top of page

Gedagte vir Vandag


‘n Replika van die “Tafel met die 12 offerbrode, of toonbrode”, een vir elke stam, in die Heilige gedeelte van die Tabernakel en later in die Tempel (Eks. 26:23-30)

JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


DIE FARISEËRS NEEM AANSTOOT HOE JESUS DIE SABBAT HOU.

(Matt. 12:1-8)


JESUS IS DIE HERE OOR DIE SABBAT (1)

(Mark. 2:23-28; Luk. 6:1-5)


ELKE DAG IS ’N SABBATDAG!


Matt. 12:1-4 – “In dié tyd het Jesus op ‘n sabbatdag deur gesaaides geloop. Sy dissipels het honger geword en are begin pluk en van die koring geëet. Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: ‘Kyk daar! U dissipels doen iets wat op die sabbatdag nie gedoen mag word nie.’ Maar Hy sê vir hulle: ‘Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger geword het nie? Hy het in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat hy en sy manne nie mag gedoen het nie, maar net die priesters.”


In dieselfde tyd wat Jesus die mense uitnooi om “Sy sagte juk op hulle te neem en te leer van Hom,” stap Hy en sy dissipels “op ’n sabbatdag” in ’n voetpad deur ’n koringland. Die dissipels pluk are, vryf dit uit en eet die korrels. Daarmee doen hulle iets wat op ’n weeksdag geoorloof is, en nie as diefstal gereken word nie (Deut. 23:25). Maar op die sabbat kan dit op grond van die uitvryf van die are, volgens oorgelewerde wetsverklaring vertolk word as oes of as voedselvoorbereiding, en albei is op die sabbat nie geoorloof nie (Eks. 34:21). Op grond van hierdie oorgelewerde vertolking, en nie ’n wetsuitspraak nie, maak die Fariseërs heftig beswaar.


In dieselfde tyd het “Jesus ook sy Vader geprys dat Hy baie dinge van die koninkryk van God, vir die slim en geleerde mense verberg” (Matt. 11:25). Hierdie mistasting van die Fariseërs is ‘n perfekte voorbeeld daarvan. Jesus antwoord hulle op vier maniere. Ten eerste verwys Jesus na Dawid wat eenmaal “toe hy en sy manne honger geword het, die offerbrode van die heiligdom opgeëis het om te eet” (1 Sam. 21:2 ev). Hy het dus iets gedoen wat alleen priesters mag doen (Lev. 24:5-9), maar hy het dit in sy nood gedoen en dit is hom nie as ’n oortreding toegereken nie. Uit die optrede van Dawid is af te lei dat ’n ongeoorloofde daad in bepaalde omstandighede tog geoorloof kan wees. ’n Hoër noodsaaklikheid, wat sy oorsprong het in die wil van God, kan ’n uitsondering op vaste reëls vereis ter wille van die liggaamlike en geestelike versorging van die kinders van God.


Die sabbat was die heiligste dag van die week op die Joodse feeskalender. Godvresende Jode moes hierdie heilige dag nougeset nakom. Mense kon op die sabbat eet maar hulle moes die kos al die vorige dag voorberei. Die verontwaardigde Fariseërs vestig Jesus se aandag onmiddellik op sy dissipels se oortreding. Maar, indien die Fariseërs die optrede van Dawid, toe hy in die nood was goedkeur, behoort hulle ook geen beswaar te hê teen ’n handelwyse van die dissipels, wat deur die Seun van Dawid, as toelaatbaar geag word nie. Die feit dat Dawid se manskappe honger was, was vir hom belangriker as reëls. Net so was Jesus se dissipels se honger op daardie stadium vir Jesus belangriker as die sabbatsgebod.


Jesus se verweer oor die sabbatskending, is verpletterend en dit maak die Fariseërs woedend. Alhoewel Jesus nié die onderhouding van die sabbat afmaak nie, interpreteer die Fariseërs dit juis so. God het vir die Israeliete die Tien Gebooie gegee om vir hulle die koers aan te dui. Die Fariseërs het meer as ses honderd reëls van moets en moenies bygevoeg om aan te dui watter optrede die wet verbreek. Jesus het geweet die doel van die wet is om lewe te bring, nie om mense ellendig te maak en hulle met skuldgevoelens te oorlaai nie.


Christenskap is nie soos sekere mense dink, ‘n stel moets en moenies nie. Dit beteken om Jesus te volg en te weet dat Hy jou liefhet en jy wederliefde betoon aan Hom, en daardie selfde liefde uitdra met liefde vir jou medemens. Dit sluit wel sekere dissiplines in maar die liefde styg uit bo die wet: “God vul ons harte met liefde, nie met wette nie, want sieldodende wette dryf ons juis van God af weg” (William Barclay). Buitendien gebruik ons nie meer die sabbatdag as rusdag nie, ons rus elke dag van die week, nie van werk nie, maar van die sonde. “Sabbatsviering is heiligmaking (Heb. 4:8-11) en Sondagviering is die fees van Jesus se opwekking” (Prof. Adrio König).


Ons moet God elke dag aanbid, nie net Saterdag of Sondag nie. Elke dag is rusdag, rusdag van die sonde. Dit is die fees van God se bevestiging dat ons sonde deur Christus se kruisdood vergewe is en God dit so aanvaar het. Hy het dan ook ‘n wonderlike belofte aan ons gemaak indien ons Sy rusdag sal gedenk: “As jy nie op die sabbat oortree nie, op my heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die sabbat ’n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie, sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob. Ek, die Here, het dit gesê” (Jes. 58:13-14).


“Die rus van die sabbat word nie verkry deur in ‘n bed te lê en slaap, of in ‘n tuin in die natuur rond te dwaal nie. Elke mens in verhouding tot sy arbeid van die week, het besondere inspirasie en opheffing nodig wat verkry word deur openbare aanbidding van die lewende God in ‘n kerkgemeenskap waar die ware Woord verkondig word” (Henry Ward Beecher).


Gebed: Here, daar is so baie wat U deesdae “vervelig” vind en eerder U verruil vir ander aktiwiteite. Ek bid vir almal wat onverskillig geraak het in hulle geloof en wegbly van die samekomste van die gemeente af. Weerhou my daarvan om meer te dink van myself as aan U; meer ingestel is op gemak en voorkeur as op suiwer woordverkondiging; aanbidding meer ‘n saak van gerief as gewete word; eerder ‘n kwessie van behoeftebevrediging word as diens en ek eerder my Sondag aanwend vir iets anders as om met die bywoning van die erediens, my geloof in en liefde vir Jesus Christus betoon. Vul my hart met U liefde sodat ek waarlik sal liefhê. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page