondig aan álle nasies, sodat daar vir álmal hoop sal wees. Jesus sal álle nasies van die wêreld leer wat die waarheid en wat reg is, om God, sy Vader, as die enigste Ware God te aanbid!


Midde in die konflik tussen die Fariseërs en Jesus oor God se wil, benadruk hierdie aanhaling uit Jesaja se profesie, vyf uitsprake dat Jesus anders is as die geestelike leiers van Sy tyd. Hy is die geliefde Dienaar van God, dat ons juis “Sy juk moet opneem en by Hom leer, want Hy is sagmoedig en nederig van hart. By Hom sal ons rus kry vir ons gemoed want Sy juk is sag en Sy las is lig” (Matt. 11:29). Hy baklei nie en vernietig nie ander se lewens nie. Nee, Hy kom staan “stil by die geknakte riet en die rokende lamppit”, die mense wat stukkend en seer deur die storms van die lewe gekasty is. Hy gee om vir mense in nood, mense wie gebroke is en nie meer die lig in die donker tonnel raaksien nie!


Jesus gee na al die eeue stééds om vir mense, Hy gee om vir mense se menswaardigheid – Hy is inderdaad “meer as die tempel, Hy is die Seun van die mens wat Here oor die sabbat is” (Matt. 12:6-8). Hy is nederigheid in aksie! Sy passie is om verdwaaldes, honger en eensame mense, sukkelende siekes, uitgeworpenes, verwerptes, op te soek. Jesus se pad stop by die voordeur van dié met stukkende lewens en Hy wag om ingenooi te word! Hy praat eenvoudige barmhartigheidstaal sodat almal Hom kan verstaan – “Volg My”, is die kern daarvan. Die probleem is egter dat daar só baie mense met verskoning-taal bo-oor Jesus se lewende woorde skryf. Jesus forseer nie Sy wil op ons af nie. Elkeen sal egter die gevolge van hulle keuses, eendag sélf moet dra.


Dit klink asof hierdie verse maar net 'n historiese verslaggie is van wat gebeur het voor Jesus se kruisdood, en miskien wonder sommige mense wat beteken dit nou eintlik in ons moderne eeu? Sommige sal selfs redeneer dat hulle gelukkig nie deel was van diegene wat Jesus doodgemaak het nie en ook nie nou beplan om Hom (weer) dood te maak nie. Daarom is hierdie verhaal nie regtig van toepassing op ons nie.


Nooit, ons wil beslis nie vir Jesus doodmaak nie! Maar, maak ons nie dalk soms Sy werke ongedaan nie? Drentel ons nie maar net lui-lui agter Hom aan nie, of leef ons die boodskap van Christus met ywer uit? Sondae hoor ons wat Jesus gedoen het en nog steeds doen, ons lees wat Hy vra, ons loof en prys Hom, maar wanneer ons rondom ons kyk, sien ons bitter min hiervan, sien ons dat die pessimisme en vrees van mense regverdig is. Sien ons eerder volop getuienis van geweld, onbetrokkenheid, korrupsie, gruwelike oortreding van mense se regte en menswaardigheid, veral gedurende die Covid-19 inperkingstyd! Gevolglik voel baie mense dat daar min hoop is en dat die beskawing gedoem is tot ondergang.


Maar, God se stem sny vandag steeds na twee kante toe – sommige mense bly onaangeraak terwyl ander se geloofsoë siende raak. God sê steeds: “Hier is my Dienaar wat Ek aangestel het, my Geliefde oor wie Ek My verheug; Ek sal my Gees oor Hom laat kom, en Hy sal die wil van God oor die nasies bekend maak.” God se “Gees wat Hy oor Jesus laat kom het”, stel ons in staat om te seëvier oor ons omstandighede. Dit is daarom uiters noodsaaklik dat ons die Heilige Gees sal toelaat om in ons te woon en deur ons te werk. Ek en jy moet ons vertroue in Christus plaas en leef in die versekering dat Hy beheer het oor die wêreld waarin ons leef en werk! Vertrou op Sy allesoorwinnende almag en wees gehoorsaam aan die leiding van die Heilige Gees. Dit is alleenlik dáár waar ons gemoedsrus en vrede ervaar, te midde van die stukkende wêreldsdinge rondom ons.


“Die essensie van liefde is vir alle eeue saamgebundel in daardie eensame, bloeiende Figuur aan die kruis” (Philip Yancey).


Gebed: Here, ek verstaan die val-en-opstaan pad van die geestelike groei roete. Dankie dat U juis gekom het vir ‘n sondaar-sukkelende soos ek, en my telkens maar weer optel wanneer ek geval het. Dankie dat U nie volmaakte mense uitsoek nie, maar juis by mý begin het net soos ek is. Dit is voorwaar die beste om naby U te loop en Here, wanneer my geloofsoë en ore begin dof raak, bring my nader na U toe. Ek gee my opnuut oor aan die leiding van U Gees sodat ek U kragtige getuie kan wees. Ek bid vir elkeen wat nog dwalend is en met verskoning-taal bo-oor U lewende woorde skryf. Help hulle Here dat hulle na U sal luister en vir U sal leef. Plaas hulle vertroue in U, Here Jesus! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page