top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


DIE UITNODIGING VAN JESUS (4)

(Luk. 10:21-22)


I’M NO LONGER A SLAVE TO FEAR, I AM A CHILD OF GOD!


Matt. 11:28-30 – “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”


Vergelyk ook Gal. 5:1 – “Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie.”


Jesus nooi elkeen uit om rus by Hom te kom vind. Jesus wat die volmaakte rus aanbied, gebruik die uitnodigingswoorde wat die enigste keer in die Nuwe Testament gebruik word: “Kom na My toe …” Kom weg van die frustrasie en chaos van die wêreld; kom weg van die moets en moenies van die slim en geleerde mense, trouens, juis van godsdienstige groepe met ellelange reëls en voorskrifte presies hoe God gedien moet word, en kom vind rus in Hom – “Sy juk is sag en Sy las is lig.” Kom plaas jou vertroue in Iemand buite jouself, Iemand wie jy kan vertrou, Iemand wat die boodskap van Waarheid is. Sy Naam is Jesus Christus!


Legende wil dit hê dat Jesus as die seun van ‘n timmerman, en natuurlik Sy vader Josef gehelp het, die beste os-jukke van hout kon maak. Mense het van heinde en ver hierdie jukke by Hom kom bestel, hulle osse gebring sodat Jesus die korrekte mates kon neem om te verseker dat die juk nie die os sou beseer of stukkend skaaf nie, en later gaan afhaal. Bokant die timmermans-winkel in Nasaret het daar in groot swart letters gestaan:


“MY JUKKE PAS DIE BESTE. DIE JUK WAT EK VIR JOU LEWE AANBIED, WORD SPESIAAL VIR JOU UITGEMEET, SODAT JY DIT SONDER LAS OF SKAAF KAN DRA!”


Jesus gee vir Sy volgelinge om. Wanneer Hy ons roep om Sy dissipels te wees, weet ons nou al uit die voorafgaande dagstukke, dat Christen-dissipelskap moeilik is. Dit vra veel meer as wat enige mens uit homself kan gee want dit gaan gepaard met sy eie “bloed, sweet en trane.” Dit is eintlik erger, Jesus vra ons moet bereid wees om te sterf (Matt. 10:39) – sterf in die ou sondige self! Jesus roep ons om ons selfsugtige begeertes af te sweer; Sy wil na te kom; die juk van die wêreld te los en “Sy juk op te neem en van Hom te leer.” Jesus se juk leer vir ons hoe om van ons laste ontslae te raak, die dinge wat skaaf en skuur, laste wat ondraaglik raak. Dit sluit onder andere die sondelas in; die las van hopeloosheid en hooploosheid; die las van skuldgevoel. En bowenal, die las van skeiding van God!


Hoe kan Jesus sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee?” Is dit maar net om ons skrale troos te bied? Jesus weet wat dit is om uitgeput en in pyn te wees want Hy was nie net Goddelik nie, maar volkome mens (Joh. 1:14). Ek glo die beitel het daar in die timmermans-werkwinkel ook soms geglip en Hom beseer. Hy moes seker daar ook lang ure gewerk het en saans moeg en uitgeput tuis gekom het. Maar dan weet ons verseker dat die grootste werk wat Jesus op aarde verrig het, nie daar in die timmermanswinkel was, of selfs die wonderwerke wat Hy verrig het om “blindes te laat sien, lammes te laat loop, melaatses te reinig, dowes te laat hoor, dooies op te wek, en aan armes die evangelie te verkondig nie”. Die grootste werk wat Jesus op aarde verrig het, was om my en jou sondelas op Hom te neem daar by Golgota. Dit is dus nie meer nodig dat ons daardie las self hoef te dra nie, Jesus het ons met Sy kruisiging en opstanding, daarvan verlos.


Jesus nooi vir my en jou uit om ons seerkry-gebeure en laste van terneergedruktheid, stres, depressie, dood van ‘n geliefde, verandering in ons finansiële toestand, ag, sommer enigiets wat ons “uitput en oorlaai”, op papier te plaas, en ‘n tydjie in te ruim om met Hom daaroor te praat. Los dan die lys met die swaardrukkende-juk net daar by Hom. Jesus belowe ons as ons dit doen, “sal Hy vir ons rus gee.” Hierdie belofte was ‘n waarborg wat Jesus met Sy lewe nagekom het. Met Sy dood het Hy sy kruis onder ons laste ingeskuif en álles, op Homself geneem. Hy het met Sy kruis-uitveër, ál ons seerkry en foute reggemaak.


Die Here weet van ons vrese. Ons het Hom mos al baie daarvan vertel en om uitkoms gesmeek. Dit help egter niks om ons probleme na Hom te bring, en dit dadelik weer terug te neem nie. Vertrou die Here en laat Hom toe om jou denke te vernuwe (Rom. 12:2), en jy sal ervaar hoe Sy vrede in jou, jou rus gee, oplossings gee, koers, moed en krag. Geloof en vertroue in Christus, verlos ons van die worstelstryd onder die juk van satan, en plaas ons oor in ‘n ander kategorie, die kategorie by Jesus wat “sagmoedig en nederig van hart is. Dáár sal ons rus kry vir ons gemoed, want Hy belowe ons: Sy juk is sag en Sy las is lig.”


“Ons mag nie verwag om op ‘n verebed in die hemel in te gaan nie. So het ons Here nie daar gekom nie. Sy pad het deur groot lyding en beproewing gegaan. Die kneg kan dit nie beter wil hê as sy Meester nie, tog gee Hy ons die belofte dat Sy juk sag en Sy las lig is” (Thomas Morus).


Gebed: Here, toe ek nog klein was, het ek baie die liedjie gesing: As ek moeg word vir die lewe in die stad ... Later het dit verander na ‘n moegheid wat deur sorge en laste soveel geword het dat ek nie meer weet watter kant toe nie. Dankie my Verlosser en Here, na soveel duisende jare staan U uitnodiging steeds dat ek met blymoedigheid onder U juk kan inbuk en my probleme by U kan afpak. Dankie dat ek my spanning kan verruil vir U las wat sag is en U juk wat lig is, en daar vrede kan vind. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page