top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


DIE UITNODIGING VAN JESUS (3)

(Luk. 10:21-22)


JESUS OPENBAAR SY VADER!


Matt. 11:27 – “My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.”


Jesus gaan voort om die diepe misterie van God se genade wat aan almal aangebied word, te bevestig deur hierdie uitspraak in vandag se vers. Dit wat aan Hom toevertrou is, is nie alleen die kennis wat aan die “eenvoudiges”, of dan die nederiges, openbaar gemaak word dat Jesus die Messias is nie (v. 25), maar ook die gesag om self te besluit aan wie om dit bekend te maak. Dit wat die Vader wil doen, word nou aan die Seun toevertrou. God het dus aan Jesus alle mag gegee en “alles aan Hom toevertrou.” Jesus Christus tree nou op as die gevolmagtigde Verteenwoordiger van God en nooi ons uit om dit gelowig te aanvaar.


Maar meer nog, Jesus spreek dit onomwonde uit dat Hy die Seun van God is – en dit is die kern van ons Christene se geloof. Jesus staan ook in die besondere verhouding tot die Vader dat Hy alleen die Vader ken, en Hom “bekend maak”; net so is dit alleen die Seun wat die Vader kan bekendstel, en Hy doen dit aan “wie Hy wil.” Alle gelowiges is seuns en dogters van God (Joh. 1:12), maar Jesus is “Dié Seun!”


Hierdie kennis is van ’n hoër vlak as énige aardse kennis. Om hierdie waarheid tuis te bring, vergelyk Jesus dit met die verhouding tussen Hom en die Vader. Tussen Vader en Seun bestaan daar volmaakte kennis, gegrond op die allerinnigste band van wesenseenheid. Die mees fundamentele ding in die Christelike geloof is die Vader-Seun-verhouding tussen God en Jesus Christus. “Soos die Vader Jesus ken en Hy die Vader ken”, is die onwrikbare fondament waarop alle ander dinge in die Christelike geloof gebou word.


Johannes die Doper het reeds aan die begin van sy prediking getuig dat Jesus, God se amptelike Gestuurde is, en daarom God se volmag en gesag tot Sy beskikking het (Joh. 3:22 e.v.). As gevolg van die unieke verhouding tussen God die Vader en Sy Seun Jesus Christus, vertrou God vir Jesus met álles. Jesus het dus die algehele beheer oor Sy Vader se koninkryk want “God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking” (Joh. 3:34). Deur die Gees kry Jesus met ander woorde, volle toegang tot die krag van God self! Jesus is dus die enigste betroubare openbaarder van God. Hy ken God die beste en ook die enigste Weg na God toe (Joh. 14:6). Hy ken die weg na God toe, want Hy is die Enigste wat weet waar die hemel is. Hy kom daarvandaan! Wie Jesus verwerp, verwerp God!


Watter implikasie hou dit vir ons aardse mense in? Wanneer ons die getuienis van Jesus gelowig aanvaar, doen ons meer as om net die redding van ons lewe te verkry – deur ons geloof in Christus bevestig ons die waarheid en betroubaarheid van die heilswerk wat God in Christus verrig het. Die mens se geloofskeuse vir Jesus, is ’n getuienis na buite dat God die mens daadwerklik deur genade red. God is dus volstrek geloofwaardig, en daardie geloofwaardigheid word betuig in die koms van die Seun. Elkeen wat glo, weet deur die Gees, met onwankelbare sekerheid dat Jesus se woorde en dade op aarde, die waarheid is. Die ware geloof is gerig op Jesus self, die Seun van God, wat deur die Vader gestuur is om die lewe te bring vir dié wat glo en gelowig bly.


Daar is al baie oor geloof geskryf, maar as ons eerlik met onsself wil wees, is dit iets wat moeilik is om met ons menseverstand raak te vat, bloot omdat geloof deel is van God se genade aan die mens. Geloof is om aan God se beloftes in Sy Woord vas te hou, al word nie een van hulle vir ons waar nie. Geloof is om seker te wees dat God na ons gebede luister, al ontvang ons nie altyd wat ons vra nie. Geloof is om te weet God is almagtig en Hy maak nie foute nie. Francis Bacon het gesê dat geloof nie iets is wat leraars predik of bid nie, maar wat mense beoefen en glo, wat hulle Christene maak.


Geloof kos iets – dit het Abraham baie gekos om gewillig te wees om vir Isak op Moria te offer; Ester die risiko gekos om haar lewe op die spel te plaas om haar volk te red; Daniël ‘n leeukuil en sy drie vriende ‘n vuuroond gekos; Stefanus ‘n dood deur steniging gekos; feitlik al die dissipels ‘n marteldood gekos – Jesus se volgelinge hoef nie te glo wat hulle nie kan sien nie. Ons hoef nie te wonder hoe die Vader in die Seun kan wees nie. Jesus sê: “As ek en jy wil weet hoe God is, hoe God se denkwyse is, hoe God se hart is, hoe God se karakter is – kyk na My!” Ons het nie ander tekens nodig nie! Ons kan maar net kyk wat Jesus gedoen het: Gaan na Golgota en die kruis, Sy opstanding en hemelvaart is genoeg tekens – Jesus is genoeg teken! As God nie by Hom was nie, sou dit wat met Hom gebeur het, nie moontlik wees nie.


“Geloof is nie om te glo dat God sal doen wat jy graag wil hê nie. Geloof is om te glo dat God sal doen wat reg is” (Max Lucado).


Gebed: Dankie Here dat ek vandag die groter prentjie van die Verlossing ken en kan ervaar. Ek hoef nie te wonder oor my geloof nie want deur U genade het ek die gawe van geloof ontvang! My hart is eintlik so sondig dat geen geloof daar kan aard nie maar deur U krag en U Gees wat in my woon, groei my geloof tot die uiterste toe. Here, dankie vir die genade van gebed, liefde, blydskap en geloof, alles afkomstig van U. Hou dit alles asseblief in stand sodat ek standvastig daarin, kan bly. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page