top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


JESUS SE GENESINGS IS DIE VERVULLING VAN DIE OU TESTAMENTIESE BELOFTES.

(Matt. 12:15-21; Mark. 3:7-12; Luk. 6:17-19)


JESUS DIE DIENAAR VAN DIE HERE (1)


JESUS DIE REDDER VAN ÁLLE MENSE!


Matt. 12:15-16 – “Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan weggegaan. Baie mense het saam met Hom gegaan, en Hy het hulle almal gesond gemaak, maar hulle belet om in die openbaar oor Hom te praat.”


Die verset van die godsdienstige leiers het teen Jesus in so ’n mate toegeneem, dat hulle die politieke magte teen Hom begin mobiliseer het. Markus verwys in sy evangelie na ’n bondgenootskap wat die godsdienstige leiers met die Herodiane gesmee het om Jesus dood te maak (Mark. 3:6). Herodus Antipas het Galilea regeer tydens Jesus se bediening en die Herodiane was ‘n groep wat die Herodus familie in beheer wou hou. Normaalweg sou die Fariseërs hulle vyande wees, aangesien die lojale Joodse leiers gehoop het dat die Jode weer hulle onafhanklikheid sou terugkry, maar ‘n gemeenskaplike haat vir Jesus, tesame met die vrees dat Rome hulle van hulle mag ontneem, het veroorsaak dat die Fariseërs en Herodiane kragte teen Jesus saamgesnoer het.


Die meeste van Jesus se bediening was gefokus op die klein stukkie land wat die See van Galilea omring het. “Toe Jesus hoor dat die Fariseërs planne beraam om Hom om die lewe te bring, het Hy daarvandaan weggegaan.” Jesus het Hom dikwels onttrek wanneer die verset teen Hom opgelaai het en nou wyk Hy uit na ’n rustiger oord aan die oewer van die See van Galilea. Afsondering kon Hy egter nie vind nie want ’n groot skare mense uit alle dele van die land, volg Hom steeds. Waar Jesus Hom ook al bevind, kom die ellende en die lyding tot openbaring. Die inwoners van die land het waarskynlik self nooit kon dink dat daar so baie siekes en so ’n verskeidenheid van kwale was as wat hulle nou rondom Jesus waargeneem het nie. Teenoor hierdie lyding tree die Here met liefde en met mag op “en Hy het hulle almal gesond gemaak, maar hulle belet om in die openbaar oor Hom te praat.”


Jesus het verskeie kere mense belet om in die openbaar oor Sy wondergenesings te praat. Dit geskied, nie omdat Hy die feit dat Hy die Messias was, geheim wou hou nie, maar omdat Hy ’n verwronge Messiasopvatting moes bestry. Jesus wou deur selfopenbaring, álle mense geleidelik opvoed tot die ware insigte in verband met die Messias van die Skrifte en sy prediking oor die koninkryk van God, moes hoor en aanvaar, daarom dat Hy oorhaastige en ontydige bekendmakings wou voorkom. Hy wou nie as ’n populêre wondergeneser of nasionale bevryder beskou word nie, maar wou as God se Gestuurde, die liefdeskarakter van ons Vader demonstreer. God is immers nie ‘n straffende God nie, maar ‘n God van deernis, barmhartigheid en liefde vir onrein sondaars! God wil nie vernietig nie, maar red!


Jesus illustreer hier dat ons dieselfde behoort te doen. Gebrekkige kennis oor Hom is gevaarlik. Baie mense het allerhande misverstande oor Jesus en interpreteer Hom soos hulle Hom graag wil “gebruik” as nood hulpverlener. Al het daar reeds baie eeue verbygegaan, is die goeie nuus van Jesus Christus nog net so relevant en noodsaaklik soos gedurende Sy dae op aarde. Dit is uiters noodsaaklik om te sorg dat ons die regte kennis oor Jesus tot ons beskikking het – kennis wat net op een plek verkry word, naamlik die Bybel. En wanneer ons lamgelê word deur die oorweldigende verantwoordelikheid om ‘n getuie van Christus te wees, stel Hy ons gerus met die wete dat “ons krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom” (Hand. 1:8).


Die Gees staan gereed om ons gelowiges te omgord met Sy krag sodat ons getuies van Jesus Christus kan wees. Wanneer ons vir ander begin omgee, raak ons deel van die seën wat God vir mense gee. Raak Hy eintlik deur ons, ‘n werklikheid vir mense rondom ons. Hy begin om deur ons vir ander tot ‘n seën te wees: “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.” (Luk. 6:36). Dit raak ‘n geloofsgewoonte van omgee, om dus ’n hart vir ons naaste te hê, om hande en voete aan ons gevoel van barmhartigheid en omgee, te gee.


“Ons taak as leke is om ons verhouding met Christus met soveel intensiteit uit te leef dat dit aansteeklik sal wees” (Paul Tournier).


Gebed: “O, Heilge Gees, bereider van God se koninkryk. O Helper en Bevryder, laat Gods beeld in ons blyk. Gee ons die krag tot dade om in u Naam te bou, gesterk deur U genade. Maak ons in U getrou.” (Liedboek 437:2). Here Jesus, ek kom pleit vandag, dat U u hand na só baie mense wat siek is, sal uitsteek. Omvou hulle met U omgee-liefde want Here, ek as mens is maar stram om dit te doen. Daar is só baie mense op die buiterand van die samelewing waarheen hulle siektes hulle verban het, help hulle dat hulle besef, hulle sondes niks meer as enigeen van ons s’n is nie. Skenk my die oë, hart en arms wat sal uitreik na iemand wat U oor my pad stuur wat in my ‘n gevoel van omgee wakker maak. Moenie dat ek dit ignoreer nie, maar doen wat U op my hart lê. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page