top of page

Gedagte vir Vandag


‘n Replika van die kandelaar (Eks. 25:31-40) en priester wat diens doen

in die Tabernakel en later die Tempel (Eks. 28-29).

WEENS REKENAAR PROBLEME, KON ONS ONGELUKKIG NIE DIE E-KERK DAGSTUKKIES VAN WOENSDAG, 10 TOT VRYDAG, 12 JUNIE VERSEND NIE. JAMMER VIR DIE ONGERIEF.

JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


DIE FARISEËRS NEEM AANSTOOT HOE JESUS DIE SABBAT HOU.

(Matt. 12:1-8)


JESUS IS DIE HERE OOR DIE SABBAT (2)

(Mark. 2:23-28; Luk. 6:1-5)


LIEFDE EN TOEWYDING AAN DIE HERE IS DIE BELANGRIKSTE!


Matt. 12:5-8 – “Of het julle nie in die wet van Moses gelees dat die priesters op die sabbatdag in die tempel diens moet doen nie? Hulle oortree dus die sabbatsgebod, en tog is hulle nie skuldig nie. Ek sê vir julle: Hier is Een wat groter is as die tempel. As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie, dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie. Die Seun van die mens is immers Here oor die sabbat.”


Vergelyk ook Hos. 6:6 – “Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers.”


Tweedens wys Jesus die Fariseërs op hulle eie voorskrifte waar daar allerlei skuiwergate ingebou is, wanneer Hy uit Levitikus 24:8 en Numeri 28:9 aanhaal “dat die priesters op die sabbatdag in die tempel diens moes doen”, om die offerbrood te vervang en lammers te slag en geoffer moes word. “Die priesters oortree dus die sabbatsgebod, en tog is hulle nie skuldig nie”, hoeveel te meer mag die “Seun van die mens, wat groter is as die tempel en Here is oor die sabbat”, dit dan nie doen nie? (Die Fariseërs moes seker verstik het van woede en skok toe Jesus hulle twee heiligste godsdienstige simbole, naamlik die tempel en die sabbat, so onseremonieel behandel en dit ondergeskik stel aan barmhartigheid en liefde.)


Verder verwyt Jesus die Fariseërs dat hulle die sabbatswette in die konteks van die hele Skrif, moes vertolk het. Hulle moes daarin lees dat God “eerder liefde verwag as offers en eerder toewyding aan Hom as brandoffers.” Daarenteen openbaar hulle eerder ‘n gesindheid van veroordeling teenoor onskuldiges en daarmee plaas hulle ‘n swaar las en juk op mense. Vir God is barmhartigheid meer werd as slaafse gehoorsaamheid aan voorskrifte. Daarmee is Jesus se bedoeling natuurlik nie om die seremoniële wette op te hef, of dat elkeen nou maar kan maak soos hy wil met die wet, solank die liefde net uitgeleef word. Die verstaan van God se wet is dus nie ‘n saak van persoonlike interpretasie of keuse nie, maar gehoorsaamheid daaraan én om Sy prioriteite in ag te neem, soos Jesus dit geleef het.


Jesus het die Jode kom wys waar die hart van God is en waar hulle harte nie meer was nie: “God verwag liefde eerder as offers, toewyding aan Hom eerder as brandoffers.” Jesus het kom wys dat die sabbat minstens 'n dag is van diens en van verhoudings. Dit is 'n dag waarop God en mense in die fokus is en nie dooie reëls nie. Jesus het kom wys Hy is Here oor die sabbat en dat elke dag eintlik ʼn sabbat is – 'n dag wanneer God verheerlik word en goeie dade teenoor ons naaste, gedoen word. Jesus het dit nie teen die sabbat gehad nie, Hy het dit teen die verkeerde verstaan van God se bedoeling daarmee gehad. Hy het dus nie gekom om die wette af te skaal of tot niet te maak nie, maar juis sodat dit tot hulle volle betekenis kan terugkeer (Matt. 5:17).


Jesus het die Joodse sabbatswet, volgens die godsdiensleiers, kom breek, maar eintlik het Hy die ware bedoeling daarvan kom herstel. Jesus se strydgesprek met die godsdienleiers was nie om Sy eie eer te laat toeneem nie, maar om God se waarheid in die openbaar te laat seëvier. Die Jode was so gefokus op die dóén van die wet, dat hulle dikwels dit bo die liefde en die omgee van mense gestel het. Hulle sou dus eerder by die letter van die sabbatswet bly en iemand wat die sabbat oortree het vermoor, as wat hulle sou toelaat dat ʼn persoon wat siek is, genees kan word. In kort sê Jesus dus vir die Fariseërs dat die Sabbat bedoel is om ’n seën te wees, en nie ’n las of ‘n juk nie.


Vir die eerste Christene was elke dag 'n dag van Godverheerliking en naastediens. Die sabbat was nie meer net een dag nie maar elke dag van die week. Indien ons dus vandag nuwe reëls opstel van dingetjies wat ons op Sondag mag en nie mag doen nie, mis ons die punt en vergeet ons die radikale optrede van Jesus – die Seun van God wat met sy optrede nie die wet kom ophef het nie, maar kom wys het dat die spelreëls verander het. Inteendeel, die ganse spel van die totale lewe het verander. Mag ons herinner word dat Jesus ons kom wys het dat elke dag 'n sabbat is en dat die sabbat wesenlik ‘n dag van Godverheerliking en naastediens is.


Soos ons Dinsdag gesê het: Ons moet God elke dag verheerlik, nie net Saterdag of Sondag nie. Ons moet nou op ‘n nuwe manier leef, want elke dag is feestyd. Ons as Christengelowiges gebruik wel Sondag as ‘n spesiale feesdag. Dit wys heen na Christus se opstandingsdag, en ons as gelowiges is almal in afwagting op die wederkoms van Christus. Ons kerkbywoning dien dus o.a. as aanmoediging en bemoediging vir mekaar om te volhard op hierdie pad van heiligmaking, sodat ons die koms van Christus met opgewonde afwagting tegemoet kan gaan.


Om Sondag deur te bring as ’n spesiale dag, toegewy aan God, hou ongetwyfeld geestelike groei vir elkeen in, daarom “moet ons nie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan” (Heb. 10:25). (Dit is natuurlik geldig wanneer alles normaal is en ons nie onderhewig is aan inperkingsreëls nie.)


“Kom laat ons aan Christus die groot offer van ons liefde bring en Hom met lofgesange en gebede aanbid. Want Hy het Homself geoffer sodat ons almal ryk gemaak kan word”

(Paul Frost).


Gebed: Here, weerhou my van vreugdelose godsdiens, ‘n soort godsdiens wat deur wette en reëls gemaak is. Hou my asseblief op die Christusweg – die weg, die waarheid en die lewe. Dankie dat ek U nie op hierdie weg gevind het nie, U het my gevind. Help my dat ek van Maandag tot Sondag U lof verkondig en saam met U fees vier, want elke dag is feestyd omdat U deur U Gees, bý my is. Dankie vir die ware sabbatsrus wat U vir my daarom moontlik gemaak het. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page