top of page

Gedagte vir Vandag


Ons herinner elkeen om Maandae tot Saterdae om 09h30 in te skakel by Fochville-Noord se Facebook blad en te luister na ‘n kort boodskappie by “Dagstukkies” en direk daarna, “Storietyd vir Kinders” gelees deur Marina Theron. Indien julle nie Facebook het nie, skakel in op ons Kerk se Webblad by http://www.ngfochvillenoord.co.za/e-kerk. Kom ervaar saam met ons gemeente, geloofsgemeenskap op 'n nuwe manier.


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


DIE FARISEËRS NEEM AANSTOOT DAT JESUS OP DIE SABBAT GENEES.

(Matt. 12:9-14)


DIE MAN MET DIE GEBREKLIKE HAND.

(Mark. 3:1-6; Luk. 6:6-11)


STEEK JOU LEWE UIT NA JESUS EN ONTVANG SY OORVLOEDIGE GENADE!


Matt. 12:9-14 – “Jesus het daarvandaan verder gegaan en in hulle sinagoge gekom. Daar was juis ‘n man met ‘n gebreklike hand. Hulle vra Hom toe: ‘Mag ‘n mens iemand op die sabbatdag gesond maak?’ Hulle bedoeling daarmee was om ‘n klag teen Hom te kry. Hy sê vir hulle: ‘Wie van julle sal nie die een skaap wat hy het en wat op ‘n sabbatdag in ‘n sloot val, dadelik uithaal nie? Hoeveel is ‘n mens nie meer werd as ‘n skaap nie? Dan mag ‘n mens mos op die sabbatdag goed doen.’ Toe sê Hy vir die man: ‘Steek jou hand uit.’ Hy het dit gedoen, en sy hand was reg soos die ander een. Die Fariseërs het toe uitgegaan en planne beraam om Jesus om die lewe te bring.”


Na Sy gesprek met die Fariseërs oor werk of diens op die sabbat, gaan Jesus, soos Sy gewoonte was op die sabbat, na ‘n sinagoge. Opmerklik verwys Matteus hier na “hulle sinagoge” wat moontlik reeds ‘n afstand bepaal tussen Jesus, die skrifgeleerdes en Fariseërs. Die verset teen Jesus het nou ontwikkel tot ’n besluit om ’n “aanklag teen Hom” te formuleer en Hom voor die Joodse Raad te beskuldig. Met daardie doel is die oë van Jesus se teenstanders op Hom gerig en hou hulle Hom fyn dop. Volgens die gebruike van die Jode moes daar “op die sabbatdag” hoegenaamd geen werk gedoen word nie. Ook die siekeversorging moes tot stilstand kom, behalwe as iemand in doodsgevaar verkeer. Die man met die gebreklike hand kwalifiseer dus nie, en kon volgens hulle, tot die volgende dag wag.


Jesus het egter “hulle gedagtes geken en die man beveel om in die middel te kom staan waar almal hom kan sien (Luk. 6:8). Aan die hand van ‘n kort gelykenis illustreer Jesus dat mens juis op die sabbatdag moet goed doen, al gaan dit nie oor lewe of dood nie. ‘n (Arm) boer sal “die een skaap wat hy het en wat op ‘n sabbatdag in ‘n sloot val, dadelik uithaal.” Jesus se vraag is ’n verwerping van al die haarklowery van die Fariseërs, en dit dring deur na die grondbeginsel van barmhartigheidsdiens op die dag van die Here! Met Jesus se volkome genesing van die man se gebreklike hand, het Hy daarmee nie die heiliging van die sabbatdag verwerp nie, maar ’n betekenis daaraan gegee wat in ooreenstemming is met die bedoeling van God by die instelling van die sabbatdag. Dit moet aangewend word tot verheerliking van God en die uitvoering van die hoogste gebod – liefde tot God en liefde tot die naaste.


'n Mens sou dink dat die Joodse kerkleiers verheug sou wees oor die man se genesing. Maar Jesus se verweer oor die sabbatskending, is verpletterend en dit maak hulle woedend. Hulle sien glad nie die geneesde man nie. Hulle talle mensgemaakte sabbatsreëls erken ook nie die feit dat Jesus hom nie net gesond gemaak het nie, maar ook gesorg het dat hy sy werk beter kon verrig en daardeur selfversorgend kan wees. Hulle verstommende beheptheid met wetlike voorskrifte laat die eintlike eis van die wet – liefde tot God en liefde tot die naaste – by hulle verbygaan.


Hoe blind kan Christuslose godsdiens ‘n mens maak? Godsdiens sonder die wedergeboorte, die ware léwe in Christus. Godsdiens wat nie uit genade gelewe word nie. Godsdiens wat verstrik raak in mensgemaakte wette en ou gebruike. Dis dodelik. Sulke godsdiens kan jou laat dink dat jy vir God 'n guns doen deur met vliegtuie in geboue in te ploeg. Sulke godsdiens was in die geskiedenis en is tot vandag, verantwoordelik vir baie ellende in die wêreld – ook vir die vervolging en marteling van baie Christene. Selfs Paulus het gemeen sy wrede en bloeddorstige vervolging van Christene was om op só ‘n wyse, dat hy God moes dien (Hand. 26:9). Dit was sulke godsdiens met menslike verdraaide standpunte wat tot Jesus se kruisiging gelei het!


Een van die duiwel se slim sette is om ‘n mens se denke te laat vashaak by Bybelse vraagstukke. Die Fariseërs het nie getwyfel in Jesus se vermoë om die man te genees nie, maar of Hy sou, en sodoende die sabbatswet verbreek. Vir Jesus was die hoofsaak dit wat God met die man wou doen, en nie liefdelose reëls nie. In teenstelling met die Fariseërs, het die man met die gebreklike hand presies gedoen wat Jesus beveel het, sy hand “uitgesteek en sy hand was reg soos die ander een.” Hy het nie met argumente of om ‘n standpunt te stel na Jesus gekom nie, maar in swakheid en nood gedoen wat Jesus gevra het.


Dit is soos ek en jy ook in swakheid en nood na Jesus toe moet gaan. Vergeet van al die slim argumente en debatvoering. Ontmoet Jesus van aangesig tot aangesig in gebed, en bring jou probleme saam, jou tekortkominge, jou swakhede, jou nood, en laat toe dat Jesus jou aanraak. Luister wanneer Hy sê: “Steek jou hand uit …” en steek nie net dit wat pla na Hom uit nie, maar jou hele hart, jou liggaam, jou gewete en gló: Hy maak alles goed wat sleg en stukkend is. Wanneer liefde vir die Here en jou vaste vertroue in Hom jou denke beheers, sal jy geestelik sensitief raak vir Sy leiding en doen wat Hy vra. Wat ons menslike nood ook al is, deur Jesus skenk God ons Sy oorvloedige genade!


“Niemand is veilig in sy eie krag nie, maar hy is alleen veilig deur die genade en almag van God” (Siprianus).


Gebed: Hemel Vader, dankie dat U nie spitsvondige wetsgeleerdheid swaarder opweeg as barmhartigheid en die liefde nie. Here, dankie dat U my altyd in my nood ontmoet. Ek kom opnuut na U toe met my gebreklike lewe, met alles wat stukkend in my is. Hou my denke op U gefokus sodat ek U liefdevolle genesende krag kan ervaar. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page